u2019n Leeftyd se ongehuilde trane en woede
u2019n Leeftyd se ongehuilde trane en woede

’n Leeftyd se ongehuilde trane en woede

Denver Kisting
My oorle oumagrootjie was ’n dierbare vrou.

Só kosbaar dat sy ure voor haar heengaan op 84 nog ’n paar van haar agterkleinkinders se skoolskoene poleer het vir die volgende dag se omstap skool toe.

Sy was veral mal oor die mans en seuns van haar nageslag en het ons skaamteloos voorgetrek.

Maar sy het ongelukkig uit ’n era gekom waartydens geykte – en diep problematiese – geslagsrolle die reël was. Van uitsonderings was daar geen sprake nie.

Sy het my baie vroeg laat verstaan: Oor ’n man se wange mag géén traan biggel nie.

Trouens, ek dink dié ferm vermaning het een oggend gekom toe sy in die verbyloop ’n dreigende traan in my ooghoek waarneem.

Haar presiese woorde ontgaan my nou ná 30 jaar genadiglik.

Die strekking was egter ondubbelsinnig: Mans huil nie!

Al opsies wat ek, van meet af ’n fyn besnaarde klong, toe in daardie oogwink gehad het, was om maar te sluk.

’n Hartsmens, ook ’n ouma(grootjie)keent, onthou hoe ook hý nie toegelaat is om te huil nie – veral nie in die openbaar nie.

Sedert sy terugkeer Namibië toe ná tien jaar in progressiewe Hamburg moes hy al neffens twee oop grafte in Rehoboth se begraafplaas staan. (Want dis wat ons élke naweek op Rehoboth doen.)

Hy vertel, hoeka op pad na dié stofdorpie toe, hoe verstom hy is oor hoe daar by begrafnisse omvattend, uitgebreid en luid geween word.

“Dis seker omdat ek nie toegelaat is om te huil nie wat dit my só afsin maak,” is sy introspeksie oor hoekom ander se (openbare) droefnis hom so grief.

“So, wat gaan gebeur as jou lewensmaat of jou 94-jarige moeder eendag tot sterwe kom? Sal jy nie dan huil nie?” krap ek.

Hy sál, seg hy. Maar in sy binnekamer. Privaat. In die openbaar mag mens net baie stemmig die bietjie vog wat onder jou sonbril verskyn met ’n snesie wegpad, vertel hy.

Ek sit en skenk op dié grou Augustus-oggend aan dié skryfsel geboorte met ’n kloppende, potpers vinger. Elke keer wat my regtermiddelvinger per ongeluk die sleutelbord tref, swets ek. Lelik, maar nie luid nie. Die sterk pynmedikasie verskaf ’n welkome high maar verdoof nie die pyn nie. Wel, nie genoeg nie. Dis ’n moeilike geboorte, dus.

Nadat ek en my Google-hondemensie ons gebruiklike 6 km kafgedraf het, het ek dié middelvinger amper in ons hek geamputeer.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek soveel fisieke pyn beleef het nie.

Wel, ek jok. Ek kán onthou. Dit was in Maart vanjaar toe ’n Otjiwarongo-dokter in sy spreekkamer onder té min lokale verdowing my ringvinger se nael onseremonieel uitgepluk het. Ek het ’n volle drie keer tydens daai 120 sekondes baie mense se gunsteling- f-woord uitgeskreeu. Soos ’n meisie.

(Oor die simboliek agter die twee geraakte vingers gesels ons eersdaags, belowe.)

Ná die amperamputasie het ek in my bed gaan lê en gehuil soos ’n meisiekeent. Lekker rou, diep begrafnissnikke.

Kwalik drie maande gelede moes ek bykans van die einste Windhoek-Rehoboth-pad aftrek. Hoeka óók op ’n Sondagmôre.

Daai oggend nog wonder ek in die stort hoekom ek só sukkel om te huil. Die universe – met ’n kleinletter-u – in wie ek glo, het ’n lieflike sin vir humor.

’n Ander hartsmens trek terug Kaap toe ná vyf jaar in Windhoek, Google word – ook ná ’n 6 km – amper in ’n (ander) huishek doodgedruk en ek word bo my kragte getoets met ’n f-woord pap band.

Toe word die spreekwoordelike sluise van my traankliere se Oanobdam oopgegooi.

Ek ween toe soos ek nog nooit spooknugter as volwassene kon bemeester nie. Heerlike, genesende, intense snikke.

’n Paar aande gelede sou ek ’n oudklasmaat te lyf gegaan het as ek naby hom was.

Hy vertel, knuppeldik geëet aan pap en lewer wat sy ma geurig voorberei het, hy gló in tradisionele geslagsrolle. Mans is nie vroue nie en vroue is nie mans nie. Om ’n manlike man te wees, is ’n daaglikse lewensending, seg hy.

Ek sal later moet sê hoekom dít my so bloedig kwaad gemaak het, maar hiermee volstaan ek: Ek is dankbaar dat ek uiteindelik man(s) genoeg is om ’n leeftyd se ongehuilde trane en woede te vier en opbouend aan te wend.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!