N$8,2 miljoen se bedrog het 15 in hof
N$8,2 miljoen se bedrog het 15 in hof

N$8,2 miljoen se bedrog het 15 in hof

Estelle de Bruyn
Die 15 gesondheidsbeamptes wat verbind word met bedrog ten bedrae van N$8,2 miljoen by die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste, het Woensdag in die hof op Otjiwarongo verskyn.
Die verdagtes is Lucresia Matsuis, Namboa Jenneveva, dr. Esther Namwandi, Andrew Neidel, Frieda Fillemon, Engine Sawas, Josephine Lifumbela, Berreldine Narib, Christine Ndeutapo, Laurentia Narubes, Temos Mutewa, Sana Dauses, Magdalena Horases, Victoria Hases en Selma Hindulua. Die verdagtes sluit verpleegsters, skoonmakers, ambulansbestuurders, boekhouers en ’n staatstandarts in.
Al 15 is Woensdagoggend in hegtenis geneem nadat die polisie se eenheid vir ernstige misdaad ’n intensiewe ondersoek afgehandel het. Dié ondersoek is reeds in Mei 2014 deur die streekdirekteur van gesondheid geopen.
Hulle het voor landdros Helvi Shilemba verskyn, wat verduidelik het dat hulle die reg het om ’n regsverteenwoordiger van hul keuse aan te stel.
Hulle kan ook, deur middel van die ministerie van justisie se direktoraat regshulp, aansoek doen om ’n regsverteenwoordiger om hulle te verdedig.
Dertien van die beskuldigdes het aangedui dat hulle private regsgeleerdes sal aanstel en twee het verkies om deur regsgeleerders verteenwoordig te word wat deur die staat voorsien word.
Die staatsaanklaer, mnr. Johannes Nunuheb, het borgtog sterk teengestaan. Hy sê hulle mag met die polisie se ondersoek inmeng en vanweë die erns van die klagte teen hulle, moont­lik ook op die vlug slaan.
Borgtog is geweier en die verhoor is tot 13 Oktober uitgestel sodat hulle regsverteenwoordiging kan kry en die polisie die saak verder kan ondersoek.
Die hof het diegene wat vóór 13 Oktober vrygelaat wil word, aangeraai om formele aansoeke om borgtog voor hul volgende verskyning in te dien.
Die 15 word in die polisieselle op Okakarara aangehou.
Volgens die waarnemende polisiebevelvoerder van die Otjozondjupa­streek, adjunkkommissaris Gerhard Uataurua Mavenjono, is die meeste van die beskuldigdes langdienende lede van die ministerie in die Grootfontein-, Otjiwarongo- en Okahandja-­gesondheidsdistrik.
Dit word beweer dat die verdagtes telkens vals reis- en oortydeise ingedien het vir reise wat hulle nooit onderneem het nie.
Die eise is suksesvol geprosesseer en die geld is in hul bankrekeninge inbetaal. Voorlopige ondersoeke deur die polisie dui daarop dat sommige van die verdagtes geld in die bankrekeninge­ van twee boekhouers by die streekkantoor op Otjiwarongo inbetaal het.
Die “sindikaat” was vermoedelik tussen Junie 2006 en Januarie 2014 aktief.
In Februarie 2014 is die twee boekhouers van die streekkantore van die departement van gesondheid in die Otjozondjupastreek na die Otjiwarongo-distrikshospitaal oorgeplaas, waar hulle tydelik gewerk het. Die verplasing was daarop gemik om ondersoek na die vermeende bedrog in te stel. -Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!