’n Spoeltoilet en son-yskas in Havana
'n Paartjie in 'n informele nedersetting sê ledigheid is die duiwel se oorkussing.
Tanja Bause - In die agterste hoek van die Havana- informele nedersetting in Windhoek het ’n man ’n spoeltoilet vir sy familie gebou.
Maar dit is nie al nie: In die sinkhuis staan ’n yskas, ook deur hom gebou, wat met sonkrag werk en waaruit hy yskoue water bedien.
Fillipus Shambwangala (36) en sy lewensmaat, Hilde Kadila (35), is die paartjie agter die indrukwekkende blyplek en tuin.
Hulle is beide op Outapi die Omusatistreek gebore, waar hulle graad 12 voltooi het.
“Ons het op 10 Januarie 2011 Windhoek toe getrek op soek na ’n beter lewe. Ons het in die sinkhuis by my suster gaan bly, ook hier in Havana,” het Fillipus gesê.
Terwyl hy na vaste werk op soek was, het hy verskeie tydelike werke gedoen.
“Ek het alles gespaar wat ek kon, sodat ek vir my lewensmaat en ons seun, Bromeus (8), ’n huis kon bou. Met alles wat gespaar is, het ons begin sinkplate koop en ’n entjie van my suster af ons eerste baie klein huisie gebou,” het hy gesê.
Vandag staan daar ’n sinkhuis met vyf vertrekke op die erf.
“Ons het ’n ontvangsportaal, eetkamer, sitkamer, kombuis en ’n slaapkamer, met die spoeltoilet wat buite is. Ons eerste huis pas in ons huidige sitkamer,” het Hilde gesê.
“Ons stel vir onsself doelwitte van wat ons in watter tydperk wil bereik en dan doen ons alles in ons vermoë om dit te bereik -wat ons doen,” het Fillipus gesê.
Volgens is hy altyd op soek na dinge wat hom besig hou, en wat hy kan doen.
TUIN
“As toetsprojek het ek in ’n balie spinasie geplant. Ek wou kyk of dit sal groei en of ek groente kan plant. Dit het en ek kon. Vandag verdien ons amper al ons geld uit die groenteverkope. Ons plant onder meer spinasie, broccoli, kool, tamaties, uie, aartappels, knoffel, mielies, wortels, kruisement en radyse.”
Hulle verkoop die groente aan die omliggende gemeenskappe.
“Daar is baie mense wat op medikasie is, wat moet eet voordat hulle dit kan gebruik. Ons het so ses mense vir wie ons groente gee sodat hulle die medikasie kan vat. Daar is ook baie mense wat honger is en vir kos kom vra. Ek sal hulle een keer kos geen en dan verduidelik ek vir hulle hoe om hulle eie groente te plant. Ek kan nie vir almal sorg nie, maar ek kan hulle leer om self te plant,” het Fillipus gesê.
Volgens hom is dit nie nodig dat daar enigiemand in Namibië honger ly nie.
“Namibiërs hou daarvan om rond te sit en wag dat een of ander buitelander of die regering kom en hulle help. Julle is nie gebreklik nie en kan opstaan en vir julleself iets doen. Plant ’n tuin, maak ’n stoel, doen net iets,” het Fillipus gesê.
In die middel van die tuin en voor die huis is ’n verhoog wat hy self gebou het. Die drie trappe lei na stoele en banke, ook deur hom gemaak, onder ’n groot sonskerm. Wanneer jy jou plek op een van die stoele inneem kyk jy nie net uit oor die groentetuin nie, maar ook oor die ‘grensmuur’ wat uit sinkplate gemaak is, en op die berge en veld.
“Dit is wat ons ons verhoog noem. Hier sit ons as ’n familie en bespreek die volgende dag se take en ons doelwitte,” het Hilde gesê.
“Ons is lewensmaats en ons sit daagliks ons skedule uit. Daar is nie ’n ding soos dit is ’n man of ’n vrou se werk. Ons doen dit saam. Wanneer ek dorp toe moet gaan, versorg Hilde die tuin en omgekeerd. Die tuin het elke dag aandag nodig en ons deel alles. Dit is nie ’n geval van my of jou werk nie; dit is óns werk. Ons is in ’n gesamentlike onderneming,” het Fillipus gesê.
Die naaste waterpunt is by ’n kommunale betaalmeter wat sowat 60 meter van die huis geleë is.
Tot ses keer per dag vat hulle 'n selfgeboude trollie gelaai met houers om water vir die huis, toilet en tuin te gaan haal.
In die tuin is ’n paal met ’n bewegingsensorlamp wat met sonkrag werk. Die lamp is aan ’n lamp in die hoofslaapkamer gekoppel.
“Mense kom steel groente, dus het ek die paal opgesit. Wanneer iemand in my tuin is, gaan die lig in my kamer aan en word ek wakker. Ek besef mense is honger, maar dit is geen rede om te steel nie. Kom vra en ek sal vir jou gee en leer, maar moenie steel nie,” het hy gesê.
Hy kan weens ’n gebrek aan grond nie sy tuin verder uitbrei nie. “Daar is baie grond. As ons dit kan kry en in ’n gemeenskapstuin omskep, kan almal werk en nie honger wees nie.”
HERWINNING
“Ek gaan gedurig in die veld stap en tel goed op wat mense weggegooi het. Ek vat dit huis toe, maak dit skoon en bou iets daaruit vir my familie,” het Fillipus gesê.
In die sitkamer staan ’n klankstelsel met talle luidsprekers. Fillipus koppel sy selfoon en musiek begin speel.
“Kyk by jou voete. Die luidspreker vir die televisiestelsel is in die vloer ingebou sodat die klank van onder af kom. Die luidsprekers het ek almal opgetel en herstel.”
Alle meubels in sy huis het hy self gemaak. In die voorportaal staan twee stoele.
“Dit is die eerste stoele wat ek destyds gemaak het toe ons in die klein sinkhuis gebly het. In die sitkamer staan die tweede stel stoele en die eetkamertafel.”
Die eetkamer, kombuis en sitkamer het almal ingeboude kaste en in die voorportaal staan ’n boekrak vir al sy boeke.
“Ek sien baie kere mense wat op pad bos toe is om goed weg te gooi. Dan volg ek hulle en tel op wat hulle weggegooi het. So het ek die voorafvervaardigde sementmuurblad opgetel wat ek vir die bou van die trappe gebruik. Die slaapkamer staan bo-op die pale van die mure sodat die kamer gelig is en ek oor die tuin kan uitkyk. Nou het ek ook plek om onder die kamer nog te plant én my goed te bêre.”
WATERGEBRUIK
Alle water word nadat dit in die kombuis of stort gebruik is, na die plante herlei. Fillipus het ’n volledige wateropvangs- en herwinningstelsel uit herwinde materiaal aangelê.
Hy het ’n baie diep put vir die toilet gegrawe. ’n Deksel is bo-op gesit met ’n pyp sodat die gasse kan ontsnap en die riool binne bly. Buite die toilet staan 'n emmer met water wat aan ’n pypstelsel gekoppel is wat na die toiletpot in die huisie lei. ’n Kraan beheer die watervloei. Wanneer jy klaar jou draai gestap het, maak jy die kraan oop en afhangende van hoeveel water jy nodig het, laat jy die water loop.
“Deur die toilet verhoed ons ope ontlasting en hepatitis E. Dit is ook baie veiliger, veral vir Hilde wanneer sy in die nag die toilet moet gebruik. Sy kan nie bos toe gaan nie; dit is gevaarlik vir vroue en kinders.”
Die water wat na die emmer buite die toilet loop, kom uit die eetkamer.
Wanneer dit reën het Fillipus alles in plek om die water op te vang vir gebruik. Geute op die dak vang die water op en herlei dit na die wasbak in die eetkamer. Hier word die groente gewas. Die water kan dan met drie verskillende pype na die kombuis, die tuin of toilet gelei word.
“Ons mors geen water nie. Alles word gebruik wanneer dit kan, en eindig in die toilet of tuin op.”
Hy het by die ingang tot sy tuin en huis twee sogenoemde ‘tippy taps’ vir hande was.
“Hepatitis E is ’n baie groot probleem hier omdat mense nie hulle hande was nie. Die een houer het seepwater in sodat mense nie seep wat in water lê of verniel lyk, hoef te gebruik nie. Die tweede houer het skoon water in vir die afwas van die hande. Die seepwater loop in die grond in en die skoon water word met ’n pyp na die koolbeddings toe gelei. Ek hoef my nie oor die kool te bekommer nie omdat ons gereeld hande was en hulle water kry.”
NAALDWERK
Hilde het haar eerste rok met ’n naald en garing gemaak en agtergekom dat sy naaldwerk kan doen.
“Ons het van die groente verkope en genoeg geld gespaar sodat ek ’n elektriese naaimasjien kon koop. Nou sit ek in my naaldwerkkamer en maak tradisionele Oshiwambo-rokke, togas vir gradeplegtighede . . . eintlik enige klere,” het sy gesê.
Die naaldwerkmasjien word ook met sonkrag aangedryf.
“Ek is bereid om vroue van die gemeenskap te leer hoe om naaldwerk te doen as hulle gewillig is en wil leer.”
OPLEIDING
“Ons is berei om enige Namibiërs te leer wat gewillig is, sodat hulle hu eie lewe kan verbeter.
“Ons is geneig om baie lui te wees en rond te sit en wag dat iemand vir ons iets gee of iets doen. Ons wag op die regering en maak nie gebruik van ons talente en verstand wat ons verniet van God af gekry het. Kyk na ons: Ons het geen opleiding oor landbou, naaldwerk, sonkrag, loodgietery of elektriese werk gekry nie. Ons het slegs graad 12, maar ons dink uit die boks en ons is nie bang om goed aan te pak en te probeer nie,” het Fillipus gesê.
“Ons is beide bereid om ons kennis verniet te deel met enigiemand wat belang stel. Ons het ook met niks begin nie, so ons weet dat mense nie geld het om vir kennis en opleiding te betaal nie. Daarom deel ons dit met graagte verniet sodat ons almal kos op die tafel kan hê,” het Fillipus gesê.
“Ons sit hier in ’n plakkerskamp en is werkloos. Ons kan op ons stêre sit en in ons hand huil en kla, of ons kan opstaan, buite die boks dink en iets vir onsself doen," het Hilde gesê.
“Ons het besluit om op te staan en dié is net die begin.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie