'n Veilige hawe vir weesdiere

Oor die jare is verskeie diere met Okutala Etosha Lodge se wild­re­ha­bilitasieprogram gered en gerehabiliteer.
Francoise Steynberg
Frida en Amor is beste maats en ­onafskeidbaar.

Frida is 'n woestynaangepaste ­olifantwesie wat twee en 'n half jaar oud is en Amor 'n sewe maande oue skaap.

“Frida kan nie alleen wees nie, anders sal sy van eensaamheid sterf. Daarom het ons vir Amor by 'n buurman gekry om Frida geselskap te hou,” het me. Monica ­Witulski, Okutala Etosha Lodge se ­bestuurder van hul vrywillige werkersprogram, Xplorer, aan Republikein gesê.

Die oulike, astrante olifantjie kom van Purros se omgewing in die Noordweste af waar haar ma aan natuurlike oorsake dood is en Frida wees gelaat is. Sy sou óf van hongersnood omgekom het óf deur roofdiere gevang word.

Ná goedkeuring deur die ministerie van die omgewing en toerisme, het Frida in Augustus vanjaar by Okutala Etosha Lodge aangekom. Sedertdien is Amor haar beste maat om haar geselskap te hou.

Dit was glo nie liefde met die eerste oogopslag nie, maar nou is die onpaar paar onafskeidbaar.

Die twee word in 'n veilige, groot kamp op die lodge aangehou en gevoer. Dit is groot genoeg om vir Frida fiks te hou - totdat sy gereed is om vrygelaat te word.

Die eerste opsie is om haar weer in die omgewing van die ­woestynaangepaste ­olifante vry te laat, andersins in die ­ongerepte natuur van 24 000 hektaar op Okutala Etosha Lodge.

Benewens olifante en renosters, het die lodge ook verskeie vlaktewild en wildsbokke soos blesbokke, koedoes, gemsbokke, elande, kameelperde en sebras, asook roofdiere soos hiënas, luiperds en jagluiperds.

Frida en Amor is maar twee van Okutala Etosha Lodge se diere waar 'n veilige hawe vir alle weesdiere - wild of mak - verskaf word.

Gemsbokke, elande, kameelperde, luiperds, jagluiperds en volstruise is van die weesdiere wat hier 'n veilige heenkome gevind het.

Van die jagluiperds kom van die Cheetah Conservation Fund (CCF) naby ­Otjiwarongo af wat in 'n reusekamp met geëlektrifiseerde heinings op die lodge vrygelaat is.

Gaste geniet ook die gemsbok met krom horings wat saans by die swembad op die lodge kom water drink.



OLIFANTE PROE VRYHEID

Okutala Etosha Lodge se groot suksesverhaal oor wilde weesdiere is die vrylating van vier olifante in Maart vanjaar.

Dié olifante kom van verskeie plekke in die land en vir ses jaar is hulle voor­berei en gerehabiliteer om in die ­wildernis tussen ander olifante en wilde diere ­vrygelaat te word.

'n 30-jarige matriarg met 'n kalf is in 2013 met 'n nekband toegerus om hul ­bewegings te monitor.

Die olifantkenner Johannes ­Haasbroek van Elephant Human Relations Aid (Ehra), se advies is ingeroep om te kom help met die vier grootvoete se vrylatingsproses.

Op die dag toe die trop vrygelaat is, het hulle vir iets geskrik en die pad gevat.

Daar is gevrees dat hulle so ver soos die grensdraad kon hardloop en uitbreek.

Water is uit 'n watergat na die bome gegooi, sodat die olifante die water kon ruik om hulle sodoende na die watergat te lok.

Die 11-jarige olifantkoei is van 'n nekband voorsien sodat die trop se ­bewegings ­gemonitor kan word.

Aanvanklik het hulle tydens die droogte gewig verloor, maar het spesiale, aan­vullende kos gekry en is tans in 'n goeie kondisie.

Ná agt maande van vryheid in die ­wildernis, is die trop nou ontspanne. Hulle voel tuis in hul omgewing en het 'n ware minitrop gevorm.



WITRENOSTERS TEEL AAN

Okutala Etosha Lodge se renoster­program is ook 'n suksesverhaal, met vier witrenosters - twee bulle en twee koeie - wat in Desember 2012 vanuit Suid-­Afrika op die lodge aangekom het.

Hulle is eers in bomas aangehou, later in groter kampe en uiteindelik op die lodge vrygelaat.

Van die renosters was in direkte kontak met renosterstropers.

Twee van die jong renosters is slagoffers van stropery met hul ma's wat deur stropers afgemaai is, wat hulle wees gelaat het.

Een van die bulle se poot was in 'n strik vasgevang, maar gelukkig is geen ­permanente skade aangerig nie.

Een van die koeie is ook 'n oorlewende van 'n geval van renosterstropery.

Haar agterpoot was ook in 'n ­draadstrik vasgevang en die litteken is steeds sigbaar. Op haar blad kan die litteken waar 'n ­renosterstroper haar geskiet het, steeds gesien word. Die koeël het gelukkig van een van haar ribbes af teruggespring en sy is nie ernstig gewond nie. Dié koei het intussen twee kalfies – 'n versie en 'n ­bulletjie – ryker geword.

Die vier renosters het intussen tot agt renosters aangeteel met die eerste kalfie wat in November 2015 gebore is.

Okutala se veearts, dr. Simone Herzog, het gesê hulle het aanvanklik gedink dit is 'n vlakvark wat saam met die ­renosters loop, maar dit was toe die eerste renoster­kalfie wat op Okutala Etosha Lodge gebore is.

Herzog sê dit is verblydend dat die ­renosterkoeie vrugbaar is en aanteel.

Oor die jare is verskeie diere – van groot tot klein, mak en wild – deur Okutala se wildrehabilitasieprogram gered en ­gerahabiliteer.

Indien jy op 'n beseerde of weesdier afkom, moenie huiwer om hul reddingsfasiliteit by 081 126 4324 so gou as moont­lik te kontak sodat die nodige reëlings getref en permitte gereël kan word nie.

Besoek gerus Okutala Etosha Lodge se Facebookblad by https://www.­facebook.com/Okutala/ om die jongste nuus te volg oor die diere wat gered en ­gerehabiliteer is.

Okutala Etosha Lodge is sowat 400 km noord van Windhoek en 40 km suid van die Anderssonshek van die Etosha ­Nasionale Park geleë.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!