'n Staaltjie oor Meester Shipanga
'n Staaltjie oor Meester Shipanga

'n Staaltjie oor Meester Shipanga

Mandy Rittmann
|AWEBAHE JOHANNES ||HOESEB SKRYF:

’n Terugblik op my lewe het my tot die slotsom laat kom dat die genadegawes van God inderdaad op wonderlike maniere op my uitgestort is, en veral met ander mense as middelaars.

Een van daardie mense was wyle Meester Martin Lazarus Shipanga, wat ’n inspekteur van onderwys was toe ek in Januarie 1983 diens aanvaar het op Grootfontein as ’n onervare onderwyser by die destydse Friedrich |Awaseb Junior Sekondêre Skool.

’n Inspekteur was in daardie era ’n staatsamptenaar op wie se skouers die plig gerus het om te sorg dat skole in ’n kring gelei, bestuur en administreer is om onderrig van ’n uitstaande gehalte te lewer, in die beste belang van ’n skolier. ’n Amptenaar kon slegs op die posvlak aangestel word as hy ’n gekwalifisieerde onderwyser was wat reeds as gewone onderwyser, departementshoof en skoolhoof jare se ervaring in skoolbestuur opgebou het. Die inspekteur moes toesig hou oor skoolhoofde en hulle touwys maak in leiding, bestuur en administrasie.

’n Inspekteur was ook verantwoordelik daarvoor om personeel aan skole te voorsien volgens ’n voorgeskrewe norm.

Amptelike besoeke is by skole afgelê, om toe te sien dat geldsake reg hanteer word, asook klasbesoeke om onderwysers te evalueer vir meriete-aanslae en aanbevelings vir permanente aanstelling of bevordering. Die inspekteur moes vasstel of onderwysers hul lesse goed voorberei en werkskemas opstel en byhou.

Die werksboeke van die leerlinge is ook deurgegaan, om te bepaal of take en toetse ooreenstem met standaarde in die leerplan.

Tydens so 'n besoek was die ontslape Meester Shipanga en ander inspekteurs, wat onder ander wyle Meester Tjihenuna ingesluit het, asook ’n hele paar vakadviseurs vir ’n paneelinspeksie by Friedrich |Awaseb. Ek het in die visier van hierdie legende beland as gevolg van my gebruik van lawaaiwater, wat veroorsaak het dat ek op ’n paar geleenthede op ’n Maandag afwesig was.

Ek was maar net 18 jaar en ’n paar maande oud; ’n groentjie vars uit die Kollege vir Buitemuurse Onderrig van die destydse Akademie vir Tersiêre Onderwys, met ’n Standerd 10-sertifikaat en ’n Primêre Onderwyssertifikaat. ’n Jeugdige salaristrekker.

My beginsalaris was R425, en na aftrekkings soos pensioen, inkomstebelasting en die mediese fonds het ek ’n hele R375 tot my beskikking gehad.

Ek was nogal hoog in die skik met die verslag van die paneel gekry het. Hiervolgens was my werk, alhoewel ek ’n jong en onervare onderwyser was, van uitstaande gehalte en ek het baie belofte ingehou.

Wyle Meester Shipanga het met die bywoningsregister vir die personeel in sy linkerhand naby my kom staan, dit oopgeblaai met sy regterhand en met sy vingers vir my die "a's" gewys wat langs my naam aangeteken was. Hy het my streng aangekyk en die volgende woorde geuiter:

“Jong man, van vandag af moet jy kennis neem dat verskonings soos dat jy olik voel of dat die voertuig waarmee jy vir ’n naweek gery het op ’n Sondag onklaar geraak het, en dat jy as gevolg daarvan nie by die skool kan wees op ’n Maandag nie, onaanvaarbaar is. As jy weer op ’n Maandag nie by jou werksplek kan uitkom nie, dan moet jy, pleks van ’n verlofvorm, ’n bedankingsvorm invul en deurstuur na die hoofkantoor van die Departement van Nasionale Opvoeding. Ek traak nie of jy ’n kis wyn of ’n vat Whiskey tydens ’n naweek uitsuip nie, jy sal nie weer op ’n Maandag afwesig wees van die skool en onverdienstelik besoldig word nie.”

Meester Shipanga kon nie hierdie staaltjie onthou toe sy dogter, wat diens gedoen het by NIED in Okahandja, vir hom daarvan vertel het nadat ek dit vir haar en haar man in 1998 dmeegedeel het nie.

Ek dank die Hemelse Vader dat hy mense soos wyle Meester Shipanga op my lewensweg geplaas het, andersins sou ek nie mylpale soos my huidige posvlak bereik het nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!