u2019n Reis deur drie dekades
u2019n Reis deur drie dekades

’n Reis deur drie dekades

Minette Brink
Die bekende Namibiese kultuurhistorikus en skrywer, dr. Andreas Vogt, se boek In fremden Heeren is 'n unieke outobiografiese reis deur die 30 jaar voor onafhanklikwording.

Die boek is Dinsdag in die hoofstad bekend gestel.

Van sy kinderdae in Windhoek tot sy dae as inligtingsoffisier in die Suidwes-Afrika Gebiedsmag (SWAGM) word met soms sneeusnaakse vertellinge, grondige statistiek en geskiedkundige feite en foto's ingekleur.

Die SWAGM het slegs nege jaar bestaan, en is in die dekade voor die onafhanklikheid van Namibië op aandrang van die Suid-Afrikaanse regering op die been gebring.

In sy mees onlangse boek beskryf Vogt sy militêre loopbaan en belewenisse as dienspligtige in die eertydse SWAGM. Die verhaal verskyn in Duits aangesien daarin van skaars Duitse bronne gebruik gemaak is.

Die verhaal word vertel met die familiehistoriese agtergrond van alle manlike voorsate en naasbestaandes wat almal in die een of ander militêre verband hul militêre pligte gestand gedoen het. Die boek bevat ‘n sterk outobiografiese aspek en bied ‘n interessante insig in die tyd voor Onafhanklikheid (1960-90).

Die gebiedsmag was betrokke in ‘n beduidende aandeel in die land se veiligheids- en ontwikkelingstake. Tydens die soeke na ‘n politieke oplossing vir ’n pad na politike onafhanklikheid, is vrede, veiligheid en stabiliteit in die land as voorvereiste beskou vir sosioëkonomiese ontwikkeling. Benewens hul primêre taak, militêre veiligheid en beskerming, is daar ook burgersakeprogramme ten bate van burgerlikes van stapel gestuur.

Verder moes die regte klimaat geskep word vir die aktiwiteite van instansies soos die ou Bantoe-Ontwikkelingskorporasie, later die Eerste Nasionale Ontwikkelingskorporasie van Suidwes-Afrika (nog later hernoem FNDC). Insgelyks was die beskerming van die Ruacana-Calueque-waterskema ‘n voorvereiste vir landbou-ontwikkeling in Noord-Namibië.

Ander ontwikkelingstake was onderwys en opleiding (onder meer die Ongwediva-opleidingsentrum en die landboukolleges Ogongo en Mashare in Kavango) waar dienspligtiges as onderwysers en tegniese instrukteurs diens gedoen het.

Op ekonomiese terrein het die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en SWAGM in veral die Operasionele Gebied ‘n deurslaggewende rol as werkverskaffer gespeel (cuca-winkeltjies). Die teenwoordigheid van baie soldate het voorts die plaaslike meubel- en handwerkbedryf in veral die Kavango en Oos-Caprivi aangewakker. Dienspligtiges is destyds aangewend as landboukundiges, landbouvoorligters, bosboukundiges, veeteeltkundiges, veeartse en tegnici, selfs in afgeleë gebiede soos die destydse Damaraland en Hereroland.

Aangesien groot dele van die Operasionele Gebied geproklameerde natuurbewaringsgebiede was, het die SAW en SWAGM op die gebied van natuurbewaring ’n belangrike rol gespeel en is dienspligtige-natuurbewaarders gevolglik voorsien, lugopnames van wild in Kaokoland gemaak, rivierpatrollies in die Oos-Caprivi en kaplynpatrolering onderneem.

Veral op mediese gebied het die destydse Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens (SAGD), wat reeds sedert die jare sestig by mediese dienslewering in die hele land betrokke was, ‘n belangrike rol gespeel. In afgeleë gebiede soos die destydse Boesmanland was dit soms die enigste beskikbare dienste. Aangesien die oorlogsituasie normale mediese dienste beperk en ontwrig, asool bewegingsvryheid aan bande gelê het, is op groot skaal mediese dienste deur geneeshere, aptekers, chirurge, verpleegkundiges, radiografiste, oogkundiges en narkotiseurs verskaf.

Teatergeriewe en laboratoriumfasiliteite was op die meeste plekke beskikbaar, terwyl vervoer deur helikopters (vanaf afgeleë plekke) en ambulanse voorsien is. Elke sektor het trouens oor die dienste van laboratoriumtegnici, gesondheidsinspekteurs en maatskaplike offisiere beskik. Alle tandartse, sielkundiges en veeartse was destyds aan die weermag verbonde. Die SAGD het dus in die land ‘n omvangryke mediese infrastruktuur opgebou. Teen 1983 het die SAGD 76 dokters en 126 mediese ordonnanse in die Operasionele Gebied voorsien. Van die 248 246 pasiënte wat in 1982 by die 26 militêre klinieke aangemeld het, was 72% uit die plaaslike bevolking.

Verder het die SAW en SWAGM uitgeblink in die rol van noodleniging, en was deurgaans beskikbaar om hulp in gevalle van nood oor die hele land te verleen. Tydens oorstromings is lug- en padvervoer, tentakkomodasie en voedsel voorsien. Ook gedurende knellende droogtes is water vir mens en dier aangery, voedsel voorsien en in gevalle waar trekdiere gevrek het, is met die ploeg van landery gehelp. Mediese hulp is in noodgevalle (onder meer ná landmynontploffings) verskaf.

Op die gebied van sosiaal-kulturele ontwikkeling het die SAW en SWAGM ‘n belangrike rol gespeel, met onder meer hulp en leiding in die stigting van orkeste en kore by talle voltydse hulpdienseenhede; ‘n kultuurorganisasie vir Owambo’s by Eenhana; damesklubs onder leiding van vroue van staandemaglede; die reël van opvoedkundige toere vir byvoorbeeld kore en en toneelgroepe na die RSA; jeugweerbaarheidskampe en die verleen van materiële ondersteuning van die sogenaamde stamfeeste. Wat sport betref, is talle sportsoorte vir die eerste keer aan sommige groepe soos die San bekend gestel.

Die skrywer het reeds ’n rits historiese en kultuurhistories werke, sook menigte artikels in verskeie plaaslike media gepubliseer. Hy woon in Windhoek.

In fremden Heeren is by Namibia Book Market beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!