'n Woltemade in die stormsee
Elvira Hattingh - “Ek wens ek was jou Wolraad Woltemade . . .” sing Hennie Jacobs vanoggend oor my radio.
En dit neem my terug na my kinderdae in Ouma se huis toe ek voor die radio na Storieman-tapes sit en luister het.
Hier het ek die eerste keer gehoor van die man wat by Tafelbaai met sy perd die stormsee ingejaag het om drenkelinge te red. Woltemade, wat in Noordwes-Duitsland gebore is, het eindelik met sy eie lewe geboet nadat hy 14 ander lewens gered het.
Wat besonders was, is dat Woltemade ten tyde van sy heldedaad reeds 65 jaar oud was. Nie jonk nie. Dit was die winter van 1773 – sowat 246 jaar gelede.
Daar is verskeie weergawes van sy verhaal, maar volgens een het Woltemade op die oggend van 1 Junie glo kos vir sy seun, Christiaan Ludwig, geneem.
Sy seun was 'n korporaal aan die Kaap en moes die sinkende VOC-seilskip De Jonge Thomas op Woodstock-strand glo die hele nag lank oppas. Die skip en sy matrose het in die moeilikheid beland toe 'n noordwestelike stormwind dit van die anker laat losbreek het en naby die monding van die Soutrivier op die rotse gedryf het. Dit is in twee geskeur.
Branders het genadeloos bo-oor die skip gebreek en 'n skare, waaronder talle soldate, het op die strand begin saamdrom. Hulle kon net toekyk hoe die gestrande matrose tot hul einde kom. Sommige wat in die see geval het en na die strand probeer swem het, het verdrink. Daar was niks meer wat die mense op die strand kon doen nie.
Of was daar?
Want dan is daar die Wolraad Woltemades in die lewe. Hulle aanvaar nie dat daar net eenvoudig opgegee moet word en toegekyk moet word hoe 'n tragedie afspeel sonder dat daar nie minstens 'n poging vir redding aangewend word nie.
Woltemades kan die hopeloosheid van 'n situasie nie sonder meer aanvaar nie.
Ek weet nie hoe Christiaan Ludwig gevoel het toe sy bejaarde pa die see op sy perd, Vonk, se rug injaag nie. Ek sou nie my pa dit wou sien doen nie – veral nie om 'n winterkoue, stormagtige see te trotseer ter wille van drenkelinge wat dalk vreemdelinge vir hulle was nie.
Nie net doen Woltemade dit 'n tweede keer nie, maar ook 'n sewende en agtste keer.
Maar Woltemade het ook slim te werk gegaan: Hy het 'n tou, wat aan Vonk vasgemaak was, vir drenkelinge gegooi en net twee op 'n slag uitgesleep.
Hy het ook geweet 'n perd is 'n veel sterker swemmer as enige mens.
Elke keer was Woltemade en sy perd moeër wanneer hulle drenkelinge op die strand uitgesleep het, maar daar was geen keer aan hom nie.
As die drenkelinge hul beurt sou kon afwag en nie die agtste keer almal na die perd gegryp het nie, sou die verhaal dalk anders verloop het.
Ek is nie seker of mens van 'n desperate drenkeling wat al 'n hele nag lank om sy lewe in die koue wintersee moes veg en boonop medematrose sien verdrink het, kan verwag om gesonde verstand aan die dag te lê nie.
'n Groot aantal oorledenes, onder wie Woltemade en sy perd, het 'n dag later op die strand uitgespoel. Nog 53 slagoffers het die strand bereik, maar 138 het saam met Woltemade verdrink. Hulle is saam begrawe.
Vir sy heldedaad het die Here Sewentien 'n aansienlike bedrag geld aan Woltemade se weduwee betaal en opdrag is gegee dat sy twee seuns, sy enigste kinders, ook vergoed word. Sy verhaal het wêreldwyd opslae gemaak.
Mag ons nooit ophou om lesse van Woltemade te leer nie – van empatie, 'n totale gebrek aan selfsug, moed, dapperheid, kreatiwiteit, vernuf, kennis en geloof.
Al is jy nie 'n Woltemade nie bied dié lesse jou dalk alles wat jy nodig het om 'n redder in die lewe se stormsee te wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie