‘n Vreemde, maar opwindende tyd om te leef
Vir die eerste keer in drie jaar sukkel ek om woorde op papier neer te pen.
’n Deel van my daaglikse bestaan is skielik ’n groot uitdaging.
Dit lê soos ’n berg voor my.
Die bogenoemde gevoel spruit uit die Covid-19-pandemie en die feit dat my paadjie binnekort van Namibia Media Holdings gaan skei. Beide reusekwessies.
Die impak is iets wat ek nie aldag wil bespreek nie. Dis een van daai bêre-dit-in-die-laai-tot-’n-volgende-keer goed. Vir ’n oomblik, dink ek, is dit nie die beste ding om te doen nie – veral nie nou nie.
Is die goed wat juis die meeste aandag nodig het, nie dalk dié wat ons eerste op die agtersitplek plaas nie?
Ek weet nie. Dis ’n vreemde tyd.
Vanoggend sit ek op my stoep. Soos ek al die afgelope drie jaar doen. Voete soos ’n koeksister op die plastiektafel gekruis, koffie in my regterhand geklem, en ’n selfgerolde sigaret in my linkerhand. Dis die tyd wat ek elke dag neem om die dag wat voorlê te bepeins en te ontleed.
Die afgelope twee weke, selfs maand, van my bestaan is alles anders. Alles.
En ek hoop nie jy, liewe leser, verwag ek moet ’n veruideliking vir laasgenoemde gee nie. Dis juis waarmee ek op dié dag sukkel – verduidelikings.
As ek ’n kleur moes wees, sou ek nou ’n tipe grys ondertoon gehad het, maar met ’n reënboogskynsel. Jy sien, dis al klaar ’n vreemde besigheid.
Dit was ná my tweede beker koffie vanoggend dat ek iets gehoor het. Eintlik iets besef het. ’n Klank wat my ore en ander sintuie nie aldag hoor nie.
Nou, dit kan dalk net ’n vermoede of die eerste simptome van malligheid wees, maar laat dit dan nou maar wees.
Iewers tussen my tweede sigaret en my eerste gedagtes vir die dag verbeel ek my ek hoor ek die aarde asemhaal.
’n Diep, amper gorrelgeluid tref my oordromme. Ek hoor die voëls. Ek hoor die bome ritsel. Ek is bewus van my hartklop en die wind wat uit my neusgate waai.
Ek hoor stemme van jong kinders wat agter die muur popspeel, ek hoor ’n ketel iewers dreun, die buurvrou se traliehek toeslaan, iemand wat “stuur groete vir ma” en “hoe gaan dit met Ouboet?” sê.
Ek is deel van my omgewing, word een. Ek kuier nie net by my huis nie. Ek is daar.
Ek raak rustig. Die aarde is rustig. Ons is in vir ’n donker tyd, maar ek is eintlik verheug. Ek weet weer waarheen ek op pad is, ek doen dit waarmee ek goed is, ek help waar ek weet ek kan, ek haal weer asem.
Ek is dankbaar vir wat tans met my gebeur. Dis hoog tyd vir verandering.
Covid-19 is volgens my die aarde se manier om ons weer mens en mak te maak, ons weer terug te vat na die dinge wat saak maak, ’n oomblik van insig en nederigheid. Jy’t gedink jy is sterk? Die beste wat daar is?
Onoorwinbaar? Sorry vir jou (en vir my). Welcome to reality. Gaan ons ooit weer die lig sien? Ek weet nie. Maar kom ons begin luister. Want as ons elkeen na ons eie harte luister, steek dit aan soos geen virus kan nie. Wees sterk en opreg. Dis wat ons nou nodig het.
Dankie vir die ondersteuning die afgelope drie jaar.
Mag julle gesond bly en leer luister.
Onthou net: As die wêreld nie geld het nie, maak dit nie saak of jy het nie. Ons gaan oukei wees.
En iewers in al die verandering besef ek: Ons kan net soveel doen.
En die res moet gebeur soos dit moet.
Tot wedersiens!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie