'n Lewe uit voete wat jeuk
'n Lewe uit voete wat jeuk

'n Lewe uit voete wat jeuk

Ona Mogotsi het 'n kultuurgroep gestig, sing as agtergrondsanger en het al twee weke lank in Frankryk gedans.
Tanja Bause
Tanja Bause



Van kleins af al wou sy beroemd wees, maar Onalenna Destemona Mogotsi (32) het net nie geweet op watter manier nie.

Van een ding was sy wel seker, en dit was dat musiek 'n groot rol in haar lewe sou speel.

Ona, soos sy vandag op die verhoog bekend is, is in die klein Tsjaka Benher-­nedersetting sowat 50 km buite Gobabis gebore.

“Daar was nie 'n skool in ons nedersetting nie en ek moes Gobabis toe gaan om graad 1 te begin en ook in 'n koshuis gaan bly. Dit was aan die begin vir my baie moeilik. Ek moes my twee broers en vier susters agter­laat. Toe ek daaraan gewoond geraak het, was skool vir my pret en het ek in 2005 klaar­gemaak,” sê sy.

Hierná het sy Windhoek toe getrek om haar droom in die musiekwêreld te volg, maar Ona se ouers was nie geneë met die idee nie.

Hulle het daarop aangedring dat sy gaan studeer.

“Ek het toe onderwys gestudeer, maar het nie klaargemaak nie. Ek wou musiek maak.”

Ona was 'n agtergrond­sanger vir Namibiese ­kunstenaars soos Tate Buti en The Dogg, en het ook vir hulle gedans.

Sy het in verskeie kort toneelstukke by die Nasio­nale Teater van Namibië (NTN) opgetree.

In 2007 het sy die Makgona Ngwao-kultuurgroep op die been gebring.

“Ek het die kultuurgroep begin om die jeug van die strate af te hou. Met dié optredes verdien hulle ook 'n inkomste.”

Ona het met 12 lede begin en vandag is die groep 27 lede sterk.

“Elke jaar neem ek nuwe lede in die groep op vir wie ek tradisionele Tswana-danse en liedjies leer om die kultuur aan die lewe te hou. Maar ek leer hulle ook liedjies wat ek self geskryf het,” sê sy.

Ona was ook medestigter van die Multicultural Group, wat uit 30 lede bestaan.

“Wanneer ons vir 'n optrede bespreek word, is daar gewoonlik meer as net een kulturele groep. Ek het met mense gepraat en gesê ons moet een groep stig wat alle kultuurgroepe verteenwoordig en alle danse kan doen. Ons het die danse vir mekaar geleer en die multikulturele groep is gestig. In die groep is lede van al die bevolkingsgroepe in Namibië en almal se danse word verteenwoordig en uitgevoer.”



Nuwe horisonne

In 2012 het die ­Namibiese regering oudisies vir ­kulturele dansers gehou om Namibië in die buiteland te verteenwoordig.

“Ons was drie Tswana-­groepe wat die oudisies bygewoon het, en net twee lede uit my groep is gekies. Ek was een van hulle. Toe is ons vir twee weke Frankryk toe. Dit was die hoogtepunt van my lewe tot dusver.

“Ek was so ­opgewonde om gekies te word. Ons is toe op 'n vliegtuig om ons land kultureel in 'n vreemde land te gaan verteenwoordig.

“Ek kon nie glo hoeveel geld ons vir dié twee weke betaal is nie.”

Ona het in 2015 weer Frankryk toe gereis en in 2018 het sy Duitsland, Frankryk en Switserland besoek om te dans.

“Laas jaar was ek saam met Elemotho Oostenryk toe om vir hom te dans en as agtergrondsanger vir hom op te tree. Ek was ook agtergrondsanger op sy laaste album Beautiful World.”

Ona het al drie solo- Afro-pop en ­kwasa-kwasa albums vrygestel.

“My eerste album met liedjies wat ek self geskryf het, het in 2010 uitgekom. Die naam van die album was Ramasedi wat 'almagtige Here' in ­Setswana beteken. Twee jaar later het ek Tsala vrygestel, wat vriend beteken.

“In 2016 het Lebôta uitgekom, wat muur beteken,” sê Ona.

“Ek besef ek kan nie vir altyd dans nie en sal eendag te oud daarvoor wees. Ek dink nou daaraan om 'n opvolger op te lei, maar ek is bekommerd oor wat van die groep sal word as ek nie meer aan die stuur van sake is nie.”

Ingrid Morwe (23), lid van die Makgona ­Ngwao-kultuurgroep, sê: “Ek is baie bly oor die groep en dat ek deel daarvan kan wees. Dit hou my van die straat af, ek verdien geld en ek kan dans. As dit nie vir die groep was nie, het ek seker net by die huis rondgesit en my naweke soos ander jongmense om­gedrink,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer