Naamskender is skuldig
'n Dokter in Mariental se reputasie is verwoes ná 'n plasing in 2018 in die sosiale media wat hom van mediese nalatigheid beskuldig het.
Jana-Mari Smith – 'n Dokter van Mariental het 'n lastersaak gewen teen 'n man wat in November 2018 negatiewe opmerkings oor hom in die sosiale media gemaak het.
Die man het dr. Berit David Platt, die hoof- mediese beampte in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in die Hardapstreek, in 'n Facebook-plasing beledig en van die onetiese hantering van 'n “ou vrou”, arrogansie en mediese nalatigheid beskuldig.
Hoërhofregter Nate Ndauendapo het ten gunste van Platt beslis en het die verweerder, Arnoldus (Sydney) Apols, beveel om N$20 000 in skadevergoeding te betaal.
Die regter het Apols as “arrogant” beskryf en het in sy uitspraak sy verweer verwerp – dat hy geen ander opsie gehad het as om sy klagtes op Facebook te plaas nie.
“Facebook is 'n kragtige instrument wat deur mense soos die verweerder (Apols) gebruik word om die reputasie van onskuldige mense te verwoes en die enigste uitweg vir diegene wat gegrief word deur sulke kwaadwillige en lasterlike plasings en twiets, is om die howe vir toepaslike verligting te nader,” het Ndauendapo in sy sterk bewoorde uitspraak gesê.
Apols het erken hy was nie teenwoordig toe die beweerde voorval gebeur het nie en dat hy, op grond van hoorsê, die dokter as arrogant en oneerbiedig beskryf het.
Ondanks die hof se beslissing dat Apols die plasing moet verwyder en 'n openbare verskoning op die platform moet deel, kan die plasing nooit permanent van Facebook verwyder word nie.
Teen Woensdag, 'n dag nadat die uitspraak aanlyn gepubliseer is, is die boodskap reeds meer as 120 keer gedeel en die tientalle kommentare – insluitend 'n beroep op Apols om die dokter fisiek aan te rand – was steeds openbaar.
Apols het hom in die plasing daarvan beskuldig dat hy “'n ou vrou beledig het. . ., nadat hy vir haar 'n inspuiting gegee het, wat volgens haar sterk was en haar duiselig gemaak het (sic).”
Apols het ook geskryf dat die Mariental-huisarts glo sekuriteitswagte beveel het om kliënte “uit sy praktyk te dryf” en beweer hy het “gehoor van sy arrogansie (sic) en gebrek aan respek teenoor sy kliënte.”
Platt het Apols in Maart 2019 vir N$100 000 gedagvaar.
SKADE
Ndauendapo het in sy uitspraak gesê Platt kon tydens die verhoor bewys dat Apols geweet het sy beskuldigings op Facebook sou 'n “onmiddellike, grenslose en wydverspreide” impak hê.
Die regter het tot die gevolgtrekking gekom die voortgesette verspreiding en sigbaarheid van die plasing het “geweldige skade” aan Platt se reputasie aangerig. Twee jaar ná die plasing is die skade steeds merkbaar.
Platt het tydens die verhoor gesê hy het ná die Facebook-plasing 'n skerp daling opgemerk in die aantal pasiënte wat sy praktyk besoek en hy het dreigemente ontvang dat hy met messe aangeval sou word.
Hy het getuig ander mediese beroepslui het ná die plasing met hom in verbinding getree en hul kommer uitgespreek.
“Wat verswarend is, is die verweerder (Apols) se gedrag toe hy getuig het. Hy was arrogant en het sy plasing probeer regverdig. Hy het ook getuig dat hy, ondanks die dagvaarding, nie van plan is om die plasing te verwyder nie,” het Ndauendapo gesê.
Volgens die uitspraak kon Apols – in plaas daarvan om in die sosiale media te kla oor 'n voorval wat hy nie persoonlik aanskou het nie – vir Platt by die gesondheids- en tandheelkundige raad vir wangedrag aangegee het.
Me. Frieda Schulz van Neves Legal Practitioners het Platt verteenwoordig en mnr. Tukondjeni Nanhapo van Brockerhoff & Associates vir Apols.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie