’n Vrou maak ’n plan

Helené Bam
Helené Bam

Van vroegdag af word daar gesaag en getimmer. Hier word daar letterlik gewerk dat die stof staan.
’n Plastiek seil is oor die warm rooi sand neergelê en die skadunet keer net-net die ergste sonstrale. Dit is me. Christina Carew se stofferingsbesigheid, Carew Upholstery, wat sy vyf jaar gelede begin het.
“Ek leer nog elke dag, en elke dag ontdek ek ietsie nuut en dan doen ons ons werk ’n bietjie beter en makliker,” sê Carew. Haar man Henry en me. Gisela Gaingos sit ook deur die dag hand by.
Carew het eers in Gobabis vir ’n ander stofferingsmaatskappy gewerk, maar toe die pyn in haar been te erg raak, het sy besluit om liewer haar eie ding te begin doen. “As kind het ek polio gehad en dit het my been baie skade aangedoen. Ek het vyf jaar gelede besluit dit sal beter wees as ek vir myself werk, dan kan ek ook my eie ure bepaal. Ek moes ’n plan maak,” sê sy.
Met haar mank been loop sy na die motorhuis om ’n lêer met foto’s te gaan haal. Voor enige van die meubels in hulle nuwe baadjies haar perseel verlaat, neem sy eers ’n foto vir haar portefeulje. “Dit is belangrik om netjies te werk. My besigheid is dalk nie so ‘fancy’ nie, maar tog lewer ons gehalte produkte.” Motorsitplekke, rusbanke, eetkamerstoele en kussings is al deur haar hande.
“Dit is baie lekker om met mooi materiaal te werk en iets ouds en lelik weer nuut te maak. Ek het groot drome vir my besigheid, maar die spasie wat ek op die oomblik het, is bietjie knap.” Die enkelmotorhuis wat tans as ’n pakkamer gebruik word, is tot barstens toe vol gepak. Meubels, materiaal, gereedskap, ’n uitkniptafel en ’n industriële naaldwerkmasjien staan paraat om te werk.
“Kliënte kom haal nie altyd dadelik hul bestellings af nie en dan neem dit die spasie van nuwe bestellings op. Ek sal graag na ’n plek met meer spasie wil trek en meer oor boekhouding wil leer. Dit is mos belangrik dat ’n besigheid se boeke reg gedoen word. Jy kan ook dan jou besigheid beter bestuur. Ek het groot planne,” sê Carew.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!