'n Régte, egte seder het hierdie week geval
Denver Kisting - “Jy leef net een keer? Verkeerd! Jy stérf net een keer.” – Mae West
In November 2016 val die reuse-eer my te beurt om die heel laaste media-onderhoud met ambassadeur Nora Schimming-Chase te voer.
Vir twee ure het ek en die fotograaf aan die lippe gehang van sonder twyfel een van die kleurrykste en interessantste mense wat ek in my lewe teëgekom het.
Sy het hedendaagse én destydse Namibië in 'n konteks geplaas wat min ander haar kan nadoen. Van (kop)doekies omdraai was daar geen sprake nie.
Dié gesoute diplomaat en vuurvreterpolitikus se fyn waarnemingsvermoë het 'n diep genuanseerde blik op ons politieke en sosioëkonomiese milieu gebied wat my stééds bybly.
Die trots wat sy gesê sy as Namibiër vir haar land voel, het 'n glimlag om haar mondhoeke laat vorm te midde van gewigtige onderwerpe wat daai dag onder die loep geneem is.
Haar liefde vir die vaderland het haar egter nie verblind vir die uitdagings wat die land in die gesig staar nie.
Die behuisings- en grondnood móét aangespreek word, het sy gemaan.
Daar moet dieper in die geslagsgegronde geweld wat die land kielhaal, gedelf word, was haar raad.
Daarnaas had sy 'n vlymskerp humorsin wat heilige koeie listeriosevry sou laat.
En selfspot was sonder twyfel haar métier.
Onder meer, het sy in die oggendsonnetjie op haar Klein Windhoek-stoep geskerts, die kopdoek wat sy daai dag gedra het, was nie vleiend vir haar omstandighede nie.
Ewe stuitig het sy bygevoeg dat die rolstoel asseblief nêrens op die foto's sigbaar moet wees nie, want 'n besige vrou soos sy het geen tyd vir onnodige kuiergaste wat haar wou kom bejammer nie.
Fisiek het beroertes en ander kwale haar toe al erg verrinneweer maar daai gees was steeds onverskrokke. Onstuitbaar.
Kort duskant afgelope Dinsdag se sonsopkoms kry ons haar tyding – dié regte seder het geval.
Wat lank ná daai stoepgesprek in my binneste gemaal het en die afgelope week weer 'n knaende rol vertolk, is: Hoe verwyl ék my dae?
Wat maak ék met die gawe van lewe?
Gryp ek die lewe elke dag by die knaters en probeer ek 'n impak hê?
'n Verskil teweegbring? Of speel ek steeds veels té veel die rol van 'n slagoffer?
In die doodsnikke van 2017 bevind ek myself vasgegespe aan en tussen die bene van 'n lang, lenige Johannesburger in 'n piepklein vliegtuigie reg bo die klotsende branders van die Atlantiese Oseaan.
Oomblikke later sou ek en dié man, my tandemmeester, wat ek van geen sout of water geken het nie, knus saam uit daai vliegtuigie spring.
Nou, glo dit of nie, maar mens betaal ten duurste vir dié avontuur, wat ek seker is selfs my guardian angel se maag in die hiernamaals – of waar sy ook al is – bollemakiesie sou laat slaan het.
Van rus in vrede het my arme oorlede moeder, self 'n Mensch, maar min, maar dís 'n verhaal vir gans 'n ander dag.
Ek is dankbaar dat ek oorleef het om hier te kan sit en skryf en die valskermstaaltjie te kan vertel.
Die punt wat ek egter eintlik lomp probeer maak, is dat ek dikwels weer na die video kyk om te sien waartoe ek in staat is.
Om myself opnuut daartoe te verbind dat ek geen vrees die oorhand ooit sal gee nie.
So stroperig soos die cliché mag wees, is “onmoontlik” niks anders as 'n versinsel wat in ons koppe woon sonder om huur te betaal nie.
Ek beskou pret en avontuur as waardes en 'n absolute prioriteit in elke sfeer van my lewe.
Oor sowat twee weke gaan ek 21 km in die watervrye iKapa hardloop en nóg 'n emmerskoplys-item afmerk.
Op die vooraand van Antie Nora se begrafnis môre verbind ek my vandag opnuut tot my wildste, maar geldige drome: Ek kan en sal álles en álmal op my lysie doen terwyl ek elke dag leef, want ek sterf net een keer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie