'n Nederige Godsman slaap aan die voet van Brukkaros
'n Nederige Godsman slaap aan die voet van Brukkaros

'n Nederige Godsman slaap aan die voet van Brukkaros

Mandy Rittmann
MEESTER SIEGFRIED GOEIEMAN SKRYF:

My gedagtes hardloop onwillekeurig terug na die tagtigerjare.

Die tydfase waarin ek 'n man met 'n vreemde stem leer ken het. Die stem klink heel anders as die stemme van ons pa's en oupas. Dit is 'n heel ander soort stem. Dit het ek in my kinderkleinheid besef.

Alhoewel dit nie elke Sondag was nie, het die eienaar van hierdie stem na ons plek, |Khuta!hoas, gekom. Ons het letterlik na die swart gebou (dis soos die AME kerkgebou op ons plek bekend was) gehardloop. As ons hom sien, was ons bly, want ons sal vandag weer daardie lekker stem hoor.

Hulle was altyd drie, soms vier. Die vrou en die man wat die mooi tenoor sing en die man wat die bas sing.

Later het hulle by ons name gekry. Dit was ouma Ferdrika Hamman, evangelis Hamman (Michael) en pastoor Baisako. Soms was oupa Willem Hamman ook saam.

Dit was hoe my lewenspad met die van evangelis Hamman, later pastoor Hamman, gekruis het. Die bekende lied “Hambanadi” was gesing en ons het gedans en vir ons verlustig aan die mooi stem van hierdie ou Godsman.

In die jaar 1996 het ek as 'n jong onderwyser op !Gae||nâxas gekom en hier het ek weer vir pastoor Michael Hamman kom kry. Hierdie keer as 'n leraar, maar ook as 'n skoolraadslid van J. A. Kahuika PS. Nog net so vuur en vlam soos daardie tyd wat ek hom as 'n jong seuntjie aanbid het.

So het my agting vir hierdie geestelike leier gegroei. Nou meer van naby.

Om 'n jong onderwyser te wees, het ook sy stukke en so moes ek van tyd tot tyd met oupa Hamman, wyle oom Johannes Tiboth en wyle oom Jonas Oarum te doen kry. Hulle was groot mense en ek bedoel dit, hulle was groot mense.

Pastoor Hamman was meer as vier dekades ouer as ek, maar wanneer ons in gesprek was, het ek ­ongemaklik gevoel met die manier waarop hy my soos sy meerdere ­behandel het. Hy het net nie van respek gepreek nie. Sy lewe was gegrond op liefde en respek vir almal. Maak nie saak wat jou klas in die samelewing is.

Daarom dat hy so baie gehou het van die teks in Romeine oor naasteliefde, gebed vir mekaar en oor onderlinge onderdanigheid. Die gesegde waarvan ek in sy preke gehou het, was waar hy altyd gesê het: “God sal nooit Jakobus se sondes op Sara skryf nie.”

Hy was 'n gemeenskapsman. Ek het hom leer ken as 'n man wat sy deel in die gemeenskap voluit speel.

Hy het letterlik die huidige AME Kerk op !Gae||nâxas self gebou. Ek was daar! Dis nie hoorstories nie.

Hy het sy rol in die politieke arena gespeel soos hy kon. Iemand wat vandag seker 'n veteraan kon gewees het. Hy het in selfontwikkeling geglo.

As iemand my nie glo nie, gaan kyk na sy tuin. By sy 90ste verjaardag het sy vrou vir ons gesê: "Ek word nog gevoed, die rooibeet wat julle hier eet, kom van sy tuin."

Ek het die eer gehad om die programleier by sy 90ste verjaardag te wees. 'n Glansgeleentheid te danke aan sy kinders en familie. Sal ons ooit die 15de Desember 2018 vergeet? Dit was twee dae na sy verjaardag. Op 13 Desember 2018 het hy 90 jaar (100 jaar minus 10 jaar) oud geraak.

Aangesien die program baie lywig was, het ek hom later jammer gekry en die sprekers gevra om hom ook jammer te kry. Sal julle my glo? Na twaalfuur, seker ook nog na eenuur daardie oggend, kry oupa Michael Hamman sy beurt om vir ons seë­ninge te gee. Sy toespraak was so pragtig geformuleer. Kan iemand van 90 jaar dit so doen en nogals so laat in die nag? Almal (kinders, skoonkinders, familie, volk, kerk), almal word hulle porsie gegee. Ons wat daar was, was gelukkig!

Ai, ons het so gewens hy sal honderd jaar maak. Weereens die besef: “julle gedagtes is nie My gedagtes nie.”

Die naakte waarheid is hy is nie meer by ons nie, maar ons besef dat as jy klaar gewerk het, moet jy mos rus.

Pastoor Michael Hamman, rus in Godsvrede. Ons glo u arbeid was nooit tevergeefs nie. U het u spoor op die aarde gelos. U het gewerk en gelewe.

You lived, you just did not exist like some of us. Therefore go in peace, Reverend Michael Hamman. We will meet at Jesus' feet.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!