u2019n Knertsie seep per dag verdryf die sorge
u2019n Knertsie seep per dag verdryf die sorge

’n Knertsie seep per dag verdryf die sorge

Des Erasmus
Des Erasmus - Smokin’ Jo skryf nou die dag haar knertsie voor slapenstyd is van die sepies op die kassie. Ek laaik!

‘n Riglyn van die lewe is om matigheid voor oë te hou. Om teen oordadigheid te waak, moet altyd die norm bly, behalwe in die liefde wat uit die hart kom. Maar desedae is dit nie meer so maklik nie. Die oormag is net te groot. In eie kring het Binnelanders en Getroud met Rugby ‘n vastrap- en vasvatplek gekry met die bries van Suidooster wat soms ook stormsterkte bereik. Dis nou nadat die Egoli van ouds die tepel in die dak gesteek het.

Asof ganoeg nie ganoeg is nie, het die realiteitsepies nou ook hul hakskene voor die leunstoel in die voorkamer kom inkap.

Net verlede week was daar eers die geZum van die bye en toe die gedruis van die Valke wat in swermsterkte oor die platdakhuis kom vlieg het. So amper of die een die ander afgewissel het met die Valke wat die bye in hul kas kry waar geen mot of roes verwoes nie. Nog ‘n vasbyter is die wynlose Kaapse droogte wat alles breek en sy oormag kry.

Die ingeburgerde sepies kom met ‘n verdowingsmiddel. Die gerief van die ou sepies is dat jy maar ‘n episode of twee weens diensplig of kragonderbrekings kan misloop, sonder om die verhaaltrant te verloor. Ook daarvoor het ‘n huismaatjie raad. Jy moet die sepies met ‘n ander oog volg. Kyk net na die prentjies en bou jou eie storie.

Dit klink nogal positief.

Vat nou maar die beteuterde Wimpie van Binnelanders. Geboë en verward versinnebeeld hy vir my altyd die strofe van “noem my Mara”. Die oubaas is erg, op sy ergste wanneer hy hom bewoë aan ‘n tranebui oorgee. Dis amper of jy moet opspring vir ‘n sneesdoekie om die nattigheid van die skerm te vee. Kan Okkie hom dan nie maar met ‘n Vrystaatse boerevuis bydam en hom vir eens en vir altyd sy plek laat ken nie. Die moord (?) op Ferdi kon darem ook ‘n bietjie meer bloed laat spat het.

Of vat nou maar die aanvallige Karli wie se grootste skinderstorie is dat sy nie skinder nie. As Tertius haar lankal al spartelend katel toe gesleep het, sou dit die einde van haar geprewel wees. Maar al voel jy soms lus om haar op die skerm met ‘n halfgeëete eierbrötchen te gooi, bly sy ‘n hartsnaar.

En moes Rugby se Blits nie lankal vir Silvia gedruk het totdat haar ribbes kraak en haar oë uitpeul nie? Dis die sepie wat deurspek is van die wyshede wat in sy squattersdae by oom Festus ingemoer en deel van hom geword het. Maar nou slaap hy op die rusbank wanneer hy sy Koekie met een van sy kwinkslae tot orde moet roep.

In die nuwe reekse Zum en Valke word nie gespeel nie. Jy meen dis tyd vir optrede teen die geZoemery, dan het die Valke hoeka van sy maatjies so diep in die kas dat hulle hul brekfis in die aand kry. En vir ‘n volgende aflewering vang hulle nog ‘n paar en jy begin verstaan hoekom die Vrystaatse koeie so bulk.

Maar al die sepies dien as verdowingsmiddel.

‘n Dogter verwys hier in die eerste twee maande van die jaar na “Janu-worry” en “Ferder-worry”. Dis mos die tyd wanneer die Ontvanger ook woelig raak in die Chinese se Jaar van die Hond. Dis nou die maande met 60 dae ná die uitspattigheid van Krismis en Nuwejaar .

Voordat van die sepies die “stage” vat, verskyn die letters PG waarskuwend. Ek het gemeen dit was dalk erkenning aan die skrywer van die teks. ‘n Maatjie sê daarmee word bedoel die ouers moet as gidse vir die kleinspan optree. Amper iets soos ‘n ouderdomsbeperking, iets soos ‘n verbod op onder agts.

Moet dit nie andersom wees nie? ‘n Verbod op kykers ouer as agt jaar? Dan kan van die spruite voor sekere tonele met hul handjies voor hul oë vermanend beduie: “Oupa, moenie kyk nie! Oupa, ogies nou!”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer