‘n Merkwaardige lewe
Dié onderhoud met wyle mnr. Andimba Toivo ya Toivo het in Augustus 2014 ter viering van sy 90ste verjaardag in Republikein verskyn.
Estelle de Bruyn - Net meer as 24 jaar ná Namibië se onafhanklikwording is die maatskaplike landskap aansienlik anders as wat dit was toe mnr. Andimba Toivo ya Toivo in 1968 skuldig bevind is aan hoogverraad en na Robbeneiland gestuur is waar hy sy vonnis moes uitdien.
"Gedurende die koloniale tyd kon ek nie na 'n Damara-, Nama- of Herero-gebied gaan sonder dat ek geskrewe toestemming gehad het nie. Daar was nêrens waarheen ek kon gaan nie. Dieselfde het vir witmense gegeld wat nie na Oshakati kon reis nie.
"Deesdae staan dit ons vry om na enige plek in ons mooi land te reis sonder dat ons enige dokumente moet hê.
"In die ou dae as ek 'n hemp wou koop, het ek deur 'n venster by 'n winkel gevra ek wil graag 'n hemp koop. Ek het betaal en die winkelassistent het vir my enige hemp gegee, maak nie saak of dit vir my gepas het nie. As ek sou waag om te kla, is ek meegedeel dat ek vir 'n hemp gevra het, en 'n hemp gekry het.
"Ek kon nie eers vra vir 'n witbrood nie. Ek moes ’n bruinbrood deur die venster van 'n winkel koop omdat ek nie in die winkel toegelaat is nie," vertel hy.
Vroeë jare
Andimba Herman Toivo ya Toivo het die eerste lewenslig op 22 Augustus 1924 in Omukunda Omangudu (deesdae die Onyaanya-kiesafdeling in die Oshikotostreek) aanskou. Sy pa, Andimba Toivo Uushona, is in 1935 oorlede en sy ma, Elizabeth Nashikoto Malima, het haar kinders alleen grootgemaak.
Sy laerskoolopleiding het hy aan die primêre sendingskool by Onayena voltooi.
In 1939 skryf hy in by die Finse sending se Ongwediva-nywerheidskool.
Armoede was aan die orde van die dag en droogtes, asook sprinkaanplae het oorlewing moeilik gemaak.
In 1942 sluit Ya Toivo en van sy vriende by die Suid-Afrikaanse militêre inboorlingkorps aan, deel van die geallieerde magte wat teen Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog veg. Ná sy basiese militêre opleiding is hy op verskeie plekke in Suid-Afrika en Suidwes-Afrika ontplooi om sleutelinstansies te bewaak.
Kontrakarbeider
Ya Toivo bedank in 1943, waarná hy by die kontrakarbeiderstelsel aansluit en op die plaas Ombona in die Kalkfeld-distrik werk kry.
Dit was 'n vernederende tyd met swak behandeling, onvoldoende kos en onderdrukking deur sy werkgewer.
Hy keer hierna terug na Ovamboland en sit in 1945 sy studies aan die St. Mary's Anglikaanse skool op Odibo voort. Hy word as onderwyser opgelei en gee later onderrig by die St. Cuthbert-skool op Onamutayi.
In 1951 vertrek Ya Toivo en van sy vriende na Suid-Afrika, en onder die voorwendsel dat hulle Angolese burgers is, kry hulle werk op die Witwatersrand se goudmyne.
Politieke ontwaking
In 1952 verhuis Ya Toivo na Kaapstad en werk as spoorwegpolisieman.
Hier word hy blootgestel aan anti-apartheiddenke en raak hy bevriend met aktiviste van die ANC, die Liberale Party en die Congress of Democrats in Suid-Afrika.
In 1954 sluit hy by die Moderne Jeugvereniging aan - 'n politieke en maatskaplike groep jongmense. Bekende lede van die groep sluit in Denis Goldberg en Albie Sachs.
Deur hierdie interaksie ontwikkel Ya Toivo se organisatoriese en politieke leierskapvaardighede.
In dié tyd reis hy wyd in die Kaap en maak kontak met ander Namibiërs wat daar werksaam is. Op 2 Augustus 1957 vorm hy, Peter Mwesihange, Solomon Mifima, Maxton Joseph, Paul Helmut, Emil Appolus, Tobias Hainyeko en andere die Ovamboland People's Congress (OPC). Die naam sou mettertyd verander na Ovamboland People's Organisation en later na South West Africa People's Organisation (Swapo).
In dieselfde jaar begin hy petisies na die Verenigde Nasies stuur waarin geëis word dat Suidwes-Afrika onder die Verenigde Nasies se trusteeraad geplaas word, kinders die geleentheid gegee word vir opvoeding sodat hulle voorberei kon word op selfregering en dat die VN 'n komitee na Suidwes-Afrika stuur om self ter plaatse ondersoek in te stel na die ware toedrag van sake.
Terug op eie bodem
Dié petisies het Ya Toivo die argwaan van die Suid-Afrikaanse owerhede op die hals gehaal en hy is 72 uur gegun om die land te verlaat en na Namibië terug te keer. Hy verlaat Kaapstad in Desember 1958 saam met Fanuel Kozonguizi en sit sy politieke aktivisme in Namibië voort. Hy vestig ook noue bande met opperhoof Hosea Kutako en die Herero-raad van hoofmanne.
Tydens 'n besoek aan die myn op Tsumeb is hy in hegtenis geneem en ná twee weke in aanhouding in boeie onder polisiebewaking is hy na Ondangwa gedeporteer.
Hierna is hy in die paleis van die Ondangwa-hoofman, Johannes Kambonde, aangehou.
In April 1960 word Ya Toivo Swapo se streeksekretaris in die noorde van die land, waar hy op Oluno in die Ondangwa-gebied 'n winkel oopgemaak het.
Hy het deurentyd die jeug gemobiliseer en aangemoedig om in ballingskap te gaan ten einde hul studies in die buiteland voort te sit en 'n goeie opvoeding te bekom.
Die gewapende bevrydingstryd
In 1965 word hy ingelig dat gewapende Swapo kaders in die land ontplooi is om teen die Suid-Afrikaanse bewind te veg. Dit stem Ya Toivo tot kommer omdat hy nie geweet het of hulle voldoende voorbereid was daarop om 'n gewapende stryd teen die magtige Suid-Afrika van stapel te stuur nie, of daar voldoende toerusting en kos vir hulle sou wees nie en waar hul militêre basisse kon vestig nie.
"Al was ek nie verantwoordelik vir die militêre organisering van my mense nie en al was ek oortuig daarvan dat dit onwys was om teen die magtige Suid-Afrika te veg terwyl ons swak was, kon ek nie weier om hulle te help toe die tyd aanbreek nie," sê hy in Portrait of a Revolutionary Legend deur Nahas Angula.
Die gewapende stryd het op 26 Augustus 1966 by Omugulu Gwoonbashe uitgebreek. Van die kaders is doodgeskiet en ander is in hegtenis geneem.
Ya Toivo is op 9 September 1966 in hegtenis geneem en deur die Suid-Afrikaanse polisie na Pretoria geneem waar hy aangerand, gemartel, ondervra, van slaap ontneem en in eensame afsondering aangehou is.
Wet op Terrorisme van 1967
'n Spesiale wet is deur die Suid-Afrikaanse parlement aanvaar om teen die aangehoudenes uit Suidwes-Afrika op te tree. Die Wet op Terrorisme, wet 83 van 1967, is terugwerkend gemaak tot Junie 1962 om seker te maak die Namibiërs kon daaronder aangekla word en selfs die doodstraf opgelê word.
Ya Toivo en 36 ander Namibiërs se verhoor het in 1967 begin en op 9 Februarie 1968 geëindig met die skuldigbevinding aan hoogverraad en 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf op Robbeneiland.
Robbeneiland
Ná 'n voorval in 1971 is Ya Toivo vir meer as 'n jaar in eensame afsondering aangehou. Hierna is hy verhinder om met sy mede-Namibiese burgers kontak te maak en is hy saam met Nelson Mandela, Walter Sisulu en ander prominente Suid-Afrikaanse politieke gevangenes aangehou.
Vroeg in 1984, ná hy 16 jaar van sy vonnis uitgedien het, is hy na die gevangenis in Windhoek oorgeplaas waar hy op 1 Maart 1984 onvoorwaardelik vrygelaat is.
Politieke loopbaan
Ya Toivo was van 1984 tot 1991 Swapo se sekretaris-generaal. In 1989 is hy tot die grondwetskrywende vergadering verkies en op 21 Maart 1990 het hy 'n lid van die nasionale vergadering geword waar hy tot sy aftrede in 2006 gedien het.
Hy was van 1990 tot 1999 Namibië se minister van myne en energie, van 1999 tot 2002 minister van arbeid en van 2002 tot 2005 minister van gevangenis en korrektiewe dienste.
Lewensfilosofie
Gevra oor sy medemenslikheid en die gebrek aan enige haatdraendheid teenoor diegene wat hom voorheen benadeel het, sê hy dis alles te danke aan versoening.
"Versoening beteken 'n mens vergeet die verlede en ons leef saam as Namibiërs. Ja, daar was moeilike tye in die gevangenis. My bewaarders het gesê ek sal daar doodgaan."
Gesonde gees verg 'n gesonde liggaam
Ya Toivo het ook 'n aanhangersklub onder fiksheidsentoesiaste. Hy gaan gereeld na die gimnasium en oefen daagliks om fiks te bly. "Ek voel gemaklik wanneer ek oefen. Deesdae oefen ek tuis en gaan net na die gimnasium om te sauna.
"Ek raai mense aan om te begin oefen en voort te gaan daarmee. As mens eers begin voel daar skort iets, moet jy oefen. Mense moet daaraan werk om 'n gesonde liggaam te hê."

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie