’n Stewige hupstoot vir damvlakke
Elvira Hattingh – Terwyl weerkenners meen die reënweer oor Namibië sal vandeesweek verder suid skuif en vooruitsigte boonop goed vir Maart en April lyk, was die afgelope week se reën veral betekenisvol vir damme.
Die Hardapdam was gisteroggend om 08:00 17,2% vol en het in ’n week se tyd met bykans 11% gelig. Terselfdertyd het die Von Bachdam gisteroggend om 07:45 die 79,1%-merk bereik, wat beteken dit het sedert verlede Maandag met meer as 40% gestyg.
Die Swakoppoortdam het ook meer as 26% water ingekry en het Saterdag om 10:00 op 31,4% gestaan. Verlede Maandag het dit net 4,8% water in gehad. Die Omatakodam was om 10:00 gisteroggend 29,2% vol, teenoor 18% verlede Maandag.
Die Oanobdam was gisteroggend 51,6% vol – ook 4,8% hoër.
Talle droë riviere was die afgelope naweek in volle vloed, terwyl die noorde se Kavangorivier sy vloedvlaktes begin vul het, en die Etoshapan asook Maltahöhe se leliepan weer water ontvang het.
Reënbuie van tot 70 mm is Sondagoggend in die Omitara-gebied gemeet, terwyl daar Saterdag 25 mm in die Hardapdam se opvangsgebied by Namtsis gemeet is. Daar is Saterdag 25 mm in die Khomas Hochland gemeet, 12 mm buite Otjiwarongo, 32 mm op Hochfeld, 24 mm op Tsumeb, 11 mm by Klein Aub en 12,5 mm op Maltohöhe.
OKAHANDJA
Swaar reën het egter chaos Donderdagaand op Okahandja veroorsaak toe die Swakoprivier, ook bekend as die Okahandjarivier, vir die eerste keer in dekades gevloei het en boonop sy walle oorstroom het.
Nooddienste en inwoners van die tuindorp het hul hande vol gehad om onder meer eiendomme teen oorstromings te probeer red, terwyl mense ook naby Camelthorn gered moes word toe hulle binne hul motor op ’n eiland in dié rivier vasgevang is.
Me. Charmaine Meintjies het Vrydag laat weet dat die hele dorp sonder water was nadat verspoelings hooftoevoerpype vanaf NamWater se reservoir beskadig het. Sy sê hul reënmeters het Donderdagaand oorgeloop.
KLEINHOEWE VERSPOEL
Mnr. James Roux en sy gesin het ’n noue ontkoming gehad toe die Swakoprivier Donderdagaand en wéér Vrydagnag deur hul kleinhoewe buite Okahandja gestroom het en hul huis, fabrieke en kantore oorstroom het.
Hy, sy gesin, skoonouers en plaaswerkers was ongedeerd, maar op die kleinhoewe gestrand omdat geen motor dit kon bereik of verlaat nie. Daar is ook ernstige skade aan sy eiendom aangerig.
Roux sê ongeag die skade, is dit alles aardse goed en is hy opreg dankbaar vir die reën.
Roux het Saterdag aan Republikein gesê hy is onsettend dankbaar vir die gemeenskap wat ingespring en gehelp het om “berge te versit” sodat die rivier nie weer sy eiendom oorstroom nie. Alhoewel hul walle Vrydag nie die rivier in toom kon hou nie en dit om 14:00 en Vrydagnag wéér deurgebreek het, kon hulle Saterdag “keerwalle vir die volgende 100 jaar maak”, het Roux laat weet.
"Die rivier het toe letterlik langs my huis verbygeloop, met die oorspronklike loop wat droog was,” het Roux laat weet.
Op Okahandja self was daar ook verspoelings en het agt huise in die Helen Court-kompleks agter die dorp se Engen-vulstasie oorstroom. Volgens mnr. Jan Styger, wat in die kompleks woon, was sommige huisies kniediep in die water. Die kompleks is teen die Okahandjarivier geleë.
Styger sê almal wat kon, het egter tot laat Donderdagaand hand bygesit om onder meer sandsakke te pak en die water te probeer uitpomp.
“Ons is almal egter nog steeds bly dat dit so baie reën en dat ons damme water kry. Jy hoor nie dat enige een kla nie,’ het Styger gesê. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie