'n Onheilige (drie-)eenheid

Vier maande ná die grondkonferensie is daar meer vrae as antwoorde oor die pad vorentoe om in mense se behoefte aan 'n eie stukkie grond en 'n menswaardige lewe te voorsien.
Yanna Smith
Yanna Smith - Namibië bevind homself by 'n baie belangrike kruispad.

Ná die nasionale grondkonferensie wat einde verlede jaar gehou is, bly die optimale vertolking en implementering van die resolusies 'n uitdaging.

Grond is 'n omstrede en emosionele kwessie in die land, spesifiek weens ons verlede en die ontneming van grond van inheemse mense ten gunste van setlaars van Europese afkoms.

Namibië staar vele maatskaplike en ekonomiese uitdagings in die gesig met onder meer hoë armoedevlakke, 'n gebrek aan toegang tot ordentlike behuising, sanitasie, gesondheidsorg en onderwys, en reuse-werkloosheid. Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) is die werkloosheidsyfer in 2017 37,3% van wie 43,4% die jeug is.

Die land se landbousektor speel een van die hoofrolle in die ekonomie, en is volgens sy aard arbeidsintensief en skep meer werksgeleenthede as die meeste ander nywerhede. Sy vermenigvuldigingseffek staan tussen N$3 en N$4 per N$1 belê.

Maar druk het op die sektor opgebou. Sy bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het sedert 1991 verminder. Volgens syfers wat deur die NSA verskaf is, het dié sektor vanaf 1991 tot 1996 5,7% bygedra. Die syfer het vanaf 2007 tot 2011 tot 4,7% gedaal en daarna 'n verdere daling vanaf 2012 tot 2107 van 3,9% getoon.

Die belangrikheid van landbou vir Namibië se ekonomie kan nie oorbeklemtoon word nie. Die sektor belê in landelike gebiede en hou landelike ekonomieë op verskeie maniere lewendig.

Werkskepping deur toerisme en landbou is enorm. Volgens syfers van die Wêreldbank het landbou in 2017 net meer as 20% van die werkmag van die land ondersteun, met 'n afname van net meer as 31% in 2010. In dieselfde jar het toerisme 14% van die werkmag gesteun. Baie - indien nie die meeste nie - van hierdie werksgeleenthede is in landelike Namibië.

Ná byna drie dekades van onafhanklikheid en vryheid, het die jeug en ander begin ongeduldig raak oor die stadige pas van verandering, die voortdurende armoedevlakke, grondloosheid en die opskiet van sinkhuise in informele nedersettings weens 'n gebrek aan formele behuising en ekonomiese geleenthede.

Radikalisme het verhoog en pleidooie vir radikale veranderinge raak harder, meer so ná die Suid-Afrikaanse stem vir grondonteiening sonder vergoeding.

Die tweede grondkonferensie is gehou om hierdie kwessies te takel. Die resolusies wat by die konferensie aanvaar is, blyk meer op die emosionele behoeftes van die grondloses te reageer, maar is ten beste vaag.

LANDBOUKUNDIGE

Volgens 'n onafhanklike landboukundige, mnr. Wallie Roux, “is die meeste van hierdie resolusies aanvaar volgens die verwagtinge van die grondloses”.

Hy het bygevoeg dat die resolusies ontwerp is om in sosioëkonomiese behoeftes te voldoen en nie volgens die ware ekonomiese beginsels en ekonomiese groei vir Namibië oorweeg word nie.

Ekonome is ook bekommerd en sê sonder versekerde eiendomsregte sal dit beleggers afskrik. Hulle is ook bekommerd oor die afname in landbouproduksie.

Grondonteiening sonder vergoeding, veral die nasionalisering van groot dele plaasgrond, is in lande waar toegepas, bewys dit is rampspoedig vir ekonomieë.

EKONOMIESE MISLUKKINGS

Navorsing van die ekonoom dr. Roelof Botha oor die Suider-Afrikaanse scenario het voorbeelde van reuse- ekonomiese mislukkings in Portugal, Spanje, Romenië, Viëtnam, Venezuela en Zimbabwe gelys.

In al dié lande het die verhouding van kapitaalformasie (netto kapitaal wat 'n land in 'n boekjaar bymekaar maak) tot die BBP skerp gedaal. Lande wat dié beleidsrigtings omgekeer het, se verhouding het gestyg. Dit gebeur as die aansporing vir produktiewe ekonomiese aktiwiteit, vervat in die besit van private eiendom, herstel word.

Hoewel onteiening sonder vergoeding ontmoontlik is in Namibië ingevolge die beskerming wat die Grondwet bied, skep die konsep van "redelike vergoeding" in die geval van onteiening kommer. Dit is een van die konsepte wat herdefinieer moet word.

Dit impliseer dat landbougrond slegs in besit kan wees solank die regering dit goedvind, en die grond sal nie 'n ope markprys hê met die regering se regulering van grondpryse nie.

EKONOME

Ekonome stem saam dat die primêre aansporing vir produksie, entrepreneurskap en ekonomiese inisiatiewe gebaseer is op ekonomiese stelsels waar private eienaarskap van eiendom deur die wet gewaarborg en beskerm is.

Die Fraser-instituut, wat opnames oor ekonomiese vryheid doen, het Namibië 113de (uit 167) in sy verslag van 2018 op die ranglys geplaas. Die statistieke is van 2016. Die instituut plaas private eienaarskap van eiendom en individuele keuse bo regeringsbesluitneming as 'n pilaar van ekonomiese vryheid en dus ekonomiese groei.

"Die beskerming van persone en hul eiendom wat hulle na regte bekom het, is 'n sentrale element van beide ekonomiese vryheid en burgerlike samelewing. Dit is inderdaad die belangrikste funksie van regering," het die instituut gesê.

Die strewe van die resolusies wat tydens die grondkonferensie geneem is, is om die beginsel van ‘n gewillige verkoper, gewillige koper met ‘n ander meganisme vir die bevordering van grondhervorming te vervang. Die onteiening van grond deur middel van billike vergoeding is egter al alternatief wat bespreek is. Dit is nie duidelik of die regering se eerste reg op aanspraak parallel met onteiening gebruik gaan word nie.

Verder is daar ook tydens die konferensie besluit dat die pryse van landbougrond gereguleer gaan word. Die impak hiervan op finansiering deur handelsbanke en die waarde van die kollateraal wat aangebied word, kan grondeienaars wat skuld teen die huidige waardes van landbougrond aangegaan het, erg benadeel.

Kundiges het ook hul kommer uitgespreek oor die sulke besluitneming deur die regering en die impak wat dit op die plaaslike ekonomie kan hê.

Mnr. Robert McGregor, ‘n ekonoom by Cirrus Capital, sê: “Om beleggings te trek wat groei sal bewerkstellig en werksgeleenthede skep, moet ‘n besigheidsvriendelike omgewing geskep en gekoester word. In die geval van Namibië beteken dit onder meer dat beleggers sekerheid het oor verskanste en gewaarborgde eiendomsregte.”

Volgens hom maak die “wyer beleidsomgewing” en onsekerheid voornemende beleggers katvoet. Die onsekerheid oor eiendomsregte - nie net dié van landbougrond nie, maar ook ander private eiendomme - asook die retoriek oor grondonteiening skrik beleggers af, sê hy.

McGregor wys voorts daarop dat buitelandse beleggers eerder hul geld belê in lande waar eiendomsregte nie bedreig word nie en die opbrengsmoontlikhede meer rooskleurig is. “Ons moet onthou hulle is onder geen verpligting om in Namibië te belê nie. Ons ding met ander lande vir hierdie beleggings mee.”

Namibië se kapitaalvorming (plaaslik bekend as bruto vaste kapitaalformasie) was 'n skamele 16% in 2017 – aansienlik minder as 2016 se 22% en die 33% in 2015.

“Die afwesigheid van voldoende vlakke van kapitaalformasie beteken ekonomiese groei word aan bande gelê vanweë fiskale onstabiliteit en verminderde belastinginkomste. Verder word indiensneming gekniehalter, die regering se vermoë om basiese dienste aan die groeiende bevolking te lewer, is belemmer en infrastruktuur kan nie meer behoorlik onderhou word nie,” meen Botha.

NEGATIEWE BOODSKAP

“Die gebrek aan ekonomiese beginsels as basis in die besluite wat tydens die grondkonferensie geneem is, stuur ‘n negatiewe boodskap uit in terme van beleggings in landbou, aangesien die risiko van ‘n te klein opbrengs op hul belegging vir beleggers te groot is,” sê Roux.

Hy is van mening dat die besluite primêr voorstelle was en oplossings op kort termyn bied, terwyl die langtermynregulasies nog ontwikkel moet word.

“Dit dra ‘n negatiewe boodskap uit aan die kommersiële landbousektor in dié opsig dat dit sê: ‘Hier is die voorstelle, maar die finale uitkoms – onageag of dit prakties moontlik is of nie – is nie bekend nie.’”

Hy is van mening dat die regering nie sy verantwoordelikhede op ‘n konferensie kan afskuif nie.

“Daar moet holities na ons nasionale doelwitte gekyk word. Tans word hulle as onafhanklik van mekaar beskou, wat nie die geval is nie. Empiriese navorsing is nodig om ons situasie te ontleed en te evalueer, en om die roete te bepaal waarop ons die nasionale doelwitte gaan bereik.”

Roux waarsku ook dat verminderde beleggings tot dalende produksie gaan lei. Dit gaan weer meebring dat abattoirs minder vir vleis gaan betaal omdat die kleiner deurset wins gaan beïnvloed.

Die negatiewe kringloop daarvan is dat minder geld beskikbaar gaan wees om ekonomieë in die plattelandse gebiede te bevorder.

Landbounywerhede en -besighede sal gedwing word om hul arbeidsmag te verklein en selfs takke op verafgeleë dorpe te sluit. Kleinhandelpryse kan styg wat beteken die insetkoste om te produseer, gaan styg, maan hy.

“Kapitaal, wat ‘n ononderhandelbare voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en groei is, toon die gedrag van ‘n wildsbok in die Afrika-bos: As hy skrik, hardloop hy weg,” verduidelik Botha aan die hand van dié metafoor.

Daar bestaan geen twyfel nie dat Namibiërs ‘n behoefte aan waardigheid en sekuriteit het.

Soos ‘n landboukenner, wat verkies om anoniem te bly, opgemerk het: “Daar is nie ‘n behoefte onder die breë bevolking aan ‘n plaas as sodanig nie, maar aan ‘n erf met ‘n titelakte wat sekuriteit bied en verhandel kan word, of van die een geslag na die volgende oorgedra kan word. Mense het behoefte aan ’n huis op daardie erf met lopende water en behoorlike sanitasie, asook ‘n werk of die geleentheid om entrepreneurskap aan die dag te lê.

“Verder wil hulle toegang tot goeie mediese sorg, onderwys en bekostigbare vervoer hê,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!