'n Koue dag, die verlede en die hede
ETTEBAB SKRYF:
Woensdagoggend is Windhoek koud en sommiges kla, want dis somer, waar kom dié koue vandaan?
En Donald Trump wil nog steeds nie “climate change” erken nie!
Maar hierdie koue oggend neem my skielik terug na my kinderjare en ons kuiers by my oupa-hulle in die Karoo.
Nadat my oupa een dag op sy fiets op pad windpomp toe was en ’n ligte hartaanval moes beleef, was hy verplig om die plaas te verkoop en dorp toe te trek.
Die huis was Rietbron. Rietbron het stil bly staan terwyl die res van die wêreld aanbeweeg het.
Vir ons as kinders was hierdie kuiers ’n avontuur, heel anders as Windhoek.
Die huis was op die rand van die dorp, die tweede huis van die hoek af op die pad na Beaufort-Wes. As jy voor die huis staan, was daar veld voor jou en jy kon ure lank in daardie stuk veld speel en veral die stofwolke van Beaufort-Wes se kant af dophou en weet daar kom ’n kar. Jy kon daardie stofwolk al van baie vêr af sien en dan raai watter tipe voertuig dit gaan wees en watter kleur.
In daardie stuk veld voor oupa se huis was daar net Karoo-bossies en baie bantamklippies en die oop vlaktes.
En in die aand was daar die windjie, soos wat ons Woensdagoggend beleef het.
RIETBRON SE MELKBOKKE
Soggens het die skaapwagter verby gekom om Rietbron se melkbokke vir die dag veld toe te vat – ja, elke dorpshuis het sy paar melkbokke gehad.
Oupa Pistool het by elke huis die groothek oopgemaak en die bokke het hom gevolg.
Namiddae het hulle weer uit die veld teruggekom (daarom die foto van die bokke, dis nie net sommer bokke in die straat nie) en by elke hek het elke huis se bokke self voor hulle hek gaan staan om ingelaat te word. Oupa se bokke was eerste in die oggend; laaste in die namiddag.
Die bokke het self na hul kraal gestap en vir oupa gewag om hulle te kom melk.
Oupa is met die blikemmer kraaltjie toe met ons agterna. As kinders was dit vir ons fassinerend dat oupa die melk so kon laat “uitskiet” in die emmer dat dit eintlik skuim.
Die warm bokmelk word kombuis toe geneem en dan op ouma se koolstoof warm gekook en in emalje emmertjies met deksels gegooi. Ons kry elk ons emaljebekertjie met bokmelk. Jy wag tot daar ’n velletjie vorm en die lek jy met absolute genot met jou tong af en dan drink jy jou bekertjie bokmelk. Vir ons as kinders was bokmelk baaaaaaaie lekkerder as Windhoek se beesmelk in glasbottels.
Ouma se koolstoofbrood was groot brode. Warm uit die oond, het Ouma se regte, tuisgemaakte botter op die sny brood gesmelt.
HUISREËLS EN BOEKEVAT
Ouma was altyd in ’n swart rok geklee en het met ’n kierie geloop. Sy het ’n grys bolla gehad en het nie nonsens gevat nie. Ek dink nie ek het my ouma ooit hoor lag nie.
Die vloere het tapyte op gehad. Geen besem was gebruik nie. Die vloere is met ’n verestoffer gevee en jy moes sorg dat jy jou voete goed voor die sifdeur van die lang stoep afvee. Ouma wil nie stofspore op haar tapyte sien nie.
Die kombuis se tapytvloer was al bietjie deurgeloop, maar van die gang af, was dit spiekeries en blink.
Daar is in die spens geëet, nie in die kombuis nie. Die kombuis was vir kos maak en dit was dit.
In die spens was ’n groen geverfde kas met rakke bo en deure onder. In die rakke was bottels en bottels vol ingelegde vrugte.
Na ete word die eetgerei deur die venster op ’n tafel gesit. Daar was geen opwasbak nie. Die skottelgoed is in ’n groot emaljeskottel gewas op die buitetafel.
Saans na ete moes ons sitkamer toe vir boekevat.
Daar was ’n windlaaier langs die huis, maar elektriese ligte is net vir spesiale geleenthede gebruik. Boekevat en gaan slaap was met lampe.
Terwyl oupa uit die Bybel lees, hoor jy as kind geen woord nie, want jy luister na die horlosie op die “sideboard” se getik en bestudeer die skaduwees teen die mure. As dit gebid word, moes ons op ons knieë voor ons stoele kniel. Net ouma het op haar stoel bly sit.
Terwyl oupa ernstig bid, is dit maar moeilik vir ’n kind om so lank toe ogies te kniel. Baie gou het jy alle soorte truuks met jou vingers begin doen, maar altyd reg om “amen” te sê as oupa uiteindelik “amen” sê.
Dan is dit met olielamp kamer toe en slaaptyd. As dit donker is, is dit slaaptyd.
Die huis het skuiframe gehad. Jy maak baie seker dat die boonste raam bietjie afgeskuif word. Die onderste een moet af bly!
As kind loer jy eers ook onder die ysterbed om seker te maak daar kruip nie iets onder die bed weg nie, voordat die lamp afgedraai word In die nag moet jy ’n flitslig gebruik as jy die koos onder die bed moet gebruik, want daar is nie ’n toilet nie.
In elke kamer was ’n wastafel met die mees fassinerende teeltjies en die mooiste vir my was die wasskottel en wasbeker van emalje met blomme op en die beste van alles - die koos het by die stel gepas!
ADOONS EN DIE GEITJIES
Alhoewel daar ’n toilet in die huis was, was dit net vir wanneer die dominee huisbesoek kom doen. En vir ouma.
Vir die res van ons was dit die klein geboutjie op die verste punt van die erf, met die houtbankie met die gat in, die Landbou Weekblad, en geitjies.
Wanneer ’n mens die kleinhuisie besoek, was daar op die bankie, ’n klompie Landbou Weekblad tydskrifte een kant. Jy kon alles lees omtrent boerdery as jy wou, maar eintlik was dit daar as toiletpapier. Dit word in handgrootte geknip vir ander doeleindes as lees.
Vir ons as kinders was strokiesprentstories van Adoons-hulle die belangrikste. Bobbejane in klere wat soos mense leef, was nie iets wat mens aldag sien nie.Adoons-hulle was ernstige leesstof vir ons as kinders.
Geitjies het ook van hierdie geboutjie gehou en as jy ’n fobie het vir klein diertjies, moes jy baie seker maak daar kruip nie dalk een weg voor jy jou sit kry met Adoons-hulle nie.
WATER HAAL
Langs die huis was ’n sinktenk om reënwater op te vang, wat skaars was.
Saam met Ai Kaaitjie moes ons die ent stap om in emmers water te gaan haal by die dorpsdam langs die NG kerk. Daardie water is brak.
Dam toe was nie ’n probleem nie, maar met ’n vol emmer terug huis toe was ’n ander saak.
Onthou: ouma vat nie nonsense nie. Met brak water word daar gekook.
In die kombuis op ’n bankie was daar twee groot blikemmers met brakwater en een middelslag emmer met reënwater. Jy moet vir drinkwater die brakwater en reënwater meng onder ouma se streng toesig.
Oupa het van Lyles stroopblikke as skepbekers gemaak. Elke skepbeker het by sy emmer gehang. Jy kon nie sommer met dieselfde beker skep nie, want dan besoedel jy die reënwater.
DIE LEIDAM
In ons kinderdae was daar ’n radio en dit was dit. Geen TV nie, geen selfoon nie, geen rekenaars nie.
O ja, die telefoon in ouma se huis was nog ene waarvan ’n mens die slinger draai en by die sentrale die nommer versoek van die persoon met wie jy wil gesels.
Daar was geen oomblik van verveeldheid nie, want buite is dit veilig. Die aarde is plat, jy kan gaan speel net waar jy wil, nadat jy natuurlik jou ma ingelig het wat jy van plan was om te doen.
Ons het leidam toe gegaan. Dit was te vlak om in te verdrink, maar daar was paddavissies in en krappies so groot soos ’n mens se duimnael. Ons het ure gespandeer om daardie paddavissies en krappies te vang. So het ons geleer hoe paddavissies skielik agterbeentjies kry en die stertjies korter word en dan raak jou paddavissie ’n klein paddatjie, wat ook gevang moet word. Hierdie klein paddatjies was nie veel groter as die krappies nie.
Ons was nooit wreed nie. Nadat ons gekyk het wie het vandag die meeste, word hulle vrygelaat sodat ons môre weer die spel kan herhaal. Dis nou te sê as oupa nie dalk more Willowmore toe moet ry en ons kan saam gaan nie.
Willowmore toe was spesiaal, want dan sien ons Angorabokke langs die pad. Oupa het op sy plaas Merino-skape gehad vir hul wol.
KOUD IS DIE WINDJIE, EN SKRAAL
Daardie koue briesie van Woensdag het my gedagtes ver weg geneem en ek het daardie koue lug diep ingeasem.
Dit het my toegevou in die verlede wat so omgekompliseerd was, al het mens nie alles gehad nie.
Toe krap my hondjie teen my been vir aandag en ek word teruggeruk na vandag met sy wreedheid teenoor diere, sy wreedheid teenoor sy eie soort wat elke dag in die koerante berig word, na die lelike kant van die mens wat een doel voor oë het naamlik om die aarde, die natuur, die diere en homself te vernietig.
En skielik is die koue in die lug maar net die werklike koue in die wêreld, van die wêreld. Weg is die oop veld en terug is die elektriese heining en hoë mure.
“Kom my hondekind, kom ons gaan maak julle kossies”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie