N$4 miljoen vir grond by Neckartal
Ronelle Rademeyer - Die regering het N$625 per hektaar (ha) aangebied vir die 5 000 ha besproeiingsgrond wat by die Neckartaldam ontwikkel gaan word.
Dit beteken N$3 101 250 sal betaal word aan die nege eienaars van die kommersiële plase in die omgewing waar die besproeiingskema gaan kom.
Mnr. Percy Misika, permanente sekretaris van landbou, water en bosbou, sê die transaksies is beklink en die ministerie van finansies het reeds goedkeuring gegee dat die betalings gemaak word sodra die registrasieproses by die aktekantoor voltrek is.
Verder is 18 kommunale boere van Berseba wie se plase oorstroom sal word wanneer die dam klaar gebou en vol water is, ook reeds vir hul grond vergoed en hervestig. Dié kommunale grond strek oor 'n gebied van 3 900 hektaar.
Vergoeding van N$955 727,16 is ingevolge die riglyne in die beleid op die vergoeding vir kommunale grond aan hulle betaal, sê Misika in 'n dokument wat vroeër vandeesmaand uitgereik is.
Misika sê die opsies was om hierdie kommunale boere na ander kommunale plase in die Berseba-gebied te verskuif, of om hulle op kommunale grond te hervestig.
Die dokument met hierdie inligting is uitgereik ná 'n berig in 'n weekblad waarin aangevoer is die Pohamba-administrasie van oudpres. Hifikepunye Pohamba het 'n flater begaan deur nie vóór die dam gebou is, die grond uit te koop nie.
Intussen blyk dit 'n ander transaksie wat die regering ook hoop om te beklink, kan dalk meer van 'n struikelblok wees.
Dit is naamlik om die luukse kamp te koop waar die konstruksiespan van nagenoeg 1 000 mense tans woon.
Dié kamp het benewens wooneenhede ook sy eie kliniek, sportterrein en gevorderde infrastruktuur vir watersuiwering en die behandeling van riool.
Dit is op die plaas Neckartal van mnr. Deodat Dirkse geleë.
EIENAAR REAGEER
Dirkse het gister aan Republikein gesê hoewel die regering reeds voelers na hom uitgesteek het, is die onderhandelinge nog in 'n baie vroeë stadium. Die kampterrein beslaan 'n gebied van sowat 8 ha op sy plaas.
Volgens hom het hy en Salini, die Italiaanse kontrakteursmaatskappy wat die dam bou, ooreengekom dat hy hulle nie huur sal vra terwyl hulle daar woon nie. In ruil daarvoor sal die infrastruktuur wat hulle teen 'n koste van sowat N$200 miljoen opgerig het, agterbly wanneer die dam klaar gebou is.
Dirkse sê sy plan is om dit in 'n lodge te omskep.
Hy sê in hierdie stadium is hy “nie eintlik gretig” om die grond met die kamp op aan die regering te verkoop nie.
“Hulle het nog glad nie vir my gesê waarvoor hulle dit wil gebruik nie. Ek wil nie 'n toestroming van mense na my plaas hê nie.”
Verder sê hy die regering het in elk geval baie lanklaas met hom oor dié kwessie in verbinding getree. “Ek het vroeg vanjaar van hulle gehoor en toe nooit weer daarna nie.”
Die regering het reeds sowat N$6 miljoen vir die Neckartaldam opgedok en nog N$623 miljoen is in die huidige boekjaar daarvoor begroot.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie