’n Nuwe politieke era wink
Ofskoon allerlei verwikkelinge nog op die tafel blyk te wees, gee talle Namibiërs pres. Hage Geingob gelyk – die nasie het gepraat.
Denver Kisting – Veral die afgelope twee weke was die oorwoë refrein: Namibiërs is moeg en kwaad, en dit het Woensdag 27 November 2019 by die stembus gewys.
Inwoners sê hulle is veral siek en sat vir korrupsie en die plundering van openbare hulpbronne.
Die pas aangewese president, dr. Hage Geingob, en sy regering het opnuut as oorwinnaars uit ’n spreekwoordelik bloedige geveg getree.
Maar vir die eerste keer in die bestaan van wat steeds in sommige oorde as ’n ontluikende demokrasie beskou word, het die regerende Swapo-party sy tweederdemeerderheid in die Nasionale Vergadering (NV) verloor.
En Geingob, wat tydens die presidensiële verkiesing in 2014 met 87% van die stemme selfs beter as Swapo gevaar het, moes nagenoeg 30 persentasiepunte hiervan aan sy gedugte teenstanders afstaan.
Een van trouens dié vernaamste mededingers was iemand van binne Swapo se eie verdeelde huis: ’n Onervare politikus, die tandheelkundige dr. Panduleni Itula.
Soos sake tans staan, het Itula al amptelik kennis gegee hy is nie tevrede met die tweede plek in die presidensiële resies nie.
Alle aanduidinge is dat dié uitgesproke Swapo-lid op pad is na die hoogste hof in die land, die hooggeregshof, om die uitslae van die afgelope verkiesing uit te daag.
Itula se regspan het die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) tot gister kans gegee om álle materiaal wat met verlede Woensdag se verkiesings verband hou, aan hulle te openbaar. Hy soek alles: Name, reeksnommers, klagtes en datums.
Sou hulle nie die versoek gehoorsaam nie, is die tafel gedek vir die howe, het hy by monde van sy prokureur, me. Elize Angula, gewaarsku.
Hoewel die ECN se baas, mnr. Theo Mujoro, vroeër die week ontvangs van die versoek erken het, het hy nie soos belowe hul standpunt daaroor met die media gedeel nie.
Itula, volgens sy eie woorde ’n voorstander van die oppergesag van die reg en demokrasie, weet Namibiërs al teen dié tyd nie skroom om hof toe te gaan nie. Ongeag of dit dag of nanag is, hy bly verbete.
Eweneens huiwer hy ook nie om van regspan te verander nie. Angula is sy derde regshoop die afgelope twee weke.
'n Politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Namibië, dr. Hoze Riruako, het die week gesê die tyd is verby vir Swapo om op hul ou trant voort te beur.
Politiek soos waaraan ons die afgelope amper 30 jaar gewoond geword het, se dae is nie getel nie – hulle is iets van die verlede, meen Riruako.
Saterdagaand toe die ECN se voorsitter, adv. Notemba Tjipueja, die uitslae regstreeks op nasionale televisie met die land deel, was net Geingob en me. Esther Muinjangue van die National Unity Democratic Organisation (Nudo) daar om na die amptelike syfers te luister.
Vroeër daardie dag het Geingob hom reeds tot sosialemediaplatforms gewend om die land te bedank dat hulle weer eens vir hom gestem het.
Hieroor en ’n voortydige bring-en-braai deur Swapo by die Sam Nujoma-stadion in Katutura die vorige aand het hulle in die sosialemedia-spervuur laat beland.
Maar, het Geingob se segsman, dr. Alfredo Hengari, wal gegooi: Hoewel die amptelike finale uitslae in daardie stadium nog uitstaande was, was die syfers toe reeds duidelik: Geingob het gewen. Boonop, het Hengari bygevoeg, so ’n (voortydige) aankondiging geskoei op beskikbare uitslae en die voorsprong wat niemand sou kon verbysteek nie, is standaardpraktyk oraloor.
Hoe dit ook al sy, Geingob het toegegee die kiesers se boodskap was duidelik, en dat hy dit gehoor het en daarna sal luister.
Twee dae later het hy in sy amptelike oorwinningstoespraak aangekondig twee van sy voormalige ministers wat by ’n internasionale viskwotaskandaal betrek word, is deur Swapo se politburo uit die NV geskop en van hul NV-lys afgehaal.
Mnr. Bernhard Esau, die eertydse minister van visserye en mariene hulpbronne, en sy voormalige eweknie van justisie, mnr. Sacky Shanghala, is tans in polisieaanhouding weens hul beweerde betrokkenheid by dié omkoopsage wat die land tot in sy fondamente geruk het.
Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPRR), sê by navraag die daling in veral Geingob se steun is merkwaardig. “Die 30%(punte)-verlies in ondersteuning vir pres. Geingob is dramaties,” meen hy. “Dis onduidelik hoe hy en die regering hierop sal reageer.”
Volgens hom bestaan die moontlikheid dat Geingob en Swapo “verder in hul dop gaan terugkruip en kritiek verwerp”.
Hopwood meen dit sal onwys wees van die regerende party en die staatshoof. “As hulle dit doen, kan hulle ’n politieke prys betaal omdat ek dink die deurlopende ontkenning van verantwoordelikheid en afskiet van geldige kritiek is een faktor wat baie kiesers gegrief het.”
Die ontleder sê hy hoop die daling in steun kan ten goede dien as ’n omkeerpunt en dat Geingob ’n leier sal word wat beter reageer, sal luister en met empatie en eerlikheid sal optree. “Hy moet sy deuntjie oor korrupsie verander en pleks van verskonings te maak, onmiddellik stappe doen oor goed wat binne sy mag is soos om korruptes van die partylys af te haal,” sê Hopwood.
Hy sê voorts die president moet ook ophou om buitefaktore te verkwalik vir die land se ekonomiese ellende en ’n mate van verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
“Die nuwe begroting, wat in Maart verwag word, bied ’n kans om bestedingsprioriteite weer te orienteer om die kwessies binne die gesondheid- en onderwyssektor die hoof te bied. ’n Nederiger en responsiewe benadering tot leierskap kan hom help om steun terug te wen,” sê Hopwood.
ECN ONDER SKOOT
Die nasionale kiesliggaam is reeds sedert voor die verkiesings gekasty.
’n Gebrek aan deursigtigheid en integriteit is van die hooffaktore wat uitgelig word as probleemareas.
Kort nadat die verkiesingstribunaal nie in Itula se guns beslis het nie oor die gebruik van elektroniese stemtoestelle (EVM’s), het mnr. Norman Tjombe, ’n Windhoekse prokureur, gesê daardie ronde was dalk ’n hofoorwinning vir die ECN.
Maar, het hy gemaan, die liggaam se integriteit het in die stof gebyt.
Dít kom te midde van ’n verklaring deur Tjipueja en buitelandse waarnemers se gesang dat die afgelope verkiesings vry en regverdig verloop het.
Hopwood meen: “Die manier hoe die ECN die verkiesing in terme van deursigtigheid en openheid hanteer het, was baie swak.”
Die ECN het aanvanklik belowe dat die finale kiesuitslae binne 48 uur bekend gemaak sou word nadat stembusse gesluit het.
Hulle kon nie by dié belofte hou nie en het eers drie dae later die uitslae deurgegee.
Volgens Hopwood het die vertragings en stilswye wat daarmee gepaard gegaan het, olie op die fopnuusvuur gegooi.
Samesweringsteorieë het ook onder dié omstandighede gedy, sê hy. “Dit wil voorkom asof hulle niks geleer het van die ‘EVM’s wat van ’n sleepwa afgetuimel het’-sage nie.”
Buitendien het hulle vir langer as twee jaar oor dié voorval geswyg totdat ’n koerant dit onthul het, het Hopwood gesê.
Die einste Shanghala het glo in 2017 skriftelik pa gestaan vir EVM’s wat Swapo vir verkiesings van sy raad van oudstes gebruik het.
Nadat The Namibian onlangs die sluier gelig het oor die gebeurtenis, het Shanghala beweer die toestelle het van ’n sleepwa afgeval en Swapo het reeds die ECN daarvoor betaal.
Tjipueja het toe in ’n volbladadvertensie in koerante probeer verduidelik wat na bewering gebeur het en dat dit nie die integriteit van die 2019-verkiesings negatief sou raak nie.
Teenstrydige weergawes oor ’n polisieondersoek na die beweerde verdwyning van die EVM’s het die ECN verder in verleentheid gedompel.
Die ministerie van finansies se woordvoerder, mnr. Tonateni Shidhudhu, wis ook van geen faktuur of betaling nie.
Mnr. Hewat Beukes van die Workers’ Revolutionary Party (WRP) het tydens die geding voor die kiestribunaal oor EVM’s gesê hy koop nie die storie dat Swapo se raad van oudstes van dié toestelle gebruik sou wou maak nie.
Wat hom veral laat twyfel het, sê hy, is omdat die regerende party nie eens tydens sy kongres kans gesien het om van EVM’s gebruik te maak nie.
Hardnekkige gerugte van stemknoeiery doen reeds sedert stemdag die ronde. Van stof wat gaan lê, blyk daar geen sprake te wees nie.
Itula, mnr. McHenry Venaani, leier van die Popular Democratic Movement (PDM), en mnr. Bernadus Swartbooi van die Landless People’s Movement (LPM) het reeds amptelik te kenne gegee voor ’n oudit van die finale uitslae nie gedoen is nie, kan hulle nie sê dat vry en regverdig hul siening oor die verkiesings kan wees nie.
Baie meningsvormers is dit eens dat Itula, wat oënskynlik uit die bloute sy opwagting op die politieke toneel gemaak het, ’n fenomeen is.
Dit was die eerste keer in die land se geskiedenis dat ’n onafhanklike kandidaat sy oog op die hoogste pos in die land gehad het.
Boonop het Itula voet by stuk gehou hy bly ’n lid van die regerende party. Hy was onversetlik oor druk om uit Swapo pad te gee.
Toe Swapo se inligtingsekretaris, me. Hilma Nicanor, op ’n nuuskonferensie aanvoer Itula het homself uit die party verwyder die oomblik toe hy besluit het om teen Geingob te staan, het die tandarts gesê Swapo se grondwet maak nie daarvoor voorsiening nie.
Die grondwetkenner en ontleder prof. Nico Horn is van mening Itula het nooit werklik met ’n konkrete beleidsplan vorendag gekom nie.
Presies hoe hy die land sou wou regeer en watter planne hy het om byvoorbeeld die ekonomiese omstandighede om te keer, was in geen stadium duidelik nie.
Oor wie werklik agter Itula en sy veldtog skuil, word ook steeds verwoed gegis.
Hy het egter – soos Venaani – ’n kleiner kabinet beloof.
Deel van die wavrag kritiek teen die Geingob-regering is die aantal ministers en adjunkte.
Venaani het die afgelope week op ’n nuuskonferensie, waartydens hy sy skadukabinet aangekondig het, politieke ontleders in Namibië voor stok gekry.
Volgens hom mag net politieke wetenskaplikes met gesag oor politieke verwikkelinge in die land praat.
Kritiek dat hulle nie die juk van hul voorganger, die Democratic Turnhalle Alliance (DTA), sou kon afskud nie, was duidelik nie in die kol nie, het hy gesê.
Die PDM se aantal setels in die parlement het van 6 ná 2014 se verkiesings tot 16 vanjaar opgespring. Tot watter mate hul samewerkingsooreenkoms met die United People’s Movement (UPM) die oorwinningsknoop help deurhaak het, kan net bespiegel word.
Venaani sê sy skadukabinet het ten doel om Geingob se kabinet op hul tone te hou.
Dat geen bloed die afgelope weke gevloei het nie, is deur die staatshoof, waarnemers én die ECN geloof.
Tjipueja het selfs ná haar aankondiging dat Geingob en Swapo die verkiesings weer gewen het vir die land gebid sodat vrede behoue kan bly.
Uit die geledere van die weermag was daar egter deurlopend geluide dat hulle reg is om sonder om vrae te vra die land en sy inwoners se veiligheid te verdedig.
Dit het gespruit uit beweerde aanlyn dreigemente om vir Geingob te vermoor en Staatshuis aan die brand te steek.
Volgens adjunkmaarskalk Martin Pinehas, die waarnemende weermaghoof, was dit bitter volgelinge van verloorders van die presidensiële reis wat dié uitlatings gemaak het.
Veral Venaani en Swartbooi het toe gesê Pinehas jok en moet sy neus uit die interne veiligheid en sekuriteit van die land hou.
Die weermag moet kyk na die land se territoriale integriteit, behalwe as die president ’n noodtoestand afkondig, het hulle gesê.
In elk geval, sou dit ’n poging wees om hul monde te snoer, kan die weermag daarvan vergeet, het die opposisieleiers gesê.
Wat die toekoms vir die Land van die Dapperes nog alles inhou, sal net die tyd kan leer.
Maar wat allerweë as ’n voldonge feit aanvaar word, is dat 2019 ’n verkiesingsjaar soos geen ander was nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie