N$1,6 miljoen die koste vir Covid-eenheid
N$1,6 miljoen die koste vir Covid-eenheid

N$1,6 miljoen die koste vir Covid-eenheid

Die nuwe Covid-19-sorgeenheid in die Tamariskia-stadsaal in die Erongostreek akkommodeer 15 beddens en is gratis vir die publiek.
Adolf Kaure
Erongo-redaksie – Die streekraadslid vir die Swakop­mund-kiesafdeling en voorsitter van die Erongostreekraad, me. Ciske Howard, het die koste bekend gemaak van die Covid-19-sorgeenheid wat deur haar taakspan in die Tamariskia-stadsaal opgerig is.

Die 15-bedfasiliteit is gratis en is oop vir staats- en private pasiënte.

Howard en haar taakspan het sowat N$1 670 000 se kontantskenkings ontvang – N$1 245 000 van Namibië en N$425 000 van Duitse skenkers.

Toerusting ter waarde van sowat N$500 000 is ontvang en sluit in suurstofkonsentreerders, hospitaalbeddens, linne, beddegoed, handdoeke, oksimeters, verstuiwers, bloeddrukmeters, persoonlike beskermende toerusting (PPE's) en storteenhede.

Volgens Howard is N$585 000 van die kontantskenkings gebruik om voorrade aan te skaf. Sowat N$290 000 bestee is aan die verkryging van mediese masjinerie soos suurstofkonsentreerders en aanhoudende positiewe lugdruk (CPAP)-masjiene – wat gebruik word om slaapapnee te behandel deur 'n stroom suurstofryke lug in jou lugweë te blaas.

Mediese verbruiksgoedere en skryfbehoeftes en die voorbereiding van die perseel het elk sowat N$45 000 beloop.

Altesaam N$20 000 is vir multivitamiene en vitamien C-tablette geoormerk wat aan bejaardes en behoeftiges versprei sal word.

Die taakspan bied ook finansiële steun van sowat N$65 000 aan ander Covid-19-inisiatiewe.

Howard het gesê sy hoop die sorg­eenheid sal binnekort deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste goedgekeur word.

Ondanks die feit dat Covid-gevalle in die land afneem, het sy gesê hierdie fasiliteit sal gereed wees vir 'n moont­like volgende golf.

“Ons sal nie weer onvoorbereid wees nie – ons is ons broers se oppassers! Ons rus nie op ons suksesse nie; daar is meer werk om te doen en die vrywilligers van die taakspan is gereed en aanvaar die uitdaging,” het sy gesê.

[email protected]

FOTO
Die voorsitter van die Erongostreekraad, me. Ciske Howard, by die Covid-19-sorgeenheid wat deur haar taakspan in die Tamariskia-stadsaal opgerig is. Foto Adolf Kaure

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer