'n Leeftyd van omgee, liefde
Vandat hulle ontmoet het, het die twee onafskeidbaar gebly.
Tanja Bause – Die resep vir 'n 65 jaar lange gelukkige huwelik, is liefde vir mekaar, verdraagsaamheid, vertroue in mekaar en om die Here se hand vas te hou.
Dit volgens ouma Dorothea (87) en oupa Pieter (91) van der Merwe van Outjo, wat op 12 Februarie vanjaar hul 65ste huweliksherdenking gevier het. Almal verwys liefdevol na hulle as ouma Dottie en oupa Pierre.
Hulle het mekaar vir die eerste keer in Bonnievale in die Kaap ontmoet.
“Ek was net klaar met skool toe ek hom ontmoet het. Ek het van die begin af van hom gehou en hy van my,” het ouma Dottie gesê.
Ouma is in Bonnievale gebore en het daar grootgeword. Oupa Pierre is op Otjiwarongo gebore en het in die bank gewerk het. Hy is Bonnievale toe verplaas en het daar in ouma Dottie vasgeloop.
Hy is kort daarna Sasolburg toe verplaas en ouma Dottie, wat by 'n prokureursfirma op Bonnievale gewerk het, het in Vereeniging gaan werk soek.
“Dit was natuurlik agter die kêrel aan. Sasolburg en Vereeniging is baie naby aan mekaar en hy kon naweke vir my kom kuier,” het sy gesê.
Oupa Pierre is menigte male deur die bank verplaas, insluitend Windhoek toe.
“Hy het 44 jaar en sewe maande in die bank gewerk. Hy het later 'n inspekteur vir die bank geword en ek het saam met hom gery en banke gaan inspekteer. Ons was altyd saam; ons het alles saam gedoen.”
So het Oupa vir hom 'n plaas ongeveer 30 kilometer buite Outjo gekoop en ná sy aftrede voltyds begin boer.
“Hy het op die ouderdom van 89 nog elke tweede dag uitgery plaas toe om te kyk dat alles glad verloop. Hy het elke Maandag, Woensdag en Vrydag die 30 km uitgery, met sy kospakkie wat ek vir hom pak, 'n kan koue koffie, twee hardgekookte eiers, 'n rou wortel, vrug en 'n toebroodjie. Nooit vleis nie, want hy sê dit maak hom dors. In die aand het hy weer teruggery om by my te wees en by sy huis te slaap. Hy het so 'n paar maande terug nog tralies vir sy bakkie gesweis en hy bestuur nog sy bakkie.”
Die egpaar het 25 jaar gelede 'n huis op Outjo laat bou waarin hulle nou nog woon. Oupa Pierre doen nog steeds sy eie boekhouding en hy help selfs ander afgetredenes in die dorp met hul boeke.
Ouma Dottie het daarvan gehou om haar klere self te maak en borduurwerk en kruissteek te doen. Sy het 'n kunstige hand as dit by 'n naald en gare kom.
In haar werkende dae het Ouma Dottie sekretariële of kantoorwerk gedoen.
“Ek het probeer om net in die voormiddae te werk omdat ek graag in die namiddae by my kinders wou wees. Ek en Pierre het meer as sewe jaar gewag voor ons met ons eerste seun geseën is. Daarna het ons 'n dogter gehad. Die geboorte van ons twee kinders was die hoogtepunte van ons lewens.
“Ná soveel jare was dit 'n wonderwerk dat ons hulle kon kry,” het ouma Dottie gesê en ná 'n kort stilte het sy oor haar laagste en moeilikste punt in haar en oupa Pierre se lewe gepraat.
“Die skielike en onverwagse dood van ons seun Petrus vroeër vanjaar was die laagtepunt van ons lewe.
“Hulle is veronderstel om jou te begrawe en nie andersom nie. Ons is mos oud en moet eerste gaan. Niks kan 'n mens seerder maak as die dood van jou kind nie.”
Ouma Dottie sê hulle is bewus dat hulle bevoorreg is om so lank al bymekaar en gesond te wees.
“Dit gaan alles oor die liefde vir mekaar, verdraagsaamheid, in die Here glo en Sy hand vashou, mekaar ondersteun en vertrou. Natuurlik is daar soms oomblikke wanneer jy vir mekaar kwaad is, maar vergeet daarvan en konsentreer op die goeie tye saam.”
Die liefde en respek wat dié twee mense steeds vir mekaar het, is binne een jaar twee keer bewys toe ouma Dottie geval en in die hospitaal beland het.
Sy het verlede jaar die eerste keer geval en haar bekkenbeen op twee plekke gekraak.
In Mei vanjaar het sy weer geval en dié keer het sy haar heup gebreek en is weer hospitaal toe.
“Pierre het gereël dat my dogter, Madeleine, hom elke dag om 08:00 by die hospitaal aflaai. Daar het hy die hele dag by my gesit en my opgepas totdat hy in die aande weer opgelaai is. Ek is seker dit was nie vir hom maklik nie, maar dit is hoeveel ons vir mekaar omgee.”
Ouma Dottie het vinnig van haar laaste val herstel en is ná vyf dae uit die hospitaal ontslaan. Vandag loop sy weer gemaklik rond, met steun van 'n loopraam.
Oupa Pierre het al albei sy heupe laat vervang en op sy 80ste verjaardag het hy nog 'n draai op 'n fiets gery, net om te wys hy is beslis nog nie té oud nie.
ONAFSKEIDBAAR
Oupa Pierre het uitgewerk dat hy en ouma Dottie gedurende die jare wat hulle saam is minder as twee maande in totaal weg van mekaar af was en dat hulle oor die laaste 65 jaar ongeveer 23 700 keer saam hul bed opgemaak het.
“Ek was een keer vir drie weke oorsee en hy kon nie saamgaan nie. Dan was daar ook die twee keer wat ek nou in die hospitaal was. Maar ek sou sê dit is beslis minder as twee maande,” vertel ouma Dottie laggend.
“As Pierre dorp toe gaan, dan soen hy my totsiens en wanneer hy van die dorp terugkom, dan soengroet hy my weer. Dit is iets wat hy nog altyd gedoen het en steeds doen.
“Ek is baie lief vir hom en het nou die dag vir hom gevra: 'Weet jy ek is baie lief vir jou?' Hy het geantwoord: 'Ek is net so lief vir jou.'”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie