'n Namibiese legende vier agt dekades
Bekende in natuurbewaring- en sportkringe
Tanja Bause – “Ek wou ’n foto van die klein renoster neem maar toe storm hy op my af. Ek gryp toe maar sy agterpoot. Daar het ek die renoster aan sy been beet en ek klou en klou totdat die ander manne my kom help het!"
Hierdie is een van vele staaltjies wat oom Polla Swart in sy 30 jaar by die destydse ministerie van natuurbewaring beleef het.
Paul Stephanus (Polla) Swart is 1936 naby Hochfeld op die plaas Swartskroon gebore en het in Grootfontein, Otavi, Tsumeb en Otjiwarongo skoolgegaan. Daarna het hy by die myn in Tsumeb begin werk voor hy Wellington toe is om vir 'n laerskoolonderwysdiploma te studeer.
“Ek het nie daarvan gehou nie en is terug Tsumeb toe. Ek het vir die bank op Omaruru en Tsumeb begin werk,” vertel oom Polla.
Een vakansie het vriende wat in Bloemfontein en Stellenbosch studeer het, vir hom kom kuier en hom vertel hoe lekker die universiteitslewe is en dat hy saam met hulle moet gaan swot.
“Op die trein Stellenbosch toe het ek besluit wat ek wil studeer. Ek het gesit en dink, wel, jy is op pad en moet seker nou maar kies wat jy wil doen,” sê hy.
Hy het in 1959 ’n BSc-graad in dierkunde en liggaamlike opvoeding aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en in 1960 ’n hoëronderwysdiploma verwerf.
Vakansietye het oom Polla in Tsumeb by die myn gewerk en dit is waar hy Chrija, sy vrou, ontmoet het. Twee weke later het hulle besluit om te trou.
Tannie Chrija het op daardie stadium in Bethlehem skoolgegee en ’n vriendin gebel om haar goedjies op te pak en te bêre. Die vriendin het glo vir haar gesê sy is mal. “Ek het vir haar gesê ek is nie mal nie, ek het net die man van my lewe ontmoet,” vertel tannie Chrija.
Na ’n huwelik van 56 jaar, waaruit drie dogters gebore is en twee kleinkinders gevolg het, is die paartjie steeds gelukkig getroud.
In 1965 het oom Polla ’n pos as bioloog by die staatsmuseum in Windhoek aanvaar. Destyds het die personeel dikwels praatjies oor hul werksaamhede aangebied. Op ’n dag was die direkteur van natuurbewaring, mnr. Bernabe de la Bat, ook teenwoordig. Hy was so beïndruk met Swart se navorsingsverslae oor die bedreigde swartneus-impala wat in die Kunenestreek voorkom, dat hy hom ’n pos as tweede in beheer van natuurbewaring en toerisme aangebied het. Hy is 1 September 1966 in dié pos aangestel.
Oom Polla was aan die spits van die vang en hervestiging van die swartneus-impala, bastergemsbokke en swartwitpense asook swart renosters.
Dit was juis in 1970 tydens ’n vang-en-hervestigingspoging van swart renosters dat hy die kalfie aan die been beetgekry het. Die renosters is in die Outjo- en Kamanjab-omgewing uit ’n helikopter verdoof en daarna na Halali in Etosha vervoer. Die wildbewaarders het die renoster-ma verdoof en opgelaai maar dit het te laat geword om haar kalfie ook nog te verdoof en te vang.
“Die volgende dag het ons die kalfie opgespoor en ek het vir die loods gesê 'laai my af, want ek wil foto’s van die renoster neem'. Dit is toe wat ek hom aan die agterpoot gevang het,” sê oom Polla.
Die volgende dag was daar ’n groot rugbywedstryd in Windhoek tussen die polisiespan en United se span, waarvoor hy as kaptein uitgedraf het.
“Daai jare het spelers hul verskille onder mekaar op die rugbyveld uitsorteer, nes ek en ’n ander speler dit daardie dag gedoen het. Ek het nie geweet hy vang slange in sy vrye tyd nie. Maar die volgende dag was die koerantopskrif ‘Renostervanger en slangvanger teen mekaar in rugbywedstryd’,” vertel oom Polla laggend.
Oom Polla het in 1964 as kaptein van Suidwes-Afrika se rugbyspan uitgedraf. Rugby was nog altyd in die Swart-gesin se bloed en sy broer Sias was die eerste Namibiër wat in die Suid-Afrikaanse Springbokspan ingesluit is. Tussen 1962 en 1966 is al drie Swart-broers vir die destydse Suidwesspan gekies. Oom Polla het sy land 15 keer op die rugbyveld as losvoorspeler verteenwoordig.
“My kleinseun Louis stel baie belang in sport en hy speel lekker rugby, so ek help bietjie by sy skool uit," sê oom Polla trots.
Ná 30 jaar se werk by natuurbewaring, het hy en tannie Chrija met sy aftrede saam met ’n paar ander afgetredenes Travel Carte Blanche gestig. Hulle het kamptoere deur Namibië en Botswana vir meer volwasse mense gereël.
“Dit was ’n baie lekker tyd en ons het dit vreeslik geniet - oor die mense wat ons ontmoet het en oor die reise," sê tannie Chrija.
Toe die fisieke uitdagings van kamptoere te veel begin word, het die Swart-egpaar die Tsaobis Leopard Lodge naby Karibib gebou. Die lodge was ses jaar in hul besit voor hulle dit verkoop het en begin het om die naburige plaas as jagplaas te bestuur. Vier jaar later, in 2010, het hulle dié plaas ook verkoop en Windhoek toe getrek.
Hulle het terug getrek na hulle huis in Pionierspark - dieselfde huis waar hulle 45 jaar lank (met ’n paar tussenposes!) gebly het. Hulle kinders het mettertyd gesê hulle moet na ’n aftreehuis begin kyk omdat die ou familiewoning te groot geword het. Maar die egpaar het nie kans gesien om na ’n ouetehuis te trek nie.
Hulle middelste dogter, Tana, het buite Outjo op ’n wildsplaas gebly en ná ? besoek aan haar het hulle op pad terug Windhoek toe deur die dorp gery.
“Hoekom trek ons nie hiernatoe nie? Dit lyk soos ’n baie lekker dorp,” het tannie Chrija gesê.
Oom Polla wou niks weet nie maar met die terugkomslag in Windhoek het hy die motor afgeskakel en vir tannie Chrija gesê hulle gaan trek. Só gesê, só gedaan, en op 17 Julie 2015 het hulle in hul huis in Outjo ingetrek.
“Ons is nie ? dag spyt nie. Die mense is wonderlik en baie betrokke in die gemeenskap,” sê oom Polla.
“Ons het ’n plek gevind waar ons gelukkig is en wat ons besig hou,” voeg tannie Chrija by.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie