'n Oorwurm met die naam Mariah
Henriette Lamprecht – Jy durf die hitte en die “mall” op 'n Saterdagoggend vir die week se proviand aan en kom terug met 'n blerrie oorwurm wat soos 'n sonbesie op die warmste dag op Noordoewer onverpoos in jou oor skree.
Die tekens was reeds voor die eerste tree in die inkoopsentrum daar dat jy met meer as 'n waatlemoen en 'n liter melk huis toe gaan. Met die uitklim in die onderdakparkering kom die “ra-pam-pam” van die klein tromslanertjie jou reeds tegemoet nog voor jy die motor se deur gesluit het.
Net voor die roltrap vang 'n groen tossel jou oog en met die indraai links in die gang sien jy die slee en die liggies wat soos trane oor die relings drup.
In die eerste winkel met vrugte en groente teen afslagpryse, is al die bestanddele vir vrugtekoeke eerste in die ry. Al wat kort is die brandewyn of sjerrie om dit klam te doop.
Met die uitgaan, gang-af, na die volgende winkel, sing iemand van wit sneeu en kerse terwyl die November-hitte selfs in die verkoelde gange jou bolip laat sweet. By die kruidenierswinkel se ingang staan die rye en rye rooi Poinsettias in gelid op vier rakke, pot-teen-pot, dapper teen die hitte wat binnekort hul blare iewers in 'n oorverhitte sitkamer geelbruin gaan verbrand.
Op die punte van rye rakke word van goedkoop tot baie duur Kersklappers uitgestal. Vir goedkoop kry jy 'n oorgroot papierkroon en vir duur (weer) 'n naelknipper. Balletjies blink en groot (of klein), hordes en hordes stringe blink in van goud tot silwer. Liggies wat nou en dan flikker asof hulle aan beurtkrag en Eskom se buie onderwerp word en dié wat vonkel asof die hulp van 'n kragopwekker nog nooit ingeroep moes word nie.
Brood en melk onder die arm (die omgewingsvriendelike, herwinbare, nie-plastieksakke vir 'n omgewingsvriendelike omgewing wéér in die kar vergeet), storm jy na buite om net te ontsnap van die Kersfees-in-November-tra-la-la wat jou teen die tyd wurg en die dae laat tel vir Terug skool toe-winskopies.
As jy vinnig genoeg jou kaartjie betaal, vinnig genoeg tot by die kar hardloop, vinnig genoeg jou brood, melk en jouself inlaai en vinnig genoeg die deur toeslaan, is jy veilig. Net nog 'n paar tree en jy is veilig. En dan net voor jy jou kar se alarmknoppie druk en inspring in een beweging, kom haar trilstemmetjie. “All I want for Christmas is YOU,” skeur Mariah deur jou trommelvlies, gehoorbeentjies, buis van Eustachius, ovale venster, booggange tot binne in jou cochlea. Om.daar.te.loop.vas.sit. En net mooi niks wat jy doen, niks – van Kurt se Kaptein tot Nirvana se Come as you are tot Hände se Derde Simfonie tot jou laerskool se skoollied en die ou Suid-Afrika se Vlaglied kry vir Mariah uit nie.
Sit, sit sy met haar Kerskous op haar kop en haar wurm in jou oor. Dié Kersklingel uit Mariah se keel het in 1994 begin om die mensdom te irriteer, met meer as 3,2 miljoen kopieë van die triltreffer wat verkoop is.
Twee dekades later word dit sedert November 2016 die enkelsnit wat die meeste digitaal afgelaai word. Dit is ook die nommer een uit die tien “beste” Kersliedjies, kortkop voor Bing Crosby se White Christmas wat 50 miljoen kopieë wêreldwyd (steeds) verkoop het. Gee.my.krag.
Dalk tyd om wel, terug te gaan in tyd toe die sing van Kersliedjies en feesspeletjies tydens die Engelse burgeroorlog verbied is.
Dit ten spyte van die feit dat die Engelse die oorlog gewen en vir vyf jaar oor die Britse eilande koning gekraai het, verban Oliver Cromwell Kersfees. Ek stem vir Oliver. Bring vir Oliver terug.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie