'n Sober Kersfees
Kom ons wees nou maar eerlik: Drank is die wortel van baie kwaad en hartseer in Namibië.
Drank én dwelms is die oorsaak van die meeste van ons land se maatskaplike probleme.
So dikwels word in howe van beskuldigdes van ernstige misdade soos moord, verkragting, geslagsgeweld, strafbare manslag of roekelose en nalatige bestuur gehoor dat hulle onder die invloed van drank of dwelms was.
"Jammer, edelagbare, ek kan niks onthou nie, want ek was dronk of hoog," is dikwels beskuldigdes se verweer.
Namibiërs spog graag dat hulle op die toplys pryk van lande wat per capita die meeste drink.
Dit is nie 'n prestasie nie, ook nie iets om op trots te wees of te spog nie. Dit is 'n skande.
Ná die Fishrot-6-sage, staan ons reeds as 'n korrupte nasie bekend. Ons kan nie nog as 'n dronk nasie berug wees nie.
'n Dronk mens is nie 'n mooi of slim mens nie. Slegs 'n dronk mens dink hy of sy is superslim. Sommige mense kan geensins hul drank hanteer nie.
Sommige drinkers raak snaaks, vrolik en wil sing en dans, maar ander raak aggressief en gewelddadig.
Ander wil die lewensgevaarlike ding doen en agter 'n stuurwiel inklim. Gaan kyk gerus na die ongelukstatistieke hoeveel ongelukke deur dronk bestuurders veroorsaak word. Té veel.
Daar is niks daarmee verkeerd om 'n yskoue bier by die viswaters te geniet nie. Geniet gerus 'n goeie wyn saam met die Kersete, maar deel die bottel.
Die antwoord lê in matigheid voor oë.
'n Geseënde - en meer sober - Kersfees vir alle Namibiërs en hul geliefdes.
Só sê ander: 23 Desember 2019
Bojo slaan 'n bres weens leemtes by die Arbeiders
Die begeerte om Brexit ná drie jaar se politieke chaos agter die rug te kry was ongetwyfeld 'n belangrike rede vir die Konserwatiewe Party se onomwonde oorwinning in vandeesmaand se algemene verkiesing.
Immers, premier Boris Johnson se standpunt ten gunste van Brexit was glashelder teenoor die digte wolk mis wat oor die Arbeider-leier, Jeremy Corbyn, se houding gehang het.
Maar dit sou 'n fout wees om die oorwinning slegs aan die Brexit-kwessie toe te skryf. In sekere sin kan die uitslag beskou word as 'n sege vir een van Johnson se voorgangers, wyle Margaret Thatcher.
Thatcher was die leier wat onbeskaamd 'n konserwatiewe sosiaal-ekonomiese beleid gevolg het. Met ander woorde, finansiële dissipline om nie meer uit te gee as wat die staatskas bykry nie, voldoende ruimte vir die private sektor om werk te skep en vir die gemeenskap om sover moontlik op eie bene te staan en nie vir alles van die staat afhanklik te wees nie.
In die pas afgelope verkiesing wou Corbyn, 'n linkse ekstremis, terug na die onwerkbare linkse idees van sy mislukte voorgangers. Hy het die prys daarvoor betaal. In die Arbeider-geledere het nou 'n amperse burgeroorlog uitgebreek oor wie Corbyn moet opvolg. Die breuklyn tussen sentriste en linkse ekstremiste is duideliker as ooit. – Die Burger

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie