N$20 miljoen se onwettige 'hardehout' vernietig

Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai - Beamptes van die direktoraat doeane en aksyns het Dinsdag duisende liter vervalste drank van handelsmerke soos Johnnie Walker Scotch Whisky en Smirnoff Vodka wat op Walvisbaai gekonfiskeer is, op die hawedorp vernietig.

Daar word vermoed die drank, ter waarde van N$20 miljoen, wat vir Zambië bestem was, is in Amerika vervaardig en het die land via Doebai binnegekom.

Dit was by die Salvino del Bene Namibia pakhuiskompleks gestoor en is daar gekonfiskeer.

Vier lorrievragte vol drank is Dinsdag van hierdie kompleks na die munisipale stortingsterrein vervoer waar dit ten aanskoue van doeanebeamptes, munisipale werknemers en lede van die polisie vernietig is.

Tydens die vernietigingsproses het 'n skerp alkoholreuk in die lug gehang.

Me. Thandi Hambira, waarnemende kommissaris van doeane en aksyns, sê die bottels met vervalste drank is tydens operasie Acim 2 by die Walvisbaaise hawe ontdek.

Volgens haar word die moontlikheid dat doeanebeamptes met skelms saamgewerk het, nie uitgesluit nie. Die reusevrag het uit 95 000 bottels vervalste drank bestaan.

Hambira sê die saak is aan die kantoor van die aanklaer-generaal oorhandig sodat klagte ingedien kan word. Tot dusver is niemand al in hegtenis geneem nie.

Mnr. Paul Ramara, regsverteenwoordiger van Diago in Suid-Afrika, 'n multinasionale vervaardiger van alkoholiese drank, sê 'n Zambiër wat in 'n ander saak tereg staan, het inligting verskaf wat tot die konfiskering van die vervalste besending drank gelei het.

Hy sê sy kliënt was oorbluf deur die ontdekking, aangesien streng regulasies teen die vervaardiging van onegte produkte bestaan en dit daarom maklik ontdek word.

Namibië se doeanebeamptes het dié operasie in samewerking met die Wêrelddoeane-organisasie (WCO) en 19 ander doeane-administrasies onderneem.

Altesaam 19 hawens is oor 'n tyd van agt dae deursoek.

Twaalf uit elke 20 vraghouers is ondersoek.

Verbode farmaseutiese produkte, kosmetiese produkte en items wat inbreuk maak op intellektuele eiedomsregte is ook ontdek, sê Hambira.

Altesaam 98% van die produkte waarop beslag gelê is, is in Walvisbaai se hawe gevind, het sy gesê.

Volgens Hambira noodsaak die uitbreiding van die hawe meer lugrederye wat na die land vlieg en groter vragvolumes dat meer mense by doeane en aksyn aangestel word, aangesien die mannekrag tans nie voldoende is nie.

Vyftig beamptes sal volgende week opleiding ondergaan om sulke smokkelary te voorkom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!