'n Leeftyd lank is ek op reis
‘n Leeftyd lank is ek op reis
in hierdie skip van been en vleis
Gewoonlik is dit padlangs –
uit die Kaap, deur die Karoo –
maar word my kompas woorde,
swaai die roete skielik inwaarts;
reis ek hartlangs so na Bo. – Coenie de Villiers
Met ‘n grootse verlange na ‘n ruimte buite ‘n koue huis sonder ‘n uitsig op ‘n berg of boom, begin dwaal ek op die internet op soek na die regte woorde om die wanderlust in my te probeer hokslaan. Juis nou wat dit voel asof beweging beperk is tot huis, werk en winkel, voel dit asof die wye wêreld daar buite soos ‘n magneet aanhou trek.
Ek beland op ‘n webtuiste, weliswaar vir joga en alle posisies en klerasie wat daarmee gepaardgaan, wat uiteindelik dit die beste beskryf wat ek so moeilik vind om te sê.
Wanderlust beteken die verlange om te reis, lui dit in Nederlands.
“Het is een diepe ongecontroleerde behoefte om je spullen te pakken en de natuur in te trekken.” Sela
Dae langer as weke terug val ons in die pad. Rigting suid waar die vlaktes bloots lê en die kleure in pastel op duine en kliprantjies speel.
Af met die Kupferbergpas, links afdraai in die rigting van Namib Grens en Nauchas. Tien kilometer en ‘n bietjie meer voor die Spreetshoogtepas op die D1275 draai ons af by die Mele-padstal, presies 164 km van Windhoek sê eienaar Sonja.
Gewapen teen die honger met hompe biltong en droëwors kronkel ons Spreetshoogte af in die rigting van Camp Gecko.
By Solitaire is die gebruiklike gemaal van mense, busse en bakkies beperk tot die enkeles wat by die vulstasie aandoen. Die bakkery se deure is toe, maar ‘n klein karavaan se spyskaart sê jy kan steeds, al is dit op kleiner skaal, jou dors en honger hier les. By die tafeltjie in die hoek sak ‘n swerm voëltjies sonder enige vrees op die soet varkoor in die kleinbordjie toe. Wanneer ‘n hand hulle verdryf om ook te kan hap, gaan sit en wag hulle geduldig in ‘n klein verewolk skuins anderkant die tafel, net om weer ‘n kans te waag bord toe as ‘n krummel of twee agterweë bly.
Verby Solitaire kom die rooisand van die duine op die soom van die pad nader. Die pad glad geskraap en dit is duidelik in die tyd van die virus met sy grendels op reis, is dit min deurtrap.
Sesriem se kloof verby tot by We Kebi waar die renosters naby die voorstoep peusel en lui-lui die donkerte instap.
By Desert Hills maak die rondawels se grasdakke wat boontoe ‘n bolkeil vorm, dit binne koel en klam. Vanuit jou bed sien jy van links tot regs net eindelose berge wat sag verkleur soos die son sak. Die aand hang die maan halflyf en op sy rug soos ‘n goudgeel kommetjie.
Terug na die stad met sy maskers en eindelose handewasrituele kronkel die pad Gamsberg se rigting, verby valleie van duisend heuwels en berge wat swartgrys in die middagson glim. ‘n Springbok mik oor ‘n draad en hang vir ‘n sekonde of wat in ‘n perfekte en grasieuse strek voordat hy aan die anderkant beland. Sebras se strepe in die verte, gemsbokke se horing wat spits teen ‘n sonsondergang, gompoue wat saam-saam oor die stofpad skarrel.
Vir nou onthou ek die kleure en die ruik van droë gras en soms wit en ander kere rooi stof. Mag die pad my weer lei. . .
“Mag die pad jou weer lei
na waar ‘n ooste vlam
al langs die buitelyne van vergeet
waar hane die sterre troos
en blaasorkeste speel
in binneplase van die hart.
Dankie vir die oopvou
van die berg se opgebergde stiltes.” – Breyten Breytenbach

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie