'n Nagtelike soektog na ietermagu00f4s
'n Nagtelike soektog na ietermagu00f4s

'n Nagtelike soektog na ietermagôs

Francoise Steynberg
Ek kan nie onthou wanneer laas ek 'n luiperd of 'n ietermagô gesien het nie.

Jare gelede het ek saam met Erindi se luiperdnavorser in die nag na 'n luiperdwelpie gesoek wat pas van sy ma gespeen was. Dit was 'n pragtige gesig om die welpie te sien wat 'n voël gevang het en geproes het om die vere uit te spoeg.

Ek het laas 'n ietermagô as kind op ons plaas gesien.

Intussen berig ek weekliks oor hoe ietermagôsmokkelaars in hegtenis geneem word en hoe lewende en dooie diere gekonfiskeer word.

Hierdie skugter diertjie is die mees gesmokkelde soogdier ter wêreld. Tonne skubbe word op 'n slag by lughawens in Asië gekonfiskeer. Hoeveel dooie ietermagôs maak 'n ton skubbe?

Volgens dr. Chris Brown, uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), is altesaam 110 ietermagôs verlede jaar in Namibië gekonfiskeer, waarvan 51 lewend was.

Die ander is óf dood gevind óf beslag is op hul velle gelê.

Die goeie nuus is dat 144 vermeende ietermagôsmokkelaars in 2019 in hegtenis geneem is. Die meeste van die 2019-sake is nog hangend in howe, maar 17 beskuldigdes is darem al verlede jaar gevonnis.

Verlede jaar is 74% meer ietermagôs se lewens as in 2018 weens die droogte geëis.

Ek kry 'n uitnodiging van AfriCat se Kelsey Prediger om eerstehands te beleef hoe sy in-diepte navorsing oor ietermagôs doen.

Omdat hulle skugter nagdiere is, sal ons eers laataand na hulle begin soek.

Die middag vertel veldgids Martin hoe AfriCat bewaring deur onderrig doen. Ons gaan saam met hom op 'n wildrit en voor ek my oë kan uitvee, sien ons 'n luiperdwyfie wat 'n sebra gevang het. Slap links sit haar mannetjiewelpie gedweë en wag sy kans af om te eet. Hy maak steungeluide en sowaar, daar kom sy sussie uit die bosse gestap. Nog nooit het ek drie luiperds saam gesien nie.

Ek sê vir Kelsey sy sal maar moet uithaal en wys om Martin se drie luiperds te oortref.

Uiteindelik breek ons soektog na ietermagôs laataand aan.

Die radiosender kraak terwyl Kelsey die antenna draai en draai om 'n ietermagô op te spoor.

Sy sê ons kan uit die wildvoertuig klim en haar suutjies in 'n ry volg. In die helder maanlig stap ons agter haar en haar assistent, Sacky Joseph, aan.

Ek konsentreer om nie op droë takke te trap wat kan breek en geraas maak nie.

Ons stap en stap terwyl Kelsey die antenna draai en draai.

“Ons moet nou naby wees,” fluister sy.

Die adrenalien pomp so deur my are dat ek nie eens moeg word van die stap nie.

Skielik skyn Kelsey haar rooi ultravioletlig 'n ent van ons af en daar stap 'n wyfie met haar groot kleintjie op haar rug. Ek het nog nooit in my halwe dekade op aarde 'n ietermagôkleintjie gesien nie.

Die ma vat eers 'n blaaskans en laai die swaar kleintjie af. Ons bly op 'n afstand om hulle nie te steur nie. Die oomblik is te heilig.

Ná Kelsey die opsporingstegnologie aan ons verduidelik het, gaan soek ons die volgende een wat ek eerste raaksien.

Die ietermagô rol homself dadelik in 'n bondeltjie en Kelsey doen haar meet- en weegwerk en vind sowaar 'n luis in sy skubbe.

Ek kry die kans om aan die skubbe te voel en ek wonder waarom onkundige mense nie liewer hul eie naels en hare as keratien eet nie.

Ek is dankbaar vir die vonnis van N$40 000 of drie jaar agter tralies wat 'n ietermagôsmokkelaar in Oktober op Rundu gekry het.

Ek hoop van harte die swaarder strawwe dien as afskrikmiddel.



Kommentaar

Republikein 2025-01-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 30° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 19° | 34° Oshakati: 21° | 33° Ruacana: 17° | 34° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 15° | 32° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 21° | 32° Henties Bay: 16° | 19° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 14° | 29° Aranos: 20° | 31° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 15° | 29° Oranjemund: 15° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 13° | 30° Antananarivo: 17° | 26° Lilongwe: 21° | 29° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 25° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!