'n Man van vele talente
'n Wiskunde-onderwyser maak sy geld in die diamantbedryf.
Tanja Bause
'n Wiskunde-onderwyser, duikinstrukteur, diamantduiker, besigheidsman, seevaarder en huiseienaar, dit is Paul van Gysen (66) van Lüderitz in 'n neutedop.
Paul is in Tokai in Kaapstad as een van sewe kinders gebore. Sy pa wat baie kunstig was, was teen rykdom en geld gekant.
“Hy was terdeë daarvan bewus dat rykdom tot haat lei en het sy lewe doelgerig gelei teen die konsep van die algemene gehardloop agter geld aan.
“My pa het 'n onderwysinstelling, asook basisse vir 'n padvindergroep en seepadvinders in Sandvlei in Suid-Afrika begin. Dit was van my verwag om in sy voetspore te volg en een of ander kwalifikasie by 'n universiteit te verkry. Ek het BSc met wiskunde as hoofvak by die Universiteit van Kaapstad gaan studeer,” het Paul gesê.
Terwyl hy gestudeer het, het hy 'n strandkarretjie van die grond af opgebou. Om die brandstof vir die karretjie te kon bekostig, het hy gaan duik.
“Ek het my vyf krewe en perlemoen aan die restaurant in Muizenberg verkoop en R25 gekry. Dit was genoeg vir twee tenks petrol.”
SEIL EN BOTE
Paul onthou hoe hy op driejarige ouderdom op sy pa se boot, die Windvogel, gespeel het.
“My pa het die boot self gebou. Hy het die seile en maste self gemaak en ons kinders het op die boot gespeel en daarmee grootgeword. Bote en seil het nog altyd 'n groot rol in my lewe gespeel.”
Kort ná sy 16de verjaardag het Paul in die heel eerste Cape to Rio-seiljagwedren deelgeneem en die Atlantiese Oseaan oorgesteek. Voor dit het hy in Simonstad as 15-jarige teen
die manne van die vloot geseil en gewen.
“Die vlootmanne het baie verskonings gehad en gesê hul matrose was in die berge om 'n veldbrand te blus. Ek sou seker ook verskonings gemaak het as ek teen 'n 15-jarige seun verloor het.
“Kort daarna het die manne van die handelsvloot my uitgedaag en ek het weer gewen.”
In 1978 het hy vir die tweede keer oor die Atlantiese Oseaan vanaf Kaapstad na Punta del Este in Uruguay geseil.
Hy het ook later in sy lewe met sy lewensmaat, Ingrid Craul, vir drie jaar in 'n katamaran om die wêreld gevaar.
UNIVERSITEIT EN DAARNA
Terwyl hy besig was met sy graad het iemand hom gevra of hy nie 'n student met ekstra wiskundeklasse kan help nie.
“Ek het ingestem en die woord het versprei, soveel so dat ek in my finale jaar nege verskillende wiskundekursusse aangebied het. Ná universiteit is ek vir twee jaar weermag toe. Daarna is ek 'n werk as onderwyser vir R350 per maand aangebied. Ek het gedink dié salaris, ná vier jaar op universiteit, sou belaglik wees en ek het met 'n graaf op 'n boot gaan werk vir R500 per maand.”
Die werk as 'n arbeider op die boot was Paul se eerste ontmoeting met diamantduikers en die ontginning van diamante vanuit die see.
“Ek het al my geld gevat en by die eerste onafhanklike duikskool in Suid-Afrika vir 'n kursus gaan inskryf.
“Ek was een van agt mans wat die kursus bygewoon het toe die instrukteur wat die klas aangebied het, gesterf het.
“Die eienaar het na my toe gekom en gesê jy het mos in universiteit ekstra klasse gegee, so gee die klas. Ek het dit toe gedoen.
“Later het 'n ander instrukteur bygekom wat die praktiese deel gewys het terwyl ek die basiese beginsels onderrig het. Dis hoe die lewe is, jy moet aanpas of sterf.”
DIAMANTE
Dit was nie lank nadat hy die duikkursus voltooi het en op die diamantbote gaan werk het dat hy sy eerste boot gekoop en self diamante gaan soek het.
“Ek weet nie hoekom of hoe nie, maar ek het altyd 'n bietjie meer diamante in 'n korter tyd as die ander bote gelewer. Myne was verskeie kere die beste presterende boot en CDM (Consolidated Diamond Mines) het my raakgesien en my genader om vir hulle my metode van seemyn te wys en om vir hulle prospekteerwerk langs die Namibiese kus te kom doen.
“Ek was die eerste man wat vanaf Suid-Afrika gekom het om vir CDM prospekteerwerk in Hottentotsbaai te doen.”
In 1986 het Paul met twee bote op Lüderitz aangekom en het die Windvogel Diamonds-maatskappy gestig.
“Dinge was nie altyd maklik nie en in 'n stadium het dit gelyk asof ons besig is om bankrot te speel toe ons op 'n plek afgekom en die 'jackpot' geslaan het. Ek het binne 'n kwessie van 'n paar dae van 'zero tot hero' gegaan. In 'n stadium het ek agt bote gehad en die lewe was goed.
“Toe het die land onafhanklik geword en 'n hele reeks nuwe probleme het begin.”
Ná onafhanklikwording moes hy 51% van sy besigheid aan 'n minderbevoorregte sakevennoot afstaan, maar Paul het geweier.
“Ek kon nie iets wat ek opgebou het net so weggee nie en CDM het gesê hulle sal in die geval nie my kontrak aan die einde van die jaar verleng nie. Vir die oorblywende tyd van die kontrak het ons ons alies af gewerk en uitgehaal wat ons kon.
“Ek het die sleephelling vir die bote op Lüderitz op daardie stadium ook besit. Alle bote is daar uit die see gehaal en herstel. Nadat die kontrak nie hernu is nie, het ek dit verkoop en op die katamaran geklim en om die wêreld geseil.”
In 2004 het hulle terug in Lüderitz aangekom. Paul is vandag 'n verhuurder wat talle eiendomme op Lüderitz besit.
“Ek herstel huise en voertuie. Ek het nog 'n boot in die hawe waaraan ek elke Maandag werk.”
TUIN
Die Van Gysen-tuin is alom bekend, nie net in Lüderitz nie, maar ook op sy eie Facebook-blad, The Van Gysen Garden. Die tuin behoort aan Paul, maar die ontwerper, skepper en instandhouer is Ingrid.
In die tuin is alles van plante, tot skatte uit die ou stortingsterrein, die omgewing en die see van Lüderitz te sien. Bottels, ou kinderskoene, eetgerei – enigiets wat met bote te doen het of van bote kom.
Die tuin bied ook 'n klein insig op Paul se nuutste passie: Klippe, komete en hoe het alles op aarde begin.
“My vrye tyd gebruik ek om my weergawe rakende die binnekant van 'n komeet neer te skryf. My werk oor die impak van komete is semivoltooi, is nie deur 'n eweknie geëvalueer of gepubliseer nie, maar handel oor die belangrike vraag hoe het ons op die aarde begin bestaan. 'n Mens sal sien dat dit die soort werk is wat deur die Veritas-organisasie gedoen word. In 'n soeke na betekenis.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie