’n Leeftyd se plaastonele
Een van Namibië se bekendste kunstenaars moes sy werk in ’n tas vol klere, waarvoor gebid is, Duitsland toe vervoer.
Tanja Bause – In ’n klein eenvertreksinkhuis in Katutura sit een van Namibië se bekendste kunstenaars op sy bed en gesels.
Paul Kiddo (70), wat vir sy plaastonele bekend is, is op Bethanie gebore.
“Ek onthou my oom was baie skeppend met sy hande. Hy het ’n donkiekar van hout gemaak en perde van klei. Die tooms was van leer, soos dit in die regte lewe gelyk het,” sê Paul.
Hy was op Walvisbaai, Okahandja en Windhoek op skool en het elke geleentheid wat hy gekry het, gebruik om Suide toe te gaan na sy oupa se plaas toe.
Hier was hy in die natuur op sy gelukkigste, sê hy.
“Die natuur was diep in my hart. Ek het dit van kleins af in my binneste gehad, maar nie juis aan skilder gedink nie. In 1997 het ek as verwer in Windhoek gewerk. Ek het oorskietverf gevat en op plat klippe begin verf. Daai tyd is die Soweto-woonbuurt se strate geskraap en ek het plat klippe gevat, skoon gewas en begin verf. Ek het my gedagtes en gevoelens oor die natuur laat uitkom,” sê Paul.
Hy vertel voor sy huis was ’n busstop en mense wat hier gestaan en wag het, het die beskilderde klippe in sy rotstuin altyd hier staan en bewonder.
Dit het hom aangespoor om sy werk te bedank en as kunstenaar ’n bestaan te probeer maak.
“Die klippe is natuurlik mettertyd snags uit die rotstuin weggedra,” lag hy.
Paul het eers op hardebord en toe op doek begin skilder, en verkies doek.
“Ek is ’n fyn kunstenaar en dalk is daar nog in Namibië, maar beslis nie soos ek nie. Ek het myself geleer om te skilder. Niemand het ooit ’n kwas in my hand gesit en gesê jy moet dit só vashou of só maak nie. Niemand het vir my gesê as jy dié kleur met dié kleur meng, sal jy dít kry nie – ek het dit self uitgevind. Ek is so gebore met die geskenk van die Here,” sê hy.
Paul het natuurtonele en diere geskilder, maar het bekendheid vir sy plaas- en sjebeentonele verwerf.
“My gunstelingtonele is die woestyn, waar dit stil is en waar jy God se skoonheid kan sien en sy handewerk ervaar en herken. Ek het met plaastonele begin omdat ek mense die plaaslewe wou wys, en nou ken almal net die plaastonele.
Kuns te voet verkoop
“Ek het altyd by die busstop op die dorp met my skilderye gewag dat die bus met toeriste kom. Hulle was die mense wat heel eerste van my skilderye gekoop het.”
Paul sê hy het ook dikwels van huis tot huis geloop om sy werk te verkoop en sy brood so te verdien.
“Ek het my werk aan huisgesinne en besighede probeer verkoop. Ek het geloop omdat dit nie sin maak om ’n taxi te vat, een skildery te verkoop en weer geld op ’n taxi uit te gee nie. En jy mis dalk ’n moontlike koper as jy in die voertuig sit,” sê hy.
So het Paul sy werk te voet verkoop tot die Nasionale Kunsgalery sy werk begin verkoop het.
“Hulle het dit ook in hul koffiekroeg verkoop, maar dit het ongelukkig gesluit,” sê hy.
Daar is steeds toeriste wat Paul in Katutura besoek om sy skilderye te koop. Enkele winkels in Windhoek verkoop nog sy werk, sê hy.
“Ek skilder ook volgens mense se spesifikasies. Daar was byvoorbeeld een man wat ’n ou, vervalle gebou met die nuutste voertuigmodel voor dit geparkeer, gesoek het. Dit het my kunstenaarskop heel deurmekaar gemaak, want ’n ou gebou soek ’n ou voertuig. Maar ek het dit geteken en die man was tevrede,” sê hy.
Uitstallings in Duitsland
Paul sê hy droom nog altyd daarvan om Duitsland toe te gaan.
“My kunswerke het dié droom waar gemaak en ek het al drie uitstallings in Duitsland gehad,” sê hy.
Paul onthou hy het op 60-jarige ouderdom in sy dokter se spreekkamer gesit toe hy die oproep van Imke Rust kry wat hom Duitsland toe nooi.
“Ek was stomgeslaan en opgewonde. Ek het 35 A4-skilderye en 15 A3’s geskilder om saam te vat. Ek het myself doodgewerk en dag en nag geskilder.”
Dié werke het hy tussen die klere in sy tas Duitsland toe vervoer.
“Ek het die koffer na die pastoor gevat en sy en haar dogters het vir my en die koffer gebid. Ek was uitgevat in ’n wit broek, wit skoene, ’n wit hoed en pers hemp toe ek op die vliegtuig klim. Ek, my koffer en skilderye het veilig in Duitsland aangekom en ek het almal daar verkoop,” sê hy.
Met sy eerste besoek aan Duitsland het Paul vier maande daar aangebly en met sy tweede besoek twee maande.
In 1992 het hy sy eerste solo-uitstalling in Windhoek gehou en tot verlede jaar het hy gereeld in Windhoek, Omaruru en Swakopmund uitgestal.
In 2017 het hy die toekenning vir lewenslange prestasie by die Bank Windhoek-triënnale ontvang.
Beroerte
Verlede jaar het Paul ’n ligte beroerte gehad wat sy sig aangetas het.
Hy kon vir vyf maande nie skilder nie. Vanjaar het hy drie maande lank nie geskilder nie.
“Ek raak nou oud en die jare se fyn skilder het my oë aangetas, soveel dat ek nou ’n bril benodig om te skilder,” sê hy.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie