’n Passat kán koppe laat draai
Jannie Hennop
Prys, die koms van sportnutse en die mediumgrootte sedans wat al hoe groter word, is waarskynlik die rede dat die vraag na groot sedans taan. Boonop kan jy vir die prys van ’n groot sedan selfs in die rigting van ’n kleiner Duitse premiumsedan begin loer.
Tog volhard ’n paar vervaardigers met hul groot sedans. Daar is Honda se oulike Accord, Ford se indrukwekkende Fusion, Lexus se waarde-vir-geld-ES250 en Volkswagen se uiters bevredigende Passat, wat die onderwerp van hierdie artikel is.
’n Paar van die grotes wat nie meer hier beskikbaar is nie, sluit die Mazda6, Suzuki Kizashi, Kia Optima, Hyundai Sonata en die Peugeot 508 in.
Die oorblywendes se gesamentlike maandelikse verkoopsyfers stoei om 100 te haal.
Tog bly dit darem lekker om in ’n groot sedan te ry. Ruimte is genoeg, waar dit soms, veral vir die agterste insittendes, in ’n mediumgrootte sedan kan knyp. Die kattebak is opgewasse vir ’n goue kredietkaart se kruideniersware, skooltasse van die kinders en hul maats, en as jy van slaan-en-soek hou, twee of drie gholfsakke.
Die nuweling is aansienlik groter as sy voorganger al is sy buiteafmetings min of meer dieselfde. Die groot verskil kom in by die asafstand. Die nuweling se vooras en agteras is 8 cm verder van mekaar. Wie stry oor ’n 586 liter-kattebak met ’n volgrootte noodwiel?
Dis asof Volkswagen besig is om hul ontwerp-mojo te vind. Laat ons eerlik wees: Golfs, Jettas en Passats laat nie die koppe draai nie. Ek meen tog die nuwe Passat sal wel ’n kop of wat kan laat draai.
Die vooraansig met die lang sierrooster en die goedgedefinieerde hooflighulse is die rede waarom dit aandag trek. Dit lyk goed, doelgerig en selfs sportief en aggressief. Die hele voorkant laat die Passat ontsettend breed en plat lyk en die ontwerp tref die kol.
Die toetsmodel was boonop met die R-Line-pakket afgewerk, wat ekstra kantskorte, aksente voor en ’n geïntegreerde drukvin op die bagasieklap insluit.
Die kantprofiel is tipies sedan, maar met ’n stewige, skuins daklyn wat heel modern lyk. Agter lyk dinge ook gaaf. Die uitlaatpype is netjies onder die buffer in hul eie huls geïntegreer en dit laat die agterkant afgerond lyk, luuks eerder as sportief of aggressief.
Binne lyk dit nou omtrent soos die nuwe Audi A4, ook met die luginlaat wat deurloop op die voorpaneel, asook die digitale instrumentasie. Alles is duidelik en logies uiteengesit, die sitplekke is gemaklik en daar is meer as genoeg ruimte vir ’n groot en lang persoon.
Jy kan jou Passat met ’n horde opsies geriefliker en veiliger maak.
Die toetsmodel was met Volkswagen se tweeliter turbo-petrolenjin toegerus wat ’n stewige 162 kW en 350 Nm bied, gekoppel aan ’n sesgang-dubbelkoppelaarratkas. Dit is meer as genoeg krag vir die Passat se stewige lyf, al is hy amper 100 kg ligter as sy voorganger.
Die ratkas werk naatloos en die Passat het lig in die hand gevoel. Die stuur en onderstel het gou gereageer en die kragstuur het altyd net die korrekte lading gehad.
Teen om en by N$500 000 is dit wel baie geld en die bykomende opsies se prys is nog nie eens by nie. Tog is die gemak en die standaardluukses van die Passat genoeg om ’n sterk saak daarvoor uit te maak op grond van prys en gerief.
Voeg dan die lekker enjin, soepel, sagte en stil rit, asook die aangename ruim kajuit by, dan mag die groot sedan dalk nie voor hardloop nie, maar hy is beslis ook nie dood nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie