N$208 miljoen vir krag, mynbou
N$208 miljoen vir krag, mynbou

N$208 miljoen vir krag, mynbou

Nuwe voorwaardes vir mynboulisensies is gemik op plaaslike deelname, Namibiese bestuur en hulp met armoede-uitwissing.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die minister van myne en energie, mnr. Obeth Kandjoze, het groot planne met die meer as N$207 miljoen wat as deel van die nasionale begroting aan sy ministerie toegeken is.

Maar Kandjoze het gewaarsku die N$1,4 miljard in tantieme wat gedurende die 2016-'17 finansiële jaar ingesamel is, sal waarskynlik verlaag weens 'n tekort aan finansiering.

“Die ministerie is gekonfronteer met beperkte hulpbronne vir aktiwiteite wat tot hoë invordering van inkomste lei,” het hy gesê.

Die ministerie het N$1,267 miljard vir dié jaar ingesamel.

Ten spyte van swak internasionale kommoditeitspryse wat die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van sekere ontginning en mynboubedrywighede bedreig, sê Kandjoze Namibië kon N$25 miljard deur uitvoere verdien.

Die groei in waarde is meestal te danke aan prestasies in die uitvoer van diamante, goud en koper.

'n Positiewe verwikkeling op die uraanfront is die Husab-uraanmyn se produksie van die eerste houer geelkoek.

Dié bedryf word ook geteister deur die impak van swak pryse wat op hul beurt veroorsaak het dat Langer Heinrich sy mynbedrywighede verkort en van sy werkers afgelê het.

Die Skorpion-sinkmyn het ook tot onlangs arbeidsprobleme gehad, maar dit is met vreedsame onderhandelinge opgelos.

“In die vervolg sal ons vriendskaplike oplossings in omstandighede soos dié aanmoedig,” het Kandjoze gesê.

Die ministerie het gedurende 2016-'17 twee nuwe mynboulisensies ­uitgereik.

Bykomende voorwaardes vorm deel van dié nuwe lisensies.

Dit sluit 'n vereiste van ten minste 5%-deelname van Namibiërs in, terwyl 20% van die bestuur deur ­histories-benadeelde Namibiërs beklee moet word. Aansoekers moet ook 'n duidelike program hê wat hul daadwerklike bydrae tot die uitwissing van armoede, asook die bemagtiging van armes, die jeug en vroue, uiteensit.

Kandjoze het die ondertekening van 'n nuwe ooreenkoms tussen De Beers en die regering uitgesonder wat gemik is op die sortering, waardering, bemarking en verkoop van diamante.

Die nuwe ooreenkoms ondersteun die vestiging van Namdia en bied Namibië beter toegang tot die wêreld se diamantpryse.

Namdia is 'n 100% Namibiese maatskappy wat namens die regering diamante kan bemark en verkoop.

Die ooreenkoms beteken ook die hoeveelheid diamante wat aan die plaaslike mark beskikbaar gestel word, verhoog van US$230 miljoen tot US$430 miljoen.

Met betrekking tot kragvoorsiening het die ministerie die nasionale energieplan, die hernubare energiebeleid en die nasionale geïntegreerde hulpbronplan gefinaliseer.

“Die afhanklikheid van kraginvoere hou steeds 'n bedreiging vir die land in,” het Kandjoze gesê, hoewel geen nasionale beurtkrag toegepas is nie.

Namibië het tans invoerkontrakte vir elektrisiteit met Eskom in Suid-Afrika (200 MW), Zesco in Zambië (39 MW) en ZPC in Zimbabwe (80 MW).

Om die plaaslike verskaffing van krag 'n hupstoot te gee, beplan die ­ministerie om volgens Kandjoze N$62,6 miljoen te bestee.

Hernubare energieprojekte sal teen die einde van die jaar 70 MW bydra, met nog 37 MW wat van Maart aanstaande jaar af deur 'n sonkraginstallasie op Mariental gegenereer sal word.

Teen die einde van aanstaande jaar sal 'n bykomende 20 MW-sonkragprojek asook 'n 44 MW-windkrag­projek op die been gebring word.

Verspreiders van elektrisiteit in streke (RED's) moet voor die einde van vanjaar ook 18 MW bydra, terwyl N$39 miljoen aan die verskaffing van elektrisiteit in plattelandse gebiede bestee sal word.

Kudugas bly volgens Kandjoze ook steeds 'n belangrike poging om die land se kragtekort in “oorvloed” te verander.

Volgens die minister is Namibië en Angola tans besig om omgewingsimpakstudies en ander uitstaande aspekte van die Baynes hidro-elektriese projek te finaliseer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer