Ná ses jaar weer Tara-sukses vir Dippenaar

Richard Slamet en Wiets Coetzee moes halfpad met brandprobleme onttrek.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Nadat Wilro Dippenaar in 2011 saam met navigator Morné du Toit sy eerste Tara-tydren as agtienjarige gewen het, het hy Saterdag weer so gemaak toe hy saam met Riaan van der Westhuizen die 2017-weergawe opgeraap het.

Dippenaar wat die afgelope klompie jare saam met Van der Westhuzen in die navigatorsitplek in Namibiese kompetisies meeding, het nege uit die 17 moordende sneldele in en om Windhoek ingepalm, om die 127.43 kilometer in ’n totale tyd van 1 uur 20 minute af te lê.

Dippenaar se S2000 Klas 3 Shell Vivo 4x4 Toyota Auris (PZN Racing) het die afstand teen ’n gemiddelde spoed van 95.57 kilometer per uur afgelê, terwyl Jaco Redelinghuys en navigator Dries Booysen se S2000 Klas 3 4x4 Redco Toyota Yaris met 94.17 km/h in ’n tyd van 1 uur 21 minute 19 sekondes gevolg het.

Die derde vinnigste span met 1:25:09 was Allan Martin en navigator Derek Jacobs met hul S2000 Klas 3 J&P Hydraulics 4x4 VW Polo in 89.85 km/h.

Behalwe dat Dippenaar, Redelinghuys en Martin die S3-klas oorheers het, het hulle ook algeheel eerste, tweede en derde geëindig. Redelinghuys het net drie van die 17 sneldele ingepalm, maar sy bestendige bestuurstyl het die knoop deurgehaak om beste kompetisie vir Dippenaar te verskaf. Martin se Polo is weens ouer tegnologie dalk ietwat stadiger as die van die twee voorlopers, maar sy vreeslose aanslag het opnuut aan hom die derde plek besorg.

S4-klas: In die S4-klas het Willem Hugo en navigator Mandi Hugo in 1:32:59 s geseëvier, met Oswaldo Mendes en navigator Kes Naidoo tweede in 1:34:18, terwyl die derde posisie in ’n tyd van 1:34:18 deur Marco Luis en De Wet du Plessis in 1:42:48 gevul is. Al drie ry in 4x4 WRX Subaru 2-liter Turbo’s.

S2-klas: 1 Jan Everson en Fanie Botes, VW Polo, 1:47:29. 2 Gert Coetzee en Hugo Arangies, VW Golf, 1:51:34. 3 Tinus Malan en Paul van Niekerk, Toyota MR2, 2:23:50.

S1-klas: 1 Dr. Hanré Myburgh en Geon Ellis, VW Polo, 1:44:01. 2 Pieter Greef en Nola Louwrens, 2:04:05. Myburgh het só goed gejaag dat hy selfs die vinniger S2-deelnemers met bykans drie-en-’n-half minute uitgestof het om algeheel sewende te eindig. Sy tyd was net 73 sekondes stadiger as die derde posisie in die S4-klas.

Van die 15 inskrywings het 12 deelnemers die finale sneldeel gemaak, maar ongelukkig moes Cecil Koorts/Oscar Schoombee (OR-klas) reeds in die eerste sneldeel agter Rocky Crest tou opgooi, terwyl Richard Slamet en Wiets Coetzee se vurige S4-klas I-S Freight Services 4x4 WRX Subaru Impreza Sti ná sneldeel nege by Harmony weens brandprobleme onttrek moes word.

Die broers Jannie en George Coetzee se S2-klas VW Polo is ook ná dieselfde sneldeel finaal op die sleepwa gelaai.

Die borge wat die 2017 Windhoek Motorklub en Vriende Tara-tydren moontlik gemaak het, is Safari Engineering & Terrain Tamer, Gunite Pools, Sky-Way Investments, Atlas Copco, Chubb, Sat-Com, M + Z Motors, Super Tyres, Sign Factory, Kosmos 94.1, IS-Freight Services en City Clutch & Brake.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer