N$8,3 miljard vir dorstige watersektor
N$8,3 miljard vir dorstige watersektor

N$8,3 miljard vir dorstige watersektor

Na verwagting sal een miljoen mense direk by die program baat, terwyl dit indirek tot voordeel van nog 250 000 sal strek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – ’n Reuse-inspuiting van sowat N$8,31 miljard oor die volgende sewe jaar in Namibië se watersektor moet ingespan word vir onder meer die ontwikkeling van die Ohangwena II- en Abenab-akwifers.

Tydens die virtuele bekendstelling van die Namibië Watersektor Ondersteuningsprogram (NWSSP) afgelope Donderdag het minister Calle Schlettwein van landbou, water en grondhervorming gesê die mikpunt van die program is volhoubare waterverskaffing en verbeterde toegang tot veilige drinkwater vir menslike gebruik en vir nywerhede.

Nog projekte wat ingevolge die program van stapel gestuur sal word, sluit in die uitbreiding van watersuiweringsgeriewe op Rundu en Oshakati.

Schlettwein sê die regering het in Junie 2020 ’n leningsooreenkoms met die Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB) asook die Afrika Ontwikkelingsfonds onderteken, wat oor vier jaar in werking gestel moet word.

Die ooreenkoms bestaan uit ’n lening van meer as N$1,8 miljard (N$1 893 024 000) asook N$51 666 477 vir ’n landelike waterverskaffing- en sanitasie-inisiatief, het hy gesê.

Volgens Schlettwein het die Duitse Ontwikkelingsbank (KfW) reeds sowat N$870 miljoen voorsien, terwyl die Namibiese regering ook N$2,3 miljard se finansiering vir die projek sal bied.

Schlettwein sê daar sal op landelike en dorpsgebiede in die sentrale, sentrale noordelike, suidelike en oostelike dele van die land gefokus word en beduidende belegging in water- en sanitasie-infrastruktuur word beoog. Hy het bygevoeg die water moet steeds bekostigbaar vir verbruikers wees.

Hy sê sowat een miljoen mense sal direk by die program baat, terwyl nog 250 000 mense indirek voordeel daaruit sal trek.

“Die program sal hoofsaaklik tot voordeel strek van bevolkings in Ohangwena, Kavango-Wes en -Oos, Oshikoto, Zambezi, Khomas, Oshana, Omaheke en Omusati, asook in gebiede wat dringend hulp kort, soos die Kunene- en ||Kharasstreek,” het hy gesê.

VIER PROJEKTE

NamWater se uitvoerende hoof, mnr. Abraham Nehemia, het by die geleentheid gesê NamWater is besig met die implementering van vier projekte onder die NWSSP-program.

Dit sluit in die uitbreiding van beide die Rundu en Oshakati watersuiweringsaanlegte, die ontwikkeling van die Ohangwena II- en Abenab-akwifer asook laasgenoemde se verbinding met die oostelike waterkanaal (ENWC).

Die Ohangwena II-projek behels dat bestaande waterstelsels met die akwifer verbind en die Omafo-Eenhana en Omakango-Onambutu-Eenhana waterskemas opgradeer moet word. Dié projek sal in Januarie 2024 van stapel gestuur word.

’n Grootskaalse ontwikkeling vir die onttrekking en versameling van ondergrondse water uit die gebied tussen Abenab en Tsumeb, sal ook in Maart 2028 begin. “Dis om die – tot dusver onontginde – bron in te span om water aan sentrale dele van Namibië te voorsien,” het Nehemia verduidelik.

Die Rundu-aanleg, wat die einde van sy leeftyd bereik het, moet opgradeer word sodat dit 40 000 kubieke meter water per dag kan suiwer en sal in Januarie 2025 van stapel gestuur word. Die Oshakati-aanleg se kapasiteit moet verdubbel word deur ’n tweede aanleg te bou wat nog 50 000 m³ water per dag kan suiwer.

Laasgenoemde projek sal na verwagting teen November 2024 van stapel gestuur kan word.


FOTO
Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein. FOTO NAMPA

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!