’n Storie vol pyn en patos
Rehana Rossouw se tweede roman spog met ’n onplesierige hoofkarakter, maar ook van die sterkste plaaslike prosa oor verwerping en onbeantwoorde liefde, skryf Herman Lategan.
Ali Adams, die protagonis in hierdie roman, is sekerlik een van die onplesierigste karakters wat hierdie resensent in ’n lang tyd raakgelees het. Tog, net omdat Aaliya (haar volle naam) by tye ondraaglik is, beteken nié die boek is onuithoudbaar nie.
Dit is Mei 1995. Die land is in sy naïewe wittebroodfase. Ons is die wêreld se anima en blink oogappel, maar aan Ali se donderbui-gemoed is niks dooddollies of spiekeries nie. Sy is ’n strugglejoernalis wat in ’n verlammende depressie verval nadat sy haar werk verloor het toe haar vorige werkgewer, The Democrat, gelikwideer is. Dit voel of ’n dowwe pyn regdeur die boek pols, want sy laat jou nie vergeet hoe verskriklik daardie vier maande van niksdoen was nie. Hoekom sy nie vryskutwerk aangepak het nie is ’n ope vraag, maar daar is verskeie psigologiese redes vir haar impasse wat later sin maak.
Ali rook die een sigaret ná die ander en brom aanhoudend oor haar swygende ma, wellewende ouma, ’n goeie vriend, Lizo, wat vir pres. Nelson Mandela werk, haar beste vriendin, Sumaya, wat op trou staan, die konserwatisme in die Bo-Kaap waar sy woon (’n gemeenskap wat sy terselfdertyd vertroostend vind) en die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Verder is sy lief vir dikbek wees, kopseer kry, deure toeslaan en op die katel in ’n hopie verdriet haarself soos ’n ietermago oprol teen die vyandigheid van die lewe.
Toe sy haar nuwe werk as politieke verslaggewer by The New Times begin, is daar oombliklik spanning tussen haar en Joy van der Merwe, haar politieke redakteur. Albei is ambisieus, en om 'n voorbladstorie te kry en mekaar met nuus te klop is van lewensbelang. Siestog, ook maar tragikomies, want môre is daai voorblad ’n bergie se kombers. Joy is in ieder geval ’n ergernis, tipies van sommige nuuskantore. Geheimsinnig, sinies, oorwerk, verarm, senuweeagtig, vereensaam, ’n opgeblase ego, eintlik ’n patetiese figurant wat eenkant kef soos ’n vet worshond wat niemand wil aanneem nie.
Die boek neem jou dalk deur die metaforiese donker strate van die nag, maar die skrywer Rehana Rossouw is ook ’n gerekende joernalis (al jare lank by BusinessDay). Sy weet instinktief waar om die verhelderende straatlampe in die donker stegies te plaas.
Rossouw het 'n fyn waarnemingsvermoë en haar beskrywing van Ali se nuusredakteur, ene Milly Smith, is kostelik: “[S]he is a forty-something force of nature in a cottage-print dress with a lace frill framing her generous bodice. Her voice doesn’t match her shape, a growl like that needs a moustache framing it.”
Ali het wel ’n teer kant wat sy half dubbelsinnig en indirek wys teenoor die sportredakteur, Servaas, ’n Afrikaner, en op ’n meer direkte manier aan haar gay vriend Munier. Albei speel ’n rol in die etlike onderstrominge wat die narratief dryf en helaas die pyn wat Ali saboteer, na die oppervlak dryf.
Geen resensent wil te veel van ’n storie weggee nie, maar as jy van die mooiste en sterkste plaaslike prosa wil lees oor verwerping en verbode liefde wat onbeantwoord word, kan jy maar hier kom stilstaan. Daar is tonele waar jy die boek eers eenkant moet smyt om lug te gaan skep.
Hierdie is Rossouw se tweede roman, en net soos met haar eerste een, What Will People Say?, kry sy dit reg om ’n intieme atmosfeer van ’n voorstad, hierdie keer die Bo-Kaap, en ’n eenvoudige vertrek soos hul kombuis, te laat lewe met grootsheid en patos.
As Ali die wond is wat irriteer, is die storie rondom haar die pleister wat daarop geplak word. Lees hom. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie