'n Vrou van vele fasette
'Selfvertroue kan so veel in die lewe beteken'
Tanja Bause
“Ek het geen idee hoe dit voel of wat mense deurgaan wat later in hulle lewe ’n ledemaat verloor nie, omdat ek nooit bene gehad het nie. Ek kan myself nie indink hoe dit moet voel as jy iets verloor wat jy gehad het nie,” het Miki Jovanovic (25) gesê.
Miki is in Pretoria met fibulêre hemimelia, ’n seldsame misvorming van haar bene, gebore.
“Ek is basies sonder fibulas in my bene gebore wat beteken het my een been was baie kort en die ander een was erg misvorm. My ma moes ’n moeilike besluit neem. Of ek sit die res van my lewe in ’n rolstoel of hulle amputeer albei my bene. Toe ek een jaar oud was, het hulle al twee my bene geamputeer en op drie het ek my eerste bene gekry. Ek gaan al vir die afgelope 22 jaar na dieselfde dokter toe vir my bene. Hy ken my al amper my hele lewe lank. Om prostetiese bene te hê, is vir my niks nuuts nie; dit is al wat ek ken,” het sy gesê.
Haar ma het haar sterk grootgemaak omdat ander kinders nie altyd verstaan het hoekom sy anders as hulle was nie, hoekom sy snaaks loop of hoekom sy nie alles kon doen nie.
“Ek moes van ’n vroeë ouderdom baie selfvertroue hê, omdat kinders terg. Ek het soos ek ouer geword het, besef dat hulle dit nie noodwendig altyd sleg bedoel nie. Hulle is net nuuskierig. Baie ouers leer nie hul kinders oor mense soos ek nie. Hulle sê net moenie vir hulle kyk nie. Kinders kyk dan nie en begin net om te terg omdat hulle nie verstaan nie en nie van beter weet nie. My primêre skooljare was baie moeilik vir my weens daardie redes.”
Volgens Miki het alles verander toe sy hoërskool toe is en kinders haar aanvaar het.
“Ek het meer selfvertroue begin kry en kortbroeke en rokke begin dra. Nie baie mense het ’n positiewe hoërskoolervaring nie, maar vir my was dit wonderlik.”
Sy het ’n skerp sin vir humor en maak dikwels grappe oor haarself en gestremdhede.
“Ek maak slegte grappe oor gestremdhede. Wanneer jy gemaklik daarmee is, voel mense gemaklik rondom jou.”
Ná skool het sy ’n gapjaar gevat, omdat sy nie geweet het wat sy wou doen nie. Sy het ’n koekbakkursus vir ses maande gedoen.
“Die skool waar ek was, het nie ’n snoepie gehad nie. Hulle het ’n eetsaal gehad en hulle was op soek na ’n bestuurder. Ek het die mense geken en die werk gekry. Op 20-jarige ouderdom het ek die geleentheid gekry om Namibië toe te trek om daar te gaan studeer. Ek het geweet ek wil toerisme studeer.”
Die mense vir wie sy in Pretoria gewerk het, het haar vertel van ’n familie in Windhoek wat iemand soek om na hul drie dogters te kyk en sonder om te dink het sy ingestem.
“In die oggende pas ek die kinders op en van 17:30 tot 21:30 loop ek klas. Ek is ’n deeltydse student by IUM. Ek het my honneursgraad in toerisme, gasvryheid en geleentheidsbestuur behaal. Nou is ek besig met ’n graad in besigheidsadministrasie. Die geld wat ek verdien om die kinders op te pas, betaal vir my studies en ek kan myself onderhou. Sommige ouers het nie die geld om hulle kinders universiteit toe te kan stuur nie, myne inkluis.”
SPORT
In haar jonger jare was sy nooit in sport geïnteresseerd nie en het sy nie baie rolmodelle gehad nie.
“Oscar Pistorius wat my rolmodel was en met presies dieselfde misvorming gebore is, het in die tronk beland. Soos ek ouer geword het en meer aan sosiale media bootgestel is, het ek agtergekom daar is baie mense met geamputeerde ledemate wat aan sport deelneem. Mense het gesê hulle doen dit of dat en hulle gaan Olimpiese Spele toe of neem aan die kompetisie of daardie wedstryd deel. Hulle het gedoen wat hulle wou en dit het my oë laat oopgaan dat ek ook enigiets kan doen. Ek het net altyd myself en ’n paar ouer mans geken wie se bene geamputeer was en toe word ek blootgestel aan al die jonger mense wat al die ongelooflike goed doen.”
Miki wou skopboks doen toe sy in die land aangekom het, maar die klubs het dit op ’n meer professionele basis aangebied en sy wou net fiks bly.
“Ek moet fiks bly en my gewig konstant dophou. As ek gewig verloor of optel moet ek nuwe bene kry en dit is baie duur. Ek het by ’n gimnasium aangesluit, maar dit het nie lank gehou nie, omdat ek geen motivering gehad het om alleen soontoe te gaan nie. Twee jaar gelede het ek ’n bokser ontmoet wat gesê het ek moet kom boks. Ongelukkig moes hy weens Covid-19 sluit. Hy het met bootcamp-klasse begin en ek het aangesluit. Ons het onder meer bande opgetel en om die baan gehardloop, wat ’n uitdaging was. In Desember het ek ongelukkig my knie ontwrig en moes ophou.”
In Januarie het ’n nuwe boksgimnasium geopen en sy het aangesluit.
“Ek doen ook rotsklim by die een inkoopsentrum wat ’n muur het. Dit is ook weer ’n uitdaging, omdat my voete nie heeltemal so kan buig nie. Wanneer ek wel bo uitkom, is dit elke keer ’n prestasie vir my. Soms kom ek bo uit en soms nie. Dan moet ek net weer probeer.”
RAAD
“Selfvertroue kan so veel in die lewe beteken. Wanneer jy vol selfvertroue is, sal mense rondom jou ook vol selfvertroue teenoor jou wees. Glo in jouself en wees lief vir jouself en hoe jy is en lyk. Dan voel jy nie dat jy iets van jouself moet verander nie en dan sal jy ’n gelukkige lewe hê. Daar is niks of baie min wat jy nie kan doen nie.”
Volgens Miki kan sy nie fietsry nie omdat dit te moeilik is en sy ’n aangepaste fiets benodig.
“Maar behalwe fietsry is daar letterlik niks wat ek nie sal probeer nie. Jy moet ten minste alles een keer probeer. Jy kan nie net besluit ek kan dit nie doen nie as jy dit nog nie probeer het nie, want dan sal jy op die lewe uitmis en ellendig wees.”
“Ek wil baie graag valskermspring, maar omdat ek ’n student is en self vir alles betaal, is dit net te duur. Maar ek sal nie op die droom opgee nie en ek sal dit eendag doen.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie