'n Ongewone vriendskap
'n Ongewone vriendskap

'n Ongewone vriendskap

'n Woestynaangepaste grootvoetwesie kry baie liefde en aandag op Okutala Etosha Lodge.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Alhoewel dit nie liefde met die eerste oogopslag was nie, is Frida en Amor nou onafskeidbaar en beste vriende.

Frida is 'n woestynaangepaste olifantwesie wat twee en 'n half jaar oud is, en Amor 'n sewe maande oue skaap.

Frida het in Augustus vanjaar by Okutala Etosha Lodge, 40 km suid van die Anderssonshek van die Etosha Nasionale Park, aangekom. Amor is by 'n buurman gekry om vir Frida geselskap te hou.

Volgens me. Monica Witulski, die lodge se bestuurder van die vrywillige werkersprogram Explorer, kan Frida nie alleen wees nie.

"Olifante is sosiale diere. As sy alleen was, sou sy weens eensaamheid sterf," het Witulski aan Noorderlig gesê.

Die liefdevolle Amor is by die astrante Frida in 'n groot kamp gesit sodat sy nie eensaam moet wees nie. Die twee het aanvanklik nie veel ooghare vir mekaar gehad nie. Frida het vir Amor haar ore geflap en getrompetter, maar nou is die onpaar paar beste maats.

Die oulike olifantjie het 'n hartseer geskiedenis en kom van die woestynaangepaste olifantgebied naby Purros in die Noordweste af. Frida se ma het aan natuurlike oorsake gesterf en sy is wees gelaat is. Frida sou óf van hongersnood omgekom het óf deur roofdiere gevang word.

Die twee kamerade word in 'n veilige, groot kamp aangehou en gevoer. Dit is groot genoeg vir Frida om fiks te bly.

Sy word mettertyd gerehabiliteer totdat sy gereed is om vrygelaat te word.

Die eerste opsie vir vrylating is om haar weer na die omgewing van die woestynaangepaste olifante te neem. Die tweede opsie is om haar in die ongerepte natuur van Okutala Etosha Lodge van 24 000 hektaar vry te laat.

Benewens olifante en renosters, is daar ook verskeie vlaktewild en wildsbokke soos blesbokke, koedoes, gemsbokke, elande, kameelperde en sebras, asook roofdiere soos hiënas, luiperds en jagluiperds.

Frida en Amor is maar twee van Okutala Etosha Lodge se diere waar 'n veilige hawe vir alle weesdiere - wild of mak - verskaf word.

Gemsbokke, elande, kameelperde, luiperds, jagluiperds en volstruise is van die weesdiere wat hier 'n heenkome gevind het.

Van die jagluiperds kom van die Cheetah Conservation Fund (CCF) naby Otjiwarongo af wat in ‘n reusekamp met geëlektrifiseerde heinings op Okutala vrygelaat is.

Gaste geniet ook 'n mak gemsbok met krom horings wat gereeld by die lodge se swembad water drink.

Oor die jare is verskeie diere - van groot tot klein, mak tot wild - deur Okutala Etosha Lodge se wildrehabilitasieprogram gered en gerehabiliteer. Indien jy op 'n beseerde of weesdier afkom, kontak hul reddingsfasiliteit by 081 126 4324 so gou as moontlik sodat die nodige reëlings getref en permitte gereël kan word nie.

Besoek gerus Okutala Etosha Lodge se Facebookblad by https://www.facebook.com/Okutala/ om die jongste nuus te volg oor die diere wat gered en gerehabiliteer is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!