N$2 miljard vir landbou, onderwys
N$2 miljard vir landbou, onderwys

N$2 miljard vir landbou, onderwys

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) het Maandag twee lenings van N$1 miljard elk aan die Namibiese regering goedgekeur.

N$1 miljard sal in die landbousektor ingeploeg word, terwyl die ander N$1 miljard vir die verbetering van onderwys en opleiding in Namibië gebruik sal word.

Die bank sê in ’n verklaring N$1 miljard sal aangewend word om die ministerie van landbou, water en bosbou se landboumeganisasie- en saadverbeteringsprojek (Namsip) te finansier.

Goedkeuring hiervoor is Maandag in Abidjan in die Ivoorkus deur die bank verleen.

Die projek sal produktiwiteit in die landbousektor verbeter en Namibië se afhanklikheid van graaninvoere in die voorsiening van stapelvoedsels verminder. Verder sal werk geskep en die huishoudelike inkomste van mense in landelike gebiede danksy die projek verbeter.

Die tweede lening van N$1 miljard aan die onderwyssektor wat dieselfde dag goedgekeur is, sal vir die projek vir tegniese en beroepsonderwys en -opleiding (TVET) gebruik word, sê die AfDB in sy verklaring.

Intussen het mnr. Calle Schlettwein, minister van finansies, gister by navraag gesê dié N$2 miljard vorm deel van die N$10 miljard waarvoor Namibië by die bank aansoek gedoen het.

’n Aansoek vir ’n verdere N$2 miljard vir infrastruktuurontwikkeling in die vervoersektor sal op 13 Desember voor die AfDB se direksie dien, sê hy.

Die ander N$6 miljard waarvoor Namibië hom hoed in die hand na dié bank gewend het, is om die nasionale begrotingstekort in die boekjare 2017-’18- en 2018-’19 te finansier.

Die eerste N$3 miljard het Namibië reeds ontvang, terwyl die aansoek vir ’n verdere N$3 miljard vroeg aanstaande jaar sal dien, sê Schlettwein.

Volgens die AfDB is beide die Namsip- en die TVET-projek in pas met die bank se strategiese doelwitte vir Namibië vir die tydperk van 2014 tot 2018. Daarbenewens ondersteun dit ook die doelwitte van die Harambee-welvaartsplan en die 5de nasionale ontwikkelingsplan (NDP5).

Die landbouprojek sal landwyd oor ’n tydperk van 5 jaar deur die ministerie geïmplementeer word. Altesaam 294 500 akkerbouers en 10 000 veeboere sal hierby baat.

Verder sal 111 boerekoöperasie vir kleinboere daardeur ondersteun word terwyl nagenoeg 800 000 Namibiërs binne die waardekettings vir graan- en lewendehaweproduksie uiteindelik sal voordeel trek.

Sover dit die onderwysprojek betref, sal die infrastruktuur vir basiese onderwys en tegniese en beroepsonderrig in 11 streke verbeter word en die institusionele kapasiteit sal ontwikkel word.

Die uiteindelik oogmerk van die projek is om die werkloosheidsyfer in Namibië te verminder wat tans op sowat 34 persent staan, sê die AfDB in sy verklaring.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer