'n Lentebrief vir al ons vroue
'n Lentebrief vir al ons vroue

'n Lentebrief vir al ons vroue

Mandy Rittmann
REINHARD VAN WYK SKRYF:

Dis 'n baie mooi dag vandag. Die son skyn helder, die voëls se sang bring my in vervoering, want vandag voel ek so spesiaal.

Die Here het vir ons 'n maatjie gegee en dis 'n vrou, want Hy het gesien die man alleen sal nie hierdie aarde kan bewandel nie.

Hooglied besing die vrou se skoonheid, selfs in Spreuke word dit besing.

Dis met 'n hart wat blom soos die eerste lentedag se bloeisel dat ek my pen opgeneem het om die vroue oral te besing. 'n Vrou is 'n gawe van God, sy is immers aan ons geskenk met die doel om haar lief te hê, te waardeer en elke dag spesiaal te laat voel.

Nie om haar te mishandel, te vermoor en minderwaardig te laat voel nie, maar om haar altyd veilig te laat voel en te beskerm teen die storms van die wêreld daar buite. 'n Dame is ons alles, sy is die steunpilaar en anker van elke man, seun en dogter.

Sy's dié lelie tussen dorings. Haar skoonheid prikkel 'n man se hart. Sy is beminlik mooi, of sy nou oud of jonk is. Haar skoonheid het geen einde nie.

Om 'n vrou onverwags te komplimenteer laat haar bloos van blyd­skap, want jy sien haar raak.

Ek as man, sak my hoof in skaamte oor mans wat ons vrouens vermoor, mishandel en seer maak. Waarom moet ons die brose vrou, wat soveel liefde gee, so vernietig?

As ek vandag op miljoene plekke kon wees, sou ek elke vrou 'n drukkie gee en sê die Here is met jou; Hy dra jou pyn en God sal jou trane afvee. ­Onthou, die Here dra saam met jou daardie seer wat jou skouers so laat hang en jou oë so laat verdof van trane.

Maar ek is maar net 'n gewone ou.

Aan al die mans: Kom ons waardeer en respekteer ons dames. 'n Drukkie, 'n blom, 'n geskenkie, 'n sjokolade so nou en dan. Maak tyd vir jou dogter, jou vrou, jou ma en jou ouma.

Elke dag sien ek 'n vrou met seer in haar oë; wil haar 'n drukkie gee en bemoedig, maar ek kan nie, want ek is vreemd. Was ek 'n ryk man, sou ek 'n waardevolle fees gereël het in September - vir alle dames, en elkeen 'n bos rose gegee het en 'n geskenkie as waardering van ons mansgeslag.

'n Vrou is mooier en mooiste as sy bloos en van geluk en vreugde straal. Dis 'n bonus daardie skaterlag, wat die oë ook saam laat lag.

Wanneer 'n vrou seer kry, kry ek ook seer. Dis immers danksy 'n dame dat ek nou my pen kon opneem en skrywe.

Ek is 'n alleenloper. Ek is nie mooi nie, lyk nie soos 'n filmster nie, besit nie 'n motor of miljoene in die bank nie, dra nie ontwerpersklere nie. Ek besit net 'n blou sweetpakbroek met 'n wit streep, maar ek is lief vir myself, want die Here het my geskape met my eie aantreklikheid en dis my trots. En ek kan hope liefde bied.

Ons mans moet met ander oë na dames kyk. Spreek woorde van waardering, gee volop liefde, aandag, drukkies en soentjies. Moenie 'n vrou afkraak met woorde of haar seermaak nie.

Dames, elke glimlag wat julle gee, ek waardeer dit. Elke woord van raad, dankie daarvoor.

Ek wens al die dames 'n geseënde lentemaand toe.

Onthou, as dinge te veel raak, gaan op jou knieë. God sal luister, antwoord en jou gebroke hart heel maak.

Die liefde bring lig en warmte in 'n donker, eensame kamer. Dis mooi en dit vergaan nooit, dit verlig ander se lewens.

Wees altyd sagmoedig, vriendelik en bedagsaam. Dit versterk bande.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer