N$10 miljard vir ontsoute water
NamWater sê die vraag is of ontsoute water of eerder water van die Kavangorivier af na sentrale Namibië gebring moet word.
Elvira Hattingh
Die verskaffing van ontsoute water aan beide sentrale kusgebiede asook Windhoek sal nie minder as N$10 miljard kos nie.
Om dié rede moet hierdie opsie vir waterverskaffing versigtig teen die alternatief opgeweeg word, naamlik om water van die Kavangorivier af Windhoek toe te bring.
Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, het gister tydens 'n NamWater-werkwinkel gesê indien die verskaffing van ontsoute seewater haalbaar is, kan bilaterale ooreenkomste aangegaan word om van dié water ook aan Botswana te verskaf.
'n Voorlopige verslag is by die werkwinkel bekend gestel oor die haalbaarheid van 'n ontsoutingsaanleg en watertoevoerstelsel om water aan sentrale kusgedeeltes, Windhoek en gebruikers tussen die twee punte te verskaf.
!Naruseb sê ondanks verskeie inisiatiewe om water aan veral Windhoek te verskaf, ervaar die stad en sentrale gebiede steeds 'n ernstige watertekort.
“Nuwe langtermynbronne van water het noodsaaklik geraak, al mag dit baie ver en duur wees,” het !Naruseb gesê.
Hy het bygevoeg die opbloei van uraanmyne in kusgebiede beteken ondergrondse waterbronne is ontoereikend.
Pogings om kopers van ontsoute water te werf, het tot dusver nie geslaag nie, omdat dié water duur is.
Jaarliks word 36 Mm³ (miljoen kubieke meter) tot 2050 aan kusgedeeltes voorsien, terwyl Windhoek en sy en route-gebruikers na verwagting 'n jaarlikse tekort van 32 Mm³ kan ervaar.
Indien ooreenkomste vir waterverskaffing met Botswana aangegaan word, sal die buurland tot 2050 'n bykomende 20 Mm³ water per jaar benodig.
Mnr. Abraham Nehemia, NamWater se uitvoerende hoof, sê wat Namibië se kusgedeeltes betref, is daar geen ander opsie as ontsoute seewater nie.
“Daar is net nie ander opsies vir waterverskaffing aan die kus nie – of dit reën of nie, hul ondergrondse water is nie genoeg nie.
“Die enigste vraag is dus of die kus se ontsoute water ook aan sentrale Namibië verskaf moet word en of ons eerder water van die Kavangorivier af moet kry.”
Nehemia het verduidelik die doel van 'n haalbaarheidstudie is om 'n alternatief tot waterverskaffing van die Kavangorivier te hê.
Hy sê die studie, wat reeds in Februarie verlede jaar begin is, sal na verwagting teen die middel van vanjaar voltooi wees.
“Die werkwinkel vorm deel van die studie sodat alle kern-belanghebbendes geraadpleeg kan word, wat sal help om met duidelikheid oor die pad vorentoe te besluit,” het Nehemia gesê.
“Daar word ook oor die bekostigbaarheid en volhoubaarheid van die prys van ontsoute water beraadslaag. Dus moet die regering, die private sektor, NamWater en verteenwoordigers van eindverbruikers, asook ontwikkelingsvennote strategies dink oor hoe die risiko te bowe gekom en gedeel kan word,” het Nehemia gesê.
Die minister het gesê intussen word die bou van 'n bykomende suiweringsaanleg vir rioolwater in Windhoek ondersoek, terwyl die ontginning van die Abenab-akwifer naby Grootfontein ook beoog word.
Die oorname van die bestaande Orano-ontsoutingsaanleg, asook die bou van 'n nuwe aanleg word ondersoek.
Die haalbaarheidstudie word deur ILF Consulting Engineers, asook Lund Consulting Engineers as plaaslike subkontrakteur gedoen, terwyl dit deur die Duitse ontwikkelingsbank KfW befonds word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie