Ná vyftig goue jare bly Tara ’n juweel

Die verdeling van die tydren- en veldresiesklasse het twee kampioenskappe moontlik gemaak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die stof het nog skaars behoorlik ná die 2018 Windhoek Motorklub en Vriende Total Tara-tydren gaan lê en die organiseerders is reeds kliphard aan die beplan om die 51ste weergawe in 2019 met Total Namibië as hoofborg aan boord ’n nóg groter en beter skouspel te maak.

In die 50ste viering van die ikoniese Tara-tydren is vanjaar beste voetjie voor gesit en menige motorsportentoesias kan met smaak vertel hoe hulle die byeenkoms geniet het. Hoewel die tydren ’n uur later weggespring het as wat beplan was, het ’n geskatte 2 000 mense die eerste skof gade geslaan wat by die Martin Luther-monument buite Swakopmund weggetrek en weer daar geëindig het.

Met rou energie en testosteroonvlakke van die jaers, navigators en diensspanne wat die naald tot naby die rooi gedruk het, is die Tara vanjaar in ’n ongelooflike goeie gees en kameradie voltooi.

Selfs Herma Emmrich (bestuurder) en Heinke Rust (navigator), die vrouepaar wat met die 1978 Total Tara in kar nr. 22 stof in die manne se oë geskop het, was op Swakopmund om deel van die vieringe te wees.

Me. Rust sê: “Ek was verskriklik bly om Herma weer ná soveel jaar te kon sien. Ek en sy het twee keer saam gejaag. Die een was ’n Chev Chevair en die ander keer in ’n Mazda wat ons gerol het.

“Ek kan nie meer alles so lekker onthou nie, maar in daai jare was die Tara ’n ongelooflike strawwe en taai affêre. Ons het vir 24 uur deur die dag en nag gejaag sonder om te slaap om die volgende dag met rooi oë en seer lywe die tydren te voltooi. Die manne se baarde was gekoek en vol stof en sweet.

“Die karre was glad nie so ghrend en vinnig en sterk en duur soos nou nie. Dit was nogal ’n prestasie vir ons, want ek onthou ons het die een keer vir Sarel van der Merwe verbygesteek wat in ’n rivierloop vasgesit het! Die een jaar was daar net vyf karre wat die Tara kon voltooi. Ons was die vyfde kar en het boonop ons klas gewen!” het Rust glimlaggend aan Republikein vertel.

TOTAL IS BEVESTIG

Volgens Richard Slamet, voorsitter van die Windhoek Motorklub, sal nog lank aan die herinneringe van die afgelope naweek herkou word.

Slamet sê: “Die 50ste Total Tara was ’n reuse-sukses. Dit was ’n uitdaging soos min, maar elke span het die tydren terdeë geniet. Met versengende hitte, sneldele tot in die nagtelike ure en ’n paar baie tegniese trajekte, het die Tara beslis aan alle verwagtinge as die strafste tydren in Afrika voldoen.

“Die supersneldele het ’n bietjie van alles aan die jaers en navigators gebied wat kort en vinnige roetes, asook lang en rowwe trajekte ingesluit het. Die twee spesiale aand-supersneldele Vrydag by die Tony Rust-renbaan het natuurlik weer die groot massa toeskouers op hul tone met opwindende renne gehad.

“Ons kondig met trots aan dat Total Namibië reeds aan ons bevestig het dat hy in 2019 weer as hoofborg sy regmatige plek by die Tara gaan inneem.

“Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat twee Tara-kampioene bekroon was. Baie geluk aan Japie van Niekerk en Gerhard Snyman wat die S3-klas ingepalm het, asook die algehele eerste plek in die tydren-afdeling behaal het. Baie geluk ook aan Jaco van Dyk en Michel Rust wat met die veldrenafdeling (off-road) koning in die OR A-klas gekraai het.

“Ek wil graag die organiserende komitee, al die beamptes asook elke span en hul diensspanne vir hul ongelooflike bydrae bedank wat die 2018 Tara so suksesvol gemaak het. Ons waardeer ook die toeskouers wat in groot getalle opgedaag het om ons te ondersteun; sonder al hierdie mense sou dit nie moontlik gewees het om so ’n fantastiese byeenkoms aan te bied nie.

“Baie dankie aan ons ondersteunende borge en adverteerders soos A&A 24/7 Recovery, AEMS Ambulance Services, Battery Centre, CBS, Chubb, City Clutch & Brake (CCB), Design_Life Graphic Designers, J&P Hydraulics, I-S Freight Services, Kosmos 94.1, Leon’s Renovation Solutions, Llewellyn Anthony (Sirkel Motors & Transport), M+Z Motors en Mercedes-Benz, Namibia Adventure Travel Agency, Perfect Glass, Print Solutions, Röhm Construction, SAT-Com, Sealconsultingengineers, Skyway, Steckel’s Toyota, Super Tyres, Supply Warehouse en Triquetra Healthcare wat saam met Total die 2018 Tara moontlik gemaak het.

“Baie dankie aan die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF), die Namibiese Sportkommissie asook Jan Everson en sy manne van die Walvisbaai Motorklub. Groete en ons maak volgende jaar weer so,” het Slamet tevrede gesê.

Die volledige uitslae:

S1-klas: 1 Pieter Greef en navigator Nola Louwrens (Mohatu Sealconsultingengineers 1.6L Toyota Corolla, 2 ure 35 minute 37 s), 2 Peer Röhm/Cecil Koorts (Gunite Pools 1.6L Toyota Auris, 2:34:44).

S2-klas: 1 Etienne van den Heever/Willy van Wyk (Cobra 2 l Toyota RunX, 2:32:09), 2 Jannie Coetzee/George Coetzee (Compass Walvis Bay 2L VW Polo, 2:40:12), 3 Gert Coetzee/Hugo Arangies (2L VW Golf, 3:01:46), 4 Willem Oosthuizen/Johan Oosthuizen (2L Ford Sapphire, 3:22:59).

S3-klas: 1 Japie van Niekerk/Gerhard Snyman (4x4 NAD Ford Fiesta S2000, 1:49:57), 2 Wilro Dippenaar (4x4 Shell V-Power Toyota Auris S2000), 3 Jaco Redelinghuys/Dries Booysen (4x4 Gobabis Toyota Yaris S2000).

S4-klas: 1 Oswaldo Mendes/Kes Naidoo (2L Turbo 4x4 Subaru Impreza, 2:14:24), 2 Riaan Olivier/Mandi Hugo (2L Turbo 4x4 Subaru Impreza, 2:21:51).

OR A-klas: 1 Jaco van Dyk/Michel Rust (4x4 Red Lined 24/7 Race Fuels V8 Nissan Navara, 2:14:06), 2 Richard Himmel/Adolf Botes (4x4 Atlas Copco V8 Dakar Toyota, 2:19:59), 3 Stefan Labuschagne/Lappies Labuschagne (4x4 Gobabis Truck & Tractor V8 land Rover, 4 Hennie de Klerk/Hendrik Roets (4x4 V8 VW Amarok, 2:56:06).

OR C-klas: 1 Bertie Smit/Riaan Hennop (4x2 BSCS V8 Mazda Magnum, 3:03:05).

OR D-klas: 1 Jacques Kruger/Roche Louw (4x2 Toyota-bakkie, 3:02:48), 2 Karl-Heinz Pretorius/Katja Pretorius (4x2 Mitsubishi Pajero, 3:15:00).

Algeheel: 1 Van Niekerk, 2 Dippenaar, 3 Redelinghuys, 4 Van Dyk (OR-A), 5 Mendes, 6 Himmel (OR-A), 7 Olivier, 8 Labuschagne (OR-A), 9 Van den Heever, 10 Greeff, 11 Röhm, 12 J. Coetzee, 13 De Klerk (OR-A), 14 G. Coetzee, 15 Kruger, 16 Smit (OR-B), 17 Pretorius (OR-D), 18 Oosthuizen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!