’n Reis die verlede in
Tanja Bause – Wanneer ’n mens met die B4 na Aus ry, draai die C13 na Rosh Pinah sowat 5 km voor die dorpie links af.
Kort na die afdraai is daar ’n bordjie waarop “Prisoner of War camp” staan. Hier is die oorblyfsels van die enigste krygsgevangekamp in Namibië.
Die Eerste Wêreldoorlog het in Augustus 1914 begin en vroeg in 1915 het die Suid-Afrikaanse troepe hul weg deur die Duitse kolonie van die destydse Suidwes-Afrika geveg.
Op 9 Julie 1915 het die Suidwes-Afrika-veldtog geëindig met die oorgawe van gewapende magte van die Duitse Protektoraat by Khorab, noordoos van Otavi.
Een van die voorwaardes was dat alle Duitse offisiere, aktiewe troepe en lede van die Duitse polisie tot die einde van die oorlog geïnterneer moet word. Hulle is na die krygsgevangekamp buite Aus geneem waar hulle tot die einde van die oorlog in April 1919 gebly het.
Altesame 1 552 gevangenes is per trein na die tentekamp 5 km oos van Aus geneem. Dit was ook nie lank nie voordat hulle besef het hoe ekstreem die weersomstandighede op die vlaktes daar kan wees. In een week in September 1915 het warm winde en versengende hitte die kamp geteister. ’n Rukkie later is dit deur bitter koue en sneeu gevolg. Die gevangenes het besef die tente waarin hulle bly, was nie voldoende nie en dat hulle beter skuilings sou moes bou.
Gevolglik het hulle modderbakstene gemaak wat in die son gedroog is. Hulle het huisies gebou wat gedeeltelik ondergronds was om hulle teen die ekstreme weersomstandighede te beskerm. Kort voor lank het die gevangenes beter behuising gehad as hul Suid-Afrikaanse bewaarders, wat nog gewag het vir hul houthuise om afgelewer te word.
Die gevangenes het groente- en blomtuine gekweek, sport beoefen en ’n monument gebou om die keiser se verjaardag op 27 Januarie te vier. In 1916 het die Suid-Afrikaners waghuise in elke hoek van die kamp opgerig en die gevangenes is 10 sjielings vir 1 000 bakstene betaal.
Die grieppandemie van November en Desember 1918 het die lewe van 65 gevangenes en 80 bewaarders geëis. Hulle is op ’n klein begraafplaas noord van die B4 begrawe.
Oorblyfsels van die krygsgevangekamp kan nog gesien word. Daar is ’n groot gedenkplaat by die ingang en die oorblyfsels van die steenhuise is nog duidelik op die vlaktes sigbaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie