'n Lewe lank in diens van God, medemens
Die versorging van verstote, gestremde kinders in Oezbekistan was maar 'n deeltjie van haar verhaal van roeping.
Tanja Bause – “Jy sal nooit te oud wees om nog 'n doelwit te stel, of om 'n nuwe droom te droom nie.” Dié is woorde wat Monika Barnard (62) reeds haar hele lewe uitleef.
Sy is in Windhoek gebore, waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het. Nadat sy en Kobus in die huwelik getree het, het die paartjie eers Kaapstad toe en later na Pretoria getrek.
“In 1992 het ons die roeping gekry om terug Namibië toe te kom om evangelisasiewerk onder kinders te doen. Ons was verbonde aan die NG kerk in Okahandja, waar ons vir sewe jaar as jeugwerkers gewerk het.”
In 1998 het Kobus 'n gesprek gelei met mense wat in Oezbekistan by 'n weeshuis werk.
Monika vertel: “Ons was die Sondag in die kerk en het albei, hoewel ons nie langs mekaar gesit het nie, die gesprek gehoor. By die huis aangekom, het hy my gevra wat ek oor die gesprek dink. Ek het geantwoord, sê jy maar, en hy het gesê ons moet gaan. Ons was reeds besig om ons twee kinders tuisonderrig te gee en in 1998 het ons almal gegaan.”
Die egpaar het opleiding in Worcester in die Wes-Kaap ontvang voordat hulle na Tashkent, die hoofstad van Oezbekistan, verhuis het.
“Daar was 'n kinderhuis met sowat 300 kinders wat weens die ramp by die Tsjernobil-kernkragstasie met verskeie gestremdhede gebore is. Die kinders is deur hul ouers op die asgate weggegooi en die weeshuis het hulle gaan haal en versorg. Ons het ses kinders gehad vir wie ons opleiding gegee het.”
Die familie het in 2001 net voor die val van die Twin Towers in Amerika teruggekom, omdat die kinders klaar met skool was en hulle die pad vorentoe wou beplan.
“Met die val van die torings het die geldeenheid so verswak dat dit nie meer vir ons moontlik was om terug te gaan nie.”
PLANT
Monika het 'n baie nou verhouding gehad met haar ouma, wat op 'n plaas in die Hochfeld-omgewing geboer het.
“Ek was elke vakansie by my ouma en deur haar is die saadjie vir plant by my geplant.”
In 2011 is Kobus oorlede. Die egpaar het die voorafgaande vyf jaar op 'n plaas by Hochfeld geboer.
“'n Vriend het my ouma se plaas gekoop en vir ons 25% aandele gegee en ons het gaan plant. Ons het alles moontlik geplant en elke week aan die groot pakhuise en winkels een ton groente gelewer.
“Ek sê nou nog dat daai my indiensopleiding was en dat ek vandag vir ander mense leer wat ek daar en in Malawi geleer het.
“Nadat Kobus oorlede is, het ek gedink my lewe is nou ook verby, totdat die Here vir my gesê het Hy het nog baie planne.”
Monika het aan die einde van daardie jaar terug na Okahandja getrek waar sy vir drie jaar weer met dié kleuterskole en juffrouens gewerk het soos tevore voordat sy Oezbekistan toe was.
“Kinders en kleuterskooljuffrouens was nog altyd baie na aan my hart, veral in gemeenskappe wat nie die geleentheid het om verder te gaan leer nie.
“Ek het byvoorbeeld die juffrouens geleer om opleidingsmateriaal van herwinbare materiale te maak pleks daarvan dat hulle duur opleidingsmateriaal moet aankoop.
“Ek het vir hulle 'n kurrikulum geskryf. Dit gaan vir my om die juffrouens te bemagtig. Die vroue is nie onderwyseresse nie, maar hulle het sulke groot harte dat hulle kinders in die kleuterskool sal toelaat net sodat die kind nie op straat is nie. Dit is dié vroue wat gehelp moet word.”
Monika doen al haar vrywilligerswerk onder en in samewerking met ander reeds bestaande organisasies.
Van 2016 tot 2019 het sy onder 'n ander organisasie in Windhoek met kleuterskole gewerk totdat sy Malawi toe gegaan het om daar boerdery te leer.
“Vir ses weke het ek nie net soveel moontlik oor boerdery en plant geleer nie, maar ook oor bye- en sampioenboerdery.
“Die vriend by wie ons 'n stuk van die plaas gekry het, het toe vir ons 'n halwe hektaar gegee waar ons die opleiding kan gee.”
Reeds meer as 100 mense – van plaaswerkers, boere tot kantoorwerkers – is opgelei.
Met die hulp van Bank Windhoek kon 25 San van die hervestigingsplaas Uitkoms ook opleiding ontvang.
“Met hul skenking kon ons die mense Hochfeld toe bring en drie dae lank oplei en weer Uitkoms toe vat en vir hulle die toerusting gee sodat hulle kon begin plant.
“Ek gaan nou een keer 'n maand soontoe vir opvolg en ek kry elke keer hoendervleis as ek sien hoe hul landerye lyk en aan die gang is.”
Fase 2 van die opleidingsprogram is die waardetoevoeging.
“Wat jy in die tuin het en te veel van het, moet jy uitdeel of jy moet iets anders daarvan maak, soos konfyt, piekels of souse. Jy mag niks weggooi nie. Ons leer mense om sulke produkte te maak.”
Monika kyk reeds na haar volgende opleidingsgeleentheid waar sy genader is om mense van 'n gemeenskapsprojek in die verre Suide op te lei, nie net in waardetoevoeging nie, maar ook byeboerdery en sampioenboerdery.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie