’n Mylpaal vir oom Kola

Ná ’n leeftyd van boer, praat oom Kola met gesag oor hoe hy verskeie skoukampioene geteel het.
Elvira Hattingh
“Mense vra my dikwels wanneer ek van plan is om af te tree. Dan sê ek ek tree elke dag af – kraal toe en terug. As die Here my spaar, sal ek nog aanhou op die plaas bly en boer – dit is baie lekker en teling bly vir my baie interessant.”

So gesels die baas van Hoogvertoon Stoet, oom Kola Steyn, wat vanjaar op 13 September 80 jaar oud geword het – dieselfde jaar waarin hy en sy vrou Annetjie 50 jaar lank getroud is en waarin hy sy veertigste produksieveiling op Goreis sal aanbied.

Hy is ook die eienaar van die land se oudste Boerbokstoet.

Die boerderybloed loop dik in sy are en sy pa, Kolie, beter bekend as “Koos Boor” het in 1928 die land ingekom met net ‘n boormasjien, ‘n kar en perde en veral in die Karasberge boorgate geboor. Oom Kola sê sy ouers het aanvanklik in tente onder ‘n witgatboom op Goreis gebly en later huis met kleistene gebou.

Boerdery het aanvanklik met Merino’s, bokke en ‘n paar skape begin. Oom Kola is in 1937 op Goreis gebore en moes ook leer boor. Die plaas is eers in die vyftigerjare ontwikkel.

BOER VOORUIT - MET DOGTERS

Oom Kola sê hy het nie die afgelope twee jaar geskou nie en sal ook nie vanjaar nie.

In totaal het hy al 45 keer in Windhoek geskou. Sy kinders het hom egter opkommandeer om vanjaar skou toe te gaan en gesê die mense wil hom graag daar sien, al het hy nie aanvanklik beplan om te gaan nie.

“Ek sal weer in die toekoms skou – ons wag maar vir goeie reën.”

Intussen skou sy dogter Anette en hy sê hyself vat dinge rustiger sodat sy kinders die boerdery kan bestuur.

“Ek is gelukkig soos dinge is - en nog redelik gesond. Ek het vir my kinders gesê hulle moet nou die boeke doen en ek sal myself daar in die kraal besig hou en net doen wat vir my lekker is.

Oom Kola en sy vrou het drie dogters, Anette, Marietjie en Chrisna.

“Aan die begin het ons gedink daar sal dalk seuns ook wees, maar daar was nie. Ek ruil egter nie my dogters vir enige jongboer nie!”

Hy sê Anette, wat saam met hom boer, is standvastig, nie lui nie en sy weet wat sy wil hê.

“Sy het in die kraal grootgeword. As ek haar gevra het wat sy eendag wil word, het sy gesê ‘pa, ek wil boer.’ Toe sy matriek klaargemaak het, het ek haar weer gevra en sy het weer gesê ‘pa, ek wil boer’. Sy het haarself by die Pretoria Tegnikon ingeskryf en diereproduksie studeer.

“Sy as vrou boer net so goed as wat enige man sou en doen sekere dinge selfs beter, want ‘n vrou het soms ‘n natuurlike aanvoeling vir dinge.”

’N GOEIE STOETBOER

Oom Kola sê sekere beginsels is nodig as dit by stoetery kom.

“As jy ‘n stoetboer wil wees, moet jy baie eerlik wees. Ek beskou myself as ‘n ‘saadteler’ – as ek ‘n fout maak, spoel dit oor na baie ander boere in die land. As ‘n kuddeboer ‘n fout maak, raak dit net sy eie kudde. Ek kan nie ‘n fout bekostig nie en ‘n stoetteler moet baie seker wees van enige ram wat hy inkoop.

“Jy moet ook baie goeie kennis hê van die dier waarmee jy werk en teling moet vir jou ’n voorliefde en ’n passie wees - anders mors jy jou eie en ander mense se geld.

“As jy ook nie ’n oog vir ’n mooi dier het nie, kan jy ook nie teel nie. Terselfdertyd moet jy sekuur wees. Vertrou ook op die Here. Hy het vir my baie, wonderlike deure oor die jare oopgemaak.

“Vertrou ook jou eie oordeel en moenie dat ander mense vir jou stories vertel nie. Ek sê altyd vir my kinders, as jy nie weet nie, moet jy vra. Ons moet almal leer.”

Oom Kola sê hulle het aanvanklik met Swakara begin boer en hy het met die intrapslag besluit om ’n “goeie teler” te wees. Hy en sy pa het Lovedale se beste ramme gekoop en eindelik het die totale stoetkudde toe op 1 000 gestaan, maar met die insinking in die bedryf het hy die skape vir vleis verkoop. Hy het toe begin Dorpers aanskaf.

Oom Kola dink die staking van sy Swakara-teling was ‘n groot fout en hy het so twee jaar gelede weer met hulle begin en boer.

“Ek het nou so 1 000 Swakara-ooie.”

Die bekende Hoogvertoon Boerbokstoet se wortels lê weer in die destydse Odendaal-gebied, oftewel Damaraland, waar oom Kola in 1965 sy eerste 30 ooie by sy oom Lukas Steyn gekoop het. “Uit daardie ooitjies het ek al duisende ooie verkoop,” sê oom Kola wie se Boerbok-stoetkudde vandag op 360 ooie staan.

Hy het tussen 1968 en die begin negentigerjare ’n Afrikanerstoet gehad, maar in die sewentigs het droogte ‘n uitverkoopveiling genoodsaak en oom Kola het daar en dan besluit beesboerdery is nie vir die Suide nie.

In die tagtigerjare het oom Kola ook met Angora-bokke geboer. Deesdae is sy Dorper-stoet sowat 800 ooie sterk en het hy ook weer ’n Van Rooy-stoet. Daarbenewens het hy ook ’n Skilderbokstoet en Anette se Wit Dorperstoet staan op 300 ooie.

TEEL KAMPIOENE

Oom Kola is duidelik ’n kenner as dit by die teel van ’n kampioen kom.

Hy het in 1970 met sy Afrikanerbees begin skou en in 1972 ook sy Boerbokke skou toe gebring. Sy Afrikanerbul Prins het telkemale die prys vir grootkampioen asook interraskampioen verower.

Oom Kola sonder 2011 as sy beste skoujaar uit toe hy die meeste punte vir sy Boerbokke gekry het. In 2012 verower hy die titel van “Kampioen van Kampioene” onder die kleinvee met ‘n Skilderbokooi. In 2015 is sy Van Rooy-ram die grootkampioen asook interraskampioen.

Daarby was hy vir ses agtereenvolgende jare die nasionale slagboklamkampioen - aan die haak en op die hoef.

Oom Kola sê kampioene word geteel deur die beste parings te bewerkstellig. “Ek dink wat baie boere vergeet, is om nie net na die manlike dier te kyk nie - die moeder moet net so goed wees.

“Voor ek ’n ram koop, kyk ek ook na sy ma en ouma – of hulle goed geteel het. Indien dit die geval is, is jou kanse ¾ dat hy ook goed gaan teel.”

Oom Kola sê hy kan twee ramme uitsonder wat hy glo sy stoet gemaak het. Die eerste was Ramkat, wat hy van Appie Maritz uit Suid-Afrika gekoop het. Uit hom het hy later ook ’n ram genaamd Rampie geteel.

“Ramkat se bloedlyn het my geweldig goed gedoen. Ook oral waar sy nageslag verkoop is, het sy bloedlyn baie goed gedoen.”

Die ander ram wat hy uitsonder, is Bolt, wat na die beroemde atleet Usain Bolt vernoem is. Dit is ’n ram wat oom Kola teruggekoop het van Dirk Louw en wat ook uit die nageslag van Ramkat kom.

“Bolt was ook ’n baie goeie ram met goeie erfdwang.”

GOEIE WERKERS

Oom Kola vertel van Hotnot Cloete, saam met wie hy grootgeword het en later jare mee saam gewerk het.

“Hotnot is in 2014 oorlede - ‘n maand voordat hy 81 jaar oud sou word. Ons het darem vir hom ‘n groot partytjie gegee toe hy 80 geword het.

“Sy oudste seun, Willem (Hottie) is nou my voorman in die Kalahari en sy jonger broer, Hendrik (Bokop), is voorman op Goreis. Hy is ook al 53 jaar oud. Van Hotnot se ander kinders en kleinkinders werk ook vir my en is ons goed vir mekaar.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!