N$53 miljoen Rundu-kraameenheid gesluit
N$53 miljoen Rundu-kraameenheid gesluit

N$53 miljoen Rundu-kraameenheid gesluit

Dit was gesien as ’n uitkoms vir swanger en nuwe ma’s wat tevore op vloere in gange moes lê en matrasse moes deel, maar nou is die saal gesluit net vier maande nadat dit geopen is.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe – Net vier maande nadat die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, ’n kraamsaal ter waarde van N$53,6 miljoen by die Rundu-staatshospitaal geopen het, het die moderne eenheid in onbruik verval.

Die geriewe was veronderstel om ’n uitkoms te bied vir swanger en nuwe ma’s wat tevore noodgedwonge op vloere in gange moes lê en matrasse moes deel.

Die kraamsaal is op 20 November 2020 ingehuldig, vyf dae voordat Namibiërs na die stembusse vir die plaaslike en streeksregeringverkiesings. Sommige het die inwyding gesien as ’n verkiesingsfoefie, terwyl ander gereken het die gebou was nog nie reg om in gebruik geneem te word nie.

Tydens ons susterkoerant Namibian Sun se besoek was die deure van die saal gesluit en die gebou verlate.

Die nuwe kraamsaal bestaan uit twee teaters, sale vir voor- en nageboortepasiënte, ’n neonatale eenheid, ’n isolasie-eenheid, behuising vir ma’s, kantore en spreekkamers.

Dr. Shangula het by navraag gesê die rede vir die sluiting en waarom die kraamsaal nog nie operasioneel is nie, is weens ’n gebrek aan voldoende mediese suurstof in die eenheid.

“Die eenheid is aanvanklik gebruik, maar ná ’n tyd is ’n probleem met die mediese suurstof ondervind. Nou kan hulle nie pasiënte hanteer nie,” het hy gesê.

Volgens Shangula het die aanvanklike plan om suurstofsilinders te gebruik, gefaal. ’n Kontrak is aan ’n maatskappy toegeken wat ’n mediese suurstoftenk op die perseel sal installeer. Sodra die installering voltooi is, sal suurstof in die eenheid beskikbaar wees. Die minister wou nie die waarde van dié kontrak verklap nie, maar na bewering sal die maatskappy wat die suurstoftenk bestuur, miljoene hieruit verdien.

Volgens Shangula het die betrokke maatskappy bykomende tyd gevra om die installering te voltooi, omdat hulle nog vir onderdele wag wat eers volgende maand beskikbaar is.

Tydens die inhuldiging verlede jaar het ’n begeesterde Shangula gesê die projek sou aanvanklik teen Julie 2015 teen ’n beraamde koste van N$44,8 miljoen gebou word. Aanvanklik is N$28 miljoen vir die eenheid begroot. Volgens die minister is die voltooiingsdatum tot April 2016 verleng, maar die begrote bedrag was onvoldoende om die uitstaande werk te voltooi.

Die eenheid is uiteindelik verlede jaar teen ’n beraamde koste van N$53,6 miljoen voltooi. Met bykomende werk wat nou vir die suurstoftenk vereis word, moet egter nog meer geld in die projek ingepomp word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!