'n Lewe verweef met Namibië
Riaan Eksteen was ten nouste betrokke by die pad wat tot Namibië se onafhanklikwording 30 jaar gelede gelei het. Republikein het met hom op Swakopmund gesels.
Dit is nie ongewoon dat die man wie se professionele loopbaan by buitelandse sake in Suid-Afrika hom van letterlik dag 1 af by die kwessie oor Suidwes-Afrika betrek het, op Swakopmund afgetree het nie.
Riaan Eksteen, onder sy vriende bekend as Koedoe, wag my by die landdroshof naby hy en sy vrou, Ria, se ruim dakwoonstel in. Daar aangekom, gesels ons eers oor gemeenplasies en stap dan uit op die balkon sodat hy my die uitsig op die Mole kan wys.
Eksteen beduie verontwaardig na die omheinde, seeroog-erf waar die swembad eens was. Dit is tot die argwaan van Swakopmunders deesdae 'n onveilige misdaadnes, en sleg vir toerisme.
Ons kyk ook af op die verwaarloosde huis waar die president se sekuriteitspersoneel tuisgaan wanneer hy die presidensiële vakansiehuis besoek.
Dertig jaar ná onafhanklikwording is vervalle staatseiendomme waarvan die verf afskilfer, 'n algemene gesig.
Wanneer ons oor sy indrukwekkende loopbaan van 54 jaar begin gesels, is my eerste indruk sy flink brein en verstommende geheue.
Op 78 werk hy nog as internasionale konsultant en het 18 maande gelede sy doktorsgraad verwerf.
“Ek is die Here baie dankbaar vir my goeie gesondheid. Dit is na aan perfek. Ek het nie skete nie, en my vrou versorg my goed. Ek is ook dankbaar dat ek my doktorale tesis in 13 maande kon skryf en daarna het dit my net drie maande geneem om dit in boekvorm te omskryf.”
Hy sê die terugvoering op sy boek, The Role of the Highest Courts of the United States of America and South Africa, and the European Court of Justice in Foreign Affairs, was oral goed.
“Die boek het my in staat gestel om drie internasionale konferensies toe te spreek: Die Common Wealth Lawyers' Association, een van 'n internasionale regsvereniging in Portugal, asook van die grootste politieke wetenskap-vereniging in Philadelphia (VSA).”
INTERNASIONALE HOFSAAK
Eksteen is in 1964 as 'n jongman in sy vroeë twintigs deur buitelandse sake in Pretoria na Suidwes-Afrika gestuur vir getuievoorbereiding vir die destydse hofsaak oor dié Suid-Afrikaanse mandaatgebied in die Wêreldhof in Den Haag. Sy professionele verbintenis met wat vandag Namibië is, het toe begin.
Sy familiebande met die land strek egter 'n goeie 95 jaar terug.
“My pa (Kosie) het in 1925 van Newcastle af Otjiwarongo toe gekom waar hy as 'n winkelklerk gewerk het. In daardie tyd het my ma en haar niggie (Helena Baard en Mieta Coetzee) uit Suid-Afrika vir vriende in Otjiwarongo kom kuier, en hulle paaie het gekruis. My pa en sy tweelingbroer, Louis, is toe met dié twee niggies getroud,” vertel Eksteen.
“Oom Louis en tannie Mieta is op 14 Desember 1928 getroud en my ma en pa twee dae later op 16 Desember 1928 – nogal onder 'n kameeldoringboom in Otjiwarongo; ek het 'n foto daarvan. My twee ouer broers is beide in Windhoek gebore.
“In 1933 het my ma en pa eers Warmbad toe verhuis waar hulle 'n winkel en hotel gehad het, en in 1935 na Volksrust waar ek in 1942 gebore is.”
Die Eksteens het uiteindelik in Pretoria gevestig, waar hy skoolgegaan en later studeer het. Van sy aangetroude familie, sê hy, boer egter geslagte lank in Namibië. “By Dordabis – vier geslagte al.”
Eksteen onthou in 1965 was die Suid-Afrikaanse span met advokate, agente en mnr. Pik Botha vir 9 maande in Den Haag waar die verhoor plaasgevind het.
“Suid-Afrika het besluit om 'n reeks getuies te roep om te getuig oor die administrasie van die gebied en oor die verskillende aspekte van die aanklagte deur Ethiopië en Liberië dat Suid-Afrika die mandaatgebied militariseer.
“Ek was toe – dit klink nou baie voorbarig, maar dit was die feit van die saak – in Pretoria gelaat met die verantwoordelikheid om met die Suid-Afrikaanse en Namibiese getuies te praat en hul reisreëlings te tref. Ek was die skakel tussen wat in Suid-Afrika aangegaan het en die regspan in Den Haag.
“So het dit gebeur dat Curt Dahlmann, redakteur van die Allgemeine Zeitung, een van die getuies was wat oor die volkekundige aspekte van Suidwes-Afrika gepraat het.
Hy onthou die besoek destyds “was eintlik amper meer plesierig” en sê geen substantiewe bewyse van die beweringe oor militarisering kon gevind word nie.
Uitspraak is op 18 Julie 1966 gelewer. “Die span wat daarvoor Den Haag toe gestuur is, was toe adv. Dawid de Villiers, adv. Buddy Muller, Pik Botha en myself. Daar was 'n staking van stemme en Percy Spender, die voorsittende regter, moes toe die beslissende stem gee.”
MANDAATGEBIEDE
“Die mandaat is nie aan Suid-Afrika as sodanig gegee nie, maar die mandaat is aan die seëvierende magte by 1919 se Vrede van Versaille gegee.
Amerika het nie mandate gekry nie.
Die Britte en Franse was die twee hoofontvangers van mandate. Brittanje het dit toe aan Suid-Afrika gegee, seker om dankie te sê vir sy lojaliteit tydens die Eerste Wêreldoorlog.
“Die mandaathouer kon die gebied bestuur asof dit deel is van sy grondgebied. Met ander woorde die wette in Suid-Afrika kan ook toegepas word in die mandaatgebied. Later het dit groot probleme gegee; nie so veel in die tyd van die Volkerebond nie, want Suid-Afrika het elke jaar 'n volledige verslag aan die permanente mandaatkommissie voorgelê.
“Die kommissie het weer aan die Volkerebond verslag gedoen oor gebeure op byvoorbeeld die gebied van onderwys en gesondheid. As dit nie gedoen is nie, is die mandaathouer oor die vingers getik. Daar was enkele insidente waar Suid-Afrika aangesê is om dinge te verander, wat dan gebeur het.
“Toe die Verenigde Nasies (VN) die Volkerebond vervang, het Suid-Afrika nie die VN as opvolger beskou nie en het nooit verslae ingedien nie. Suid-Afrika het gevoel hy is niks aan die voogdyskapraad wat aangestel is om toesig oor die ander mandaatgebiede te hou nie, verskuldig nie.
“Toe is die uitspraak ten gunste van Suid-Afrika en die vraag ontstaan: Wat gebeur nou?”
Eksteen sê die Amerikaners het voor die uitspraak laat blyk die VSA sal in die Veiligheidsraad van die VN vra vir sanksies teen Suid-Afrika omdat hy oortuig was Suid-Afrika sou die hofsaak verloor.
“Die Afrikagroep by die VN het begin om drastiese aksies te beplan. Boonop het die eerste skermutseling tussen 'n Suid-Afrikaanse polisie-eenheid en Swapo kort ná die uitspraak op 26 Augustus 1966 by Ongulumbashe plaasgevind.
“Kort daarna sit die Algemene Vergadering en op 27 Oktober 1966 is die mandaat deur die VN herroep en beëindig met die boodskap julle is onwettig in die gebied.
“Vóór dit het iets gebeur wat die koers heeltemal verander het. Dit was die sluipmoord op dr. (Hendrik) Verwoerd. In die radiorede wat hy gelewer het na afloop van die uitspraak, het hy gesê Suid-Afrika sal nie koning kraai nie, maar voortgaan om in die beste belang van die inwoners van die gebied op te tree, al was die mandaat nie meer van krag nie.
“Vorster het toe eerste minister geword en die eerste groot internasionale ding waarmee hy gekonfronteer is, was die VN se Algemene Vergadering-besluit in Oktober 1966. Dawid de Villiers en Pik Botha was in New York. Toe hulle terugkom het ons groot vergaderings gehad oor hoe die pad vorentoe gesien word,” onthou Eksteen.
Hy sê daar is besluit die wêreld moet deur middel van 'n publikasie ingelig word oor die goeie goed wat Suid-Afrika in Suidwes-Afrika gedoen het en Botha het opdrag gekry om dit saam te stel.
“Ek, Pik en 'n fotograaf het vir 3 weke in Namibië rondgery en die South West African Survey 1967 opgestel.”
Dié inisiatief is in 1974 herhaal, kort voordat Botha die departement verlaat en minister geword het.
“Suid-Afrika het baie verkeerde dinge gedoen, daar is geen twyfel oor dit nie.
Maar dit is soos 'n muntstuk met twee kante; daar was ook baie infrastruktuurontwikkeling. . . die spoorwegstelsel, die poswese, gesondheidsdienste.
“Ek sê nie Suid-Afrika het in 1990 'n juweel oorhandig nie; daar was natuurlik skete gewees. Geen regering is perfek nie.”
RAADPLEEG DIE MENSE
Ná die publikasie verskyn het, het Vorster gesê daar moet groter beraadslaging wees tussen die mense van Suidwes-Afrika en die Suid-Afrikaanse regering. 'n Adviesgroep is toe saamgestel wat aan die einde van 1974 vir die eerste keer in Kaapstad byeengekom het.
“Dis waar ek vir mnre. (Dirk) Mudge, Eben van Zyl en Jan de Wet ontmoet het. My ontmoeting met Mudge strek 46 jaar terug. Ons het skouers geskuur en ook maar koppe gestamp.”
In 1975 het hy 'n groep leiers van die verskillende bevolkingsgroepe na die buiteland vergesel om hulle bloot te stel aan wat in die buitewêreld aan die gebeur was. “Billy Marais was by die Suidwes-administrasie, en ek en hy het toe die groep manne vir drie weke na New York, Washington, Phoenix, München en Bonn en Londen vergesel.
“Hulle was Dirk Mudge, Eben van Zyl, Ben Africa, (Johannes) Skrywer, (Andrew) Kloppers, (Barney) Barnes, (Elifas) Tjingaete, twee stamhoofde uit die Caprivi, Peter Kalangula en pastoor Nujoba, asook Kashe van die Boesmans.
“As jy drie weke saam met mense rondreis, leer jy hulle goed ken en het met hulle kontak behou. Ook toe ek later in Windhoek ambassadeur was.”
VERENIGDE NASIES
Eksteen sê sy verbintenis met Namibië is onderbreek toe hy in Oktober 1976 New York toe is as kantoorhoof van buitelandse sake. “Toe Pik in Februarie 1977 weg is as ambassadeur in Washington en New York om minister van buitelandse sake te word, is die twee kantore geskei en ek het ambassadeur in New York geword.
“Op 31 Januarie 1976 was daar belangrike besluite in die VN se Veiligheidsraad oor Suidwes-Afrika en dit was die grondslag vir die Westerse Vyf om te begin gesels oor 'n oplossing vir die Suidwes-Afrika-vraagstuk. In 1977 het die Amerikaners in New York begin. Ek was die skakel in New York. Pik het gekom en ons het gesels. Dit het bekend gestaan as die 'prioximity talks', want Suid-Afrika was nie bereid om met Swapo om die tafel te gaan sit nie.”
Eksteen sê hy was ook die skakel in New York met Kurt Waldheim, die destydse sekretaris-generaal van die VN. “In die laaste twee jaar van sy termyn het ek 'n goeie verstandhouding met hom gehad. Dit het gevolg na 'n gesprek wat ons gehad het waartydens hy vreeslik teen Suid-Afrika uitgevaar het. Toe hy klaar was het ek hom gevra of hy 'n oplossing vir Suidwes-Afrika wil hê of nie, waarop hy ja gesê het. 'Then you must stop castigating South Africa otherwise South Africa will not be interested in seeing you as a faithful interlocator. And the talks will grind to a halt,' het ek vir hom gesê.
“Hy het my net met sulke groot oë sit en aankyk en sy houding teenoor my het daarna drasties verander.”
Eksteen onthou hoe hy in 1981 teruggeroep is na Suid-Afrika as hoof van beplanning by buitelandse sake, maar steeds ook ambassadeur by die VN was.
“Ek het daardie jaar tien keer tussen Suid-Afrika en New York gependel.”
Hy sê aanvanklik is die voorstelle van die Westerse Vyf se plan in Maart 1978 aanvaar. “Die Veiligheidsraad het die plan aanvaar as moontlike oplossing en (Martti) Ahtisaari is aangestel as die VN se spesiale verteenwoordiger vir Suidwes-Afrika. Hy het op sy eerste besoek van drie weke na Suidwes-Afrika gekom en terug in New York het hy voorstelle gemaak oor hoe om dit te implementeer, waarna Resolusie 435 in die Veiligheidsraad aanvaar is,” vertel Eksteen.
ANDER PAAIE
Sy loopbaan het daarna 'n ander koers ingeslaan. Hy het hoof van die SAUK geword en toe hy daar weg is, het hy internasionale konsultasiewerk by die Johannesburgse Effektebeurs gedoen.
“Ek het aan die begin van 1989 vir die mense by die Johannesburgse Effektebeurs gesê daar kom grondverskuiwing op internasionale vlak soos die val van die Berlynse Muur en veranderinge ten opsigte van Suidwes-Afrika en Suid-Afrika. Maatskappye op die aandelebeurs was nie voorbereid vir hierdie veranderinge nie.
“Ek kry toe die idee om 'n konferensie oor die impak te reël.” Eksteen onthou hy was ter voorbereiding hierop na Oos-Europa en was juis in Hongarye toe Namibië onafhanklik geword het.
“Ek het op die TV gesien hoe die Suid-Afrikaanse vlag gestryk word en die nuwe vlag gehys word." Hy het toe reeds geweet hy kom Windhoek toe as ambassadeur.
“Ek het vir Pretoria gesê ek kan nie die planne vir die konferensie kanselleer nie, en dit is waarom ek eers op 1 Mei 1990 in Windhoek aangekom het.”
Agttien maande later is hy egter Genève toe verplaas. “Toe ek vir mnr. Botha sê dit werk nie so nie, het hy gesê ek het nie eintlik 'n keuse nie. Hy het gesê hy het 'n gesprek met mnr. (Nelson) Mandela gehad, wat vir hom gesê het Suid-Afrika se taak by die VN in New York is afgehandel omdat die politieke sake afgehandel is. Suid-Afrika moet in die rigting van die sosioëkonomiese beweeg en omdat die meeste VN-agentskappe in Genève is, moet die klem soontoe verskuif.”
“Mnr. Botha het toe vir my gesê: 'Koedoe, ek sal jou nie aanraai om teen jou volgende staatspresident se wense te gaan nie. As jy weet wat goed is vir jou, sal jy gaan.' Ek is met groot hartseer uit Windhoek weg.
“Om af te sluit: My betrokkenheid by Namibië was 'n wonderlike ondervinding. Daar is mense wat ek veel langer as die afgelope 30 jaar ken. Dirk Mudge, Peter Katjavivi, wyle dr. Theo-Ben Gurirab. . .
“Een van die groot genoegdoenings in my lewe was om op sy 80ste verjaardag, waar drie presidente teenwoordig was, 'n toespraak te lewer. Toe hy 'n paar maande later oorlede is, is ek gevra om 'n huldeblyk op sy begrafnis te lewer.”
“Namibië en sy mense was net goed vir my.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie