N$4,9 miljard vir hoofstad begroot
N$4,9 miljard vir hoofstad begroot

N$4,9 miljard vir hoofstad begroot

Altesaam N$61 miljoen is geoormerk vir die bou van nuwe huise en die aankoop van eiendom.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die voorsitter van die Windhoek-munisipaliteit se bestuurskomitee, mnr. Fillemon Hambuda, waarsku dat die stadsraad nie genoeg inkomste genereer deur die invordering van tariewe om sy bedrywighede en kapitaaluitgawes te dek nie.

Hy het Donderdag gesê die begroting van N$4,9 miljard is ingedien, en hulle wag op die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, vir goedkeuring.

Die munisipaliteit verwag om altesaam N$4,6 miljard in die 2021-'22-finansiële boekjaar in te vorder, sê hy.

Dit is 'n begrotingstekort van sowat N$453 miljoen.

Hambuda sê die tekort is weens waardevermindering en nie-kontantuitgawes ter waarde van sowat N$666 miljoen wat nie in die begroting verskyn nie. Dus toon die voorgestelde begroting 'n surplus van N$213 miljoen. Dit is gedeeltelik danksy N$8 miljoen statutêre fondse, en N$300 miljoen van verwagte grondverkope in die komende maande.

Alhoewel die oorgrote meerderheid munisipale tariewe nie verhoog sal word nie, kan inwoners verwag om 5% meer vir beide elektrisiteit en vullisverwydering te betaal.

Oor 'n verhoging in die tarief vir waterverskaffing, moet NamWater nog sy aanpassing op die grootmaat-tarief aan die munisipaliteit deurgee.

Inwoners wat van munisipale busse gebruik maak, kan verwag om 7% meer per rit te betaal, of 6% vir dié wat betaalkaarte gebruik.

Die N$4,4 miljard-bedryfsuitgawes waarvoor die hoofstad begroot het, bestaan uit 58% vir algemene uitgawes, 5% vir herstelwerk en instandhouding, 1% vir kapitaalfooie, 1% vir ander uitgawes en 35%, (sowat N$1,54 miljard) vir die betaling van 1 935 voltydse werknemers se salarisse.

Volgens Hambuda sal die munisipaliteit salarisverwante onkoste in die komende jaar ontleed “om te verseker dat ons menslikehulpbronne-kapasiteit ooreenstem met die hulpbronne wat nodig is om die strategiese en transformasieplan te kan implementeer.”

Hy sê die strategiese plan sal in 2022 tot 'n einde kom, en die munisipaliteit sal reeds dié jaar 'n nuwe strategiese en transformasieplan ontwikkel, om veral nedersettings te diens en terselfdertyd ook die hoofstad finansieel volhoubaarheid te maak.

Die voorgestelde begroting maak ook voorsiening om N$507 miljoen aan kapitaalprojekte te bestee.

Die munisipaliteit beplan om N$174 miljoen op elektrisiteitsinfrastruktuur te bestee, en nog N$104 miljoen op die opgradering van die stad se informele nedersettings.

Altesaam N$61 miljoen is geoormerk vir die bou van nuwe huise en die aankoop van eiendom.

Die munisipaliteit beplan om 100 bekostigbare huise in Goreangab uitbreiding 4 te bou.

Die beplanning vorder ook met die vooraf toekenning van erwe aan inwoners van informele nedersettings om die teiken van 5 000 begunstigdes teen Februarie 2024 te bereik, sê hy.

Verder word N$46 miljoen begroot vir water- en padinfrastruktuur, N$15 miljoen vir stedelike vervoerbeplanning, N$10 miljoen vir verbeterde wetstoepassing, N$20 miljoen vir infrastruktuur vir inligting en kommunikasietegnologie (ICT), N$5 miljoen vir begraafplase en markte en N$23 miljoen vir die vervanging van oortollige voertuie, sê hy.

'n Bykomende N$18 miljoen is vir ander projekte en N$30 miljoen vir gebeurlikheidsbesteding begroot.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!