'n Skatkis van eg Namibiese letterkunde

Die Windhoek Woordfees moes noodgedwonge vanjaar afgestel word, maar dit het egter nie die plaaslike woordsmede van stryk gebring nie.
Yandi Du Plessis
Toe die geleentheid vroeër vanjaar afgestel is, het dr. Chrisna Beuke-Muir, die samesteller en voorsitter van die Windhoek Woordfees, in 'n verklaring geskryf: “Gelukkig kon die skrywers aanhou skryf, en waarskynlik het die kreatiewe sappe sterk gevloei in hierdie tyd van relatiewe afsondering en vreemde gewaarwordinge!”

Dié stelling blyk waar te wees, want Land onder woorde word op 27 November bekend gestel. Dié gekombineerde bundel (poësie en kortverhale), is deur Beuke-Muir saamgestel en bevat die skrywe van meestal aspirantskrywers wat die geleentheid gekry het om hul werk in boekvorm te laat realiseer.

Die wenners in elke kategorie (kortverhale en poësie) is elk N$10 000 ryker. Prof. Andree-Jeanne Tötemeyer is as wenner van die poësie-afdeling aangewys, en Emmie Bedeker as wenner van die kortverhaal-kategorie.

Drie bekwame beoordelaars, dr. Emma Kirchner van die Universiteit van Namibië (Unam), Carina Stander, 'n skrywer en aanbieder van verlede jaar se WWF-skryfkursus, en dr. Marius Swart van die Universiteit Stellenbosch (US), het vanjaar se inskrywings geëvalueer en moes die moeilike taak aanpak om slegs twee wenners uit al die inskrywings te kies.

Die digkuns-afdeling was glo veral 'n uitdaging, aangesien 'n inskrywing 'n haikoe, 'n sonnet, 'n limeriek, 'n vrye vers én 'n gedig van die digter se eie keuse bevat het.

Volgens Beuke-Muir was die idee om digters aan te moedig om buite hulle gemaksones te beweeg.

Die skrywer kon self 'n tema in die kortverhaal-afdeling kies, solank die verhaal binne die 3 000-woordbeperking gebly het.

Die jongste persoon wat ingeskryf het, was maar 13 jaar oud. Nadat die wenners aangewys is, is Namibiërs uitgenooi om nog verhale en gedigte in te stuur.

WYSHEID SKYN DEUR

“Wat die inhoud betref, kan mens nie anders as om 'n eggo van die wysheid van ons land raak te sien nie. Die byna ononderhandelbare liefde vir hierdie barre stuk aarde duik gedurig op. Die Namib-woestyn met sy onsigbare lewe, droogtes wat die laaste bietjie lewe uit 'n grashalm tap, en die lang afstande wat afgelê moet word as jy by die volgende dorp wil uitkom, is maar enkele van die tipes Namibiese ervarings wat verbeeld word. Saam met die uitdagings wat die uitgestrekte land aan sy mense stel, word die swaarkry universeel aan menswees met humor en 'n ontembare gees van optimisme vervleg in die versreëls van gedigte en die paragrawe van verhale,” skryf Beuke-Muir in die voorwoord van Land onder woorde.

Volgens haar is die feit dat die hele bundel Namibies georiënteerd is (vir Namibiërs, deur Namibiërs), 'n groot voordeel vir leerlinge en liefhebbers van letterkunde. Daar is 'n beduidende gebrek aan Namibies-gesentreerde literatuur.

“Die Namibiese temas, geskryf deur Namibiërs, kan verder in ons leerders se gedagtewêreld die saad saai dat die kreatiewe skryfwerk van Namibiërs met hul fyn waarnemingsvermoë daadwerklik bydra tot die Afrikaanse literatuur in sy geheel,” skryf sy.

Bedeker, die wenner van die kortverhaal-kategorie, sê dié toekenning dien vir haar as bevestiging dat sy wel met woorde kan omgaan. “Dit moedig my aan om net voort te skryf!

“As ek skryf, reis ek meer na binne en na my eie ervaringswêreld as wat ek op die eksterne omgewing reageer. Ek skryf uit 'n bevoorregte posisie en hoewel ek my die swaarkry van ander kan voorstel, laat ek dit liewer aan hulle oor om self hulle stemme daaroor te laat hoor. In my alledaagse lewe sal ek wel opstaan vir die randfigure,” sê sy oor die invloed wat die huidige wêreldtoestand op haar skryfwerk gehad het.

Bedeker sê die bundel is 'n waardevolle toevoeging tot Namibiese letterkunde. “Ek is geweldig trots op hierdie bundel. Ek glo dit gaan alle skrywers in Namibië aanmoedig om meer te skryf, of te begin skryf.”

Dalk is dit vir uitgewers 'n aanmoediging om meer Namibiese skrywers te publiseer, sê sy.

'PUBLISEER MEER NAMIBIESE WERK'

Tötemeyer sê net om vir die Woordfees in te skryf, was reeds tot haar voordeel, selfs al het sy nie gewen nie. Sy sê die verskillende digvorme, veral die haikoe, was haar grootste uitdaging. “Dis 'n uiters moeilike versvorm, maar nou is ek mal daaroor. Ek leer ook baie en geniet die uitstekende werke van die naaswenners onder die wedstryd-inskrywings; daar is sommige van hulle wat die prys ook sou verdien het,” sê sy.

Die poësieprys het haar ook in staat gestel om 'n ideaal te verwesenlik – om haar eie bundel kinderverse te publiseer. Sy het die wengeld dadelik opsygesit en kondig trots aan dat haar bundel, Kaalvoet in die reën en ander kinderverse, eersdaags sal verskyn.

Dit bevat 103 kinderverse vir die ouderdomme 0 tot 12 jaar, insluitend 'n aantal opvoedkundige versies vir die junior primêre fase.

“Ek beplan ook om nou baie meer vir volwassenes te skryf; ek beoog 'n hele reeks kortverhale,” sê sy.

“Ek besing die Namibiese natuur en ook die natuur in die algemeen waarheen ek ook al reis, in die hoop dat lesers, veral Namibiërs, sal besef hoe kosbaar en kwesbaar die ongerepte dele van ons land is. My werk sluit ook ander temas in: In een van my vrye verse stel ek die futiele beheptheid om die verouderingsproses van die vroulike liggaam teen te werk, aan die bod. Dan bevat my nuwe bundel kindergedigte, twee corona-versies; in een van die verse word 'n huis beskryf waarin werkloosheid en die honger reeds heers,” vertel sy.

Tötemeyer sê dit is hoog tyd dat begaafde skrywers van Afrikaans in Namibië aan die woord kom.

Die plaaslike letterkunde-bedryf kry swaar; uitgewers kan sonder subsidiëring nie eintlik bekostig om letterkunde te publiseer nie, tensy 'n boek vir die skole voorgeskryf is. Die hoop bestaan nou dat indien die Woordfees deur middel van inkomste uit die verkope van Land onder woorde, veral deur die skole, wins kan maak, meer boeke in Afrikaans in die toekoms gefinansier sal kan word, voeg sy by.

“Daar is nog baie leemtes. Uiters min word vir kinders in Afrikaans in Namibië gepubliseer. Daar bestaan 'n groot behoefte vir Afrikaanse kinderboeke en dit word nie algemeen besef nie en dus ook nie watter mark vir publikasie hier braak lê nie. 'n Mens kan maar net 'n beroep op weldoeners doen om dr. Fanie Marais se voorbeeld te volg en ruim by te dra tot meer publikasies in Afrikaans om skrywers te stimuleer om produktief te raak. Die talent is daar. Land onder woorde het dit bewys.”

Beuke-Muir het Cordis Trust Publikasies bedank, wat die bundel uitgegee het.

“Dit is my wens dat hierdie kreatiewe werkstuk vir elkeen wat dit onder oë kry, groot vreugde sal besorg,” sluit sy af.

Die digbundel kan teen N$230 by dr. Beuke-Muir by [email protected] bestel word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!