Ná The Crown kyk ek met sagter oë na die koninklikes
Ek was nooit 'n groot aanhanger van die Britse koningshuis nie. Selfs in die tagtigerjare toe ek as student die ruil van die wagte by Buckingham-paleis aanskou het, was ek maar bra lou oor die gedoente.
Ek was boonop geïrriteerd daarmee dat in die grote Londen feitlik nie 'n aandenking te koop was wat nie met die verstokte en bekrompe koninklikes te doen gehad het nie.
Prinses Diana was wel 'n vars bries. Maar die res met hulle stywe bolippe. . . Hou verby, het ek destyds gedink.
Niks kon my egter voorberei op die gesindheidsverandering wat ek ondergaan het terwyl ek my aan Netflix se The Crown vergrypkyk het nie.
Episode na episode het koningin Elizabeth II en veral prins Phillip, die hertog van Edenburgh, dieper in my hart gekruip.
Dit het die Huis van Windsor vermenslik en my laat besef watter enorme verantwoordelikheid deur die Britse Grondwet op die koningin se skouers geplaas word. Haar soms stoïsynse uitdrukking is vir my nie meer een van meerderwaardigheid nie; eerder van waardige gedweëndheid dat sy nie 'n “normale” lewe kan lei soos haar mede-Britte nie.
Daarom was ek Vrydag nie onaangeraak deur prins Phillip se dood nie. Sy het haar lewensmaat en steunpilaar van die afgelope 73 jaar verloor.
Die twee, wat onderskeidelik agter- en agteragterkleinkinders van Prins Albert en Koningin Victoria was, het mekaar die eerste keer in 1934 ontmoet toe Elizabeth maar 8 en Phillip 13 jaar oud was. Dit was by die troue van sy niggie, prinses Marina, met Elizabeth se oom, prins George, die hertog van Kent.
Prins Phillip se pa, prins Andrew, was die koning van Griekeland en Denemarke. Sy ma, prinses Alice van Battenberg, was 'n agterkleinkind van koningin Victoria wat in die Duitse Ryk en in die Mediterreense gebied grootgeword het.
Sy is as jong vrou met skisofrenie gediagnoseer en het die grootste deel van haar lewe in 'n inrigting in Switserland deurgebring, wat beteken het dat Phillip sonder 'n moeder grootgeword het.
Elizabeth en Phillip is eers in 1939 amptelik aan mekaar voorgestel toe Koning George VI, haar geliefde Papa, sy gesin na die koninklike vlootkollege in Dartmouth, Devon, geneem het. Hulle is in 1947 getroud.
Foutloos was hy nie en koningin Elizabeth moes hom sy dwalende oog glo 'n paar keer vergewe.
Maar hy was haar rots en haar klankbord; die een wat dikwels moeilike familiesituasies in die paleis moes ontlont.
Die afgelope naweek herinner Riaan “Koedoe” Eksteen, Suid-Afrika se eerste ambassadeur in Namibië, my in 'n WhatsApp weer aan die groot flater wat die NBC-nuusleser in 1991 met die koninklike staatsbesoek aan Namibië begaan het.
“Die nuusleser is nie voorberei op die betekenis van die Romeinse II nie en nog minder hoe om die woord 'Duke' uit te spreek. Selfvoldaan is die nuusbulletin met hierdie onvergeetlike woorde ingelei: 'The visit of Queen Elizabeth the Eleventh and the Duck of Edinburg'.”
Ek glo straks hulle het hul agterna menigmaal daarin verkneukel.
Prins Phillip het immers 'n goeie sin vir humor gehad.
Mag sy vertroosting vind, en hy in vrede rus.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie