u2019n Storie vir u2018oogdouu2019
u2019n Storie vir u2018oogdouu2019

’n Storie vir ‘oogdou’

Verhaal neem lesers op oeroue spore
Yandi Du Plessis
Die oudjoernalis Marco Botha debuteer vandeesmaand as romanskrywer met Die spore van Gert Saggiestrap, ’n greep uit die hedendaagse bestaan van ’n groepie Ju/’hoansi-Boesmans uit die Omahekestreek – die noordwestelike uithoek van die Namibiese Kalahari. Botha sê sy aanvanklike belangstelling en mettertyd bewondering vir die Boesmans het gelei tot interpretasies en verbeeldingsvlugte in boekvorm, maar hy het gou besef dit sou die Ju/’hoansi-Boesmans verdere skade berokken en “romantiese” stereotipes versterk.

“Dit sou eindelik meer as ’n dekade wees voordat ek die storie kon en mag skryf wat in hierdie boek gestalte gekry het – een wat nie oor my en my hunkeringe gaan nie, maar een waarin ek as tussenganger kan dien vir mense wat nie oor die middele of platforms beskik om hul ware geskiedenis en bestaan aan ’n groot gehoor te openbaar nie.”

Die roman is as “meesleurend en komies, ’n storie vir die oogdou” beskryf deur veteraanskrywer Eben Venter en as ’n “kragtoer deur ’n meester storieverteller” deur Coenie de Villiers. Dit is ’n sensitiewe, outentieke verhaal vol pyn, ontheemdheid en vertwyfeling maar ook triomf en diepe blydskap en hoop.

DIE BOEK

’n Naam is nie net ’n roepding nie. Dis ’n ding wat jóú roep.

Só het oom Dahm vir Gert Saggiestrap terug lewe toe probeer bearbei. Toe reeds 14 jaar sy spoor byster in die oer-rivierlope van die ua pukiro in die Omaheke. Nes sy pa met die goeie hart en sy ma met die stukkende verlede was hy ’n Boesmankind van die Nuwe Tyd waarin inkommers om en oor die Boesmans kom grenspale slaan het.

Vir die ellende van hierdie gestroopte bestaan was Gert nie geoormerk nie. Maar toe kom Goeie Vrydag van sy 15de jaar. Die geeste van die dode het vir die eerste keer om hom kom draal. Dié lei hom terug op ’n donker pad wat met die spore van sy oudste voorsate langs loop: na wat dit beteken om ’n boesman te wees met sand-ankers in jou herkoms en ’n hand op die hefbome van die toekoms. Gert Saggiestrap loop soek sy hart, vat sy naam en vind daarin opgesluit sy groot gawe.

DIE SKRYWER

Marco Botha is ’n storieverteller. Hy is ’n gewese sportskrywer, bylaagredakteur en mede-uitgewer by Die Burger, Beeld, Rapport en 24.com. Hy verdien tans sy brood en botter as ’n TV-rugbykommentator en kommunikasiebestuurder. Sy eerste biografiese sportleierskapboek het in 2013 verskyn, en Die Spore van Gert Saggiestrap is sy eerste roman. Ook is hy ’n meestersgraadstudent in bestuur aan Harvard-universiteit. Marco en sy gesin woon in Boston, Kaapstad.

Die Spore van Gert Saggiestrap is in sagtebandformaat teen N$300 beskikbaar. - Verwerk van Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!